Internasionaal

Bozell: SA loop gevaar om muishondstaat te word

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Leo Brent Bozell III Leo Brent Bozell III, Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Dinsdag in ’n onderhoud met Netwerk24. (Gert van der Westhuizen)

Suid-Afrika loop die gevaar om ’n muishondstaat te word as hy nie ’n werklik onverbonde buitelandse beleid volg nie en hy aanhou om voorkeurbehandeling aan die VSA se teenstanders te gee, sê Leo Brent Bozell III, Amerika se ambassadeur in Suid-Afrika.

Dit help veel dat Suid-Afrika wys hy wil nie ’n vennootskap met die VSA hê nie, het Bozell Dinsdag in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê.

Hy het herhaal dat verdere stappe teen Suid-Afrika kan volg ná die VSA se aankondiging van visumbeperkings op sekere Suid-Afrikaners. Hy wou nie uitwei oor die aard van dié stappe nie. Hy wou ook nie sê op wie die visumbeperkings van toepassing sal wees nie, omdat dit volgens hom strydig met Amerikaanse wetgewing is om name te noem.

Bozell het in die onderhoud verwys na Suid-Afrika se verhouding met Iran, wat die VSA nie aanstaan nie. Hy het weer laat blyk dat hy ’n sterk ondersteuner van Israel is.

Bozell sê as Suid-Afrika nie gehoor gee aan die VSA se sogenaamde vyf “asks” nie, sal hy ’n muishondstaat wees.

Hy wil egter nie so ver gaan as om te sê Suid-Afrika sal dan as ’n vyandige staat beskou word nie. As “ewige optimis” glo hy dat die betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA herstel kan word.

Dit is nie so moeilik om aandag aan die vyf eise te gee nie, sê hy, en dit het nie ten doel om Suid-Afrika se soewereiniteit te ondermyn nie, maar die regering ignoreer dit heeltemal.

  1. Benewens onverbondenheid met buitelandse beleid wil die VSA hê pres. Cyril Ramaphosa moet die lied “Kill the Boer” in die openbaar veroordeel, dat plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad verklaar moet word, dat die mynbou- en telekommunikasiesektor van sommige vereistes van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging vrygestel moet word, en dat daar duidelikheid verkry moet word oor die onteiening van eiendom.