Die sentrum is die eerste in sy soort in die Wes-Kaap wat toegelaat word om inheemse voëls, soogdiere en reptiele te rehabiliteer en weer in die natuur vry laat om herintegrasie in hul natuurlike habitats te verseker.
Dit is ook ’n kritieke toevlugsoord vir wees- en beseerde bloukraanvoëls.
Die opening van die Kogelberg-biosfeer se wildredding-en-opleidingsentrum is deel van die provinsie se voortgesette pogings om natuurbewaring uit te brei en om kritieke sorg aan beseerde en verplaaste wild te bied. Die sentrum poog ook om die toenemende impak van menslike aktiwiteite op die streek se biodiversiteit die hoof te bied.
Die sentrum is binne die Kogelberg-biosfeer, die oudste in Suid-Afrika, geleë. Dit is in 1998 as ’n Unesco-biosfeerreservaat verklaar. Dit beslaan nagenoeg 100 000 ha, wat seldsame fynbos, vleilande en uiteenlopende wild insluit. Dit strek vanaf Kleinmond tot by Gordonsbaai, en sluit die binnelandse dorpe Grabouw en Botrivier in.
Ongekende bedreigings
“Ons is ongelooflik trots om die eerste sentrum in sy soort in die provinsie te wees wat ons natuurlike wêreld op hierdie wyse kan dien,” sê Corlie Hugo, koördineerder van die Kogelberg-biosfeer.
“Hierdie inisiatief kon nie op ’n meer kritieke tydstip gekom het nie, aangesien die biodiversiteit voor ongekende bedreigings op verskeie fronte staan.”
Volgens haar het die verwoestende brande in 2022 in die Kleinmond-gebied die dringendheid van wildredding beklemtoon. “Mense het gedurende die brande onvermoeid gewerk om skilpaaie, verkleurmannetjies en ander kwesbare diere te red wat in die vlamme vasgekeer was. Dit was toe dat ek besluit het om my jare lange droom om ’n rehabilitasiesentrum te vestig, te verwesenlik.”
Sy het Michelle Watson, ’n gesertifiseerde wildrehabiliteerder en een van die eerste Suid-Afrikaners wat deur die Internasionale Wildrehabilitasieraad geakkrediteer is, ná die brande gekontak. Watson lei onder andere mense op wat eerste op wildredding reageer.







