Nuus

Van sweiser tot rugbyster: Blitsbok Shilton van Wyk se pad van Saldanha na groen en goud

Die Saldanhabaaier Shilton van Wyk in aksie. Hy is onlangs as SA Rugby se Springbok Sewes Manspeler van die Jaar aangewys.
Die Saldanhabaaier Shilton van Wyk in aksie. Hy is onlangs as SA Rugby se Springbok Sewes Manspeler van die Jaar aangewys. (Foto: Gallo Images/Getty Images)

Van werk as ’n sweiser in die Weskus-dorpie Saldanha tot internasionale rugby-sterstatus. Shilton van Wyk deel sy reis na groen en goud.

Hy het eers gedink dis ’n grap. Hy was immers al voorheen benoem vir die toekenning en het nie toe gewen nie, so toe sy bestuurder vir hom sê hy moet ‘n dankie-sê-boodskap voorberei, het hy gedink dié trek sy been. Met soveel sterspelers in die groep, hoekom sou hý die een wees wat wen? het Shilton van Wyk (26) gewonder.

Maar dit was geen grap nie. Shilton is aangewys as die Springbok Sewes se Manspeler van die Jaar by die onlangse SA Rugbytoekennings – en omdat hy oorsee met die span was, moes hy sy toespraak opneem. Dis toe by die groot aand voorgelees. “Ek was geskok, maar superbly toe ek hoor ek het gewen,” sê dié talentvolle en veelsydige speler, wat die ding op die rugbyveld laat ruk in verskillende posisies in die agterlyn.

Sy toekenning is ‘n bewys van Shilton se toewyding aan die spel wat hy reeds as ‘n klein seuntjie liefgekry het. Sy spoed, ratsheid en skills met drieë aanteken, het hom ’n staatmaker in die Sewes-groep gemaak.

En daai vaardighede was op full display toe hy die wendrie gedruk het wat die Blitsbokke hul derde HSBC SVNS-reekstitel besorg het toe hulle onlangs vir Spanje met 38-12 in Vancouver, Kanada, verpletter het.

“Elke oorwinning is anders, maar elke keer as ons wen, is dit exciting en dit dryf die span om harder te werk,” sê hy kort ná sy terugkeer uit Kanada by sy ouerhuis in Saldanhabaai aan die Weskus.

Dié huis se binnemure getuig van Shilton se suksesse, met geraamde foto’s wat sy rugbyloopbaan dokumenteer, sy Olimpiese T-hemp van 2024, sy eerste internasionale trui en sy Blitsbok-debuutpet wat daarteen pryk. Verskeie trofeë en drie rugbyballe getuig van sy ouers, Coby en Blance, se trots.

Shilton met sy ouers, Coby en Blance, by hul huis in Saldanhabaai.
Shilton met sy ouers, Coby en Blance, by hul huis in Saldanhabaai. (Foto: ER Lombard)

“In die early days het my ouers my oral rondgery en alles voorsien wat ek nodig gehad het,” vertel hy. “En nou, jare later, sien hulle hoe ek al my prestasies behaal.”

Shilton is reeds terug in die oefenkamp en berei voor vir die laaste drie toernooie van die HSBC SVNS-seisoen in Hong Kong, Spanje en Frankryk. “Ons sal voortgaan met hoe ons gespeel het, en nog beter doen om die winning streak voort te sit.”

Hy hoop sy reis, wat hom van die klein Weskusdorpie na stede die wêreld oor geneem het, sal ander jong atlete motiveer. “Ek wil hê hulle moet sien dat as jy gefokus bly op wat jy wil bereik en hard werk, is enigiets moontlik. Maak nie saak waar jy vandaan kom nie.”

Shilton was nog altyd passievol oor sport, en het rugby en sokker gespeel by St. Andrews Primêr op die dorp. Hy het sy naweke by die Saldanha Hero’s-sokkerklub deurgebring. Reeds op laerskool het hy besluit rugby is sy gunstelingsport, en hy’t hard gewerk om sy vaardighede te slyp.

Sy pa, Coby, ‘n voormalige Sea Harvest-werknemer, het die Sea Harvest-stigting genader vir befondsing en hul ondersteuning om te verseker dat Shilton kon deelneem aan toernooie en ontwikkel as ‘n speler.

Ná laerskool het hy aan die Weskus Vaardigheidskool gestudeer, en toe ’n twee jaar lange break gevat van rugby om op sy skoolwerk te fokus. Nadat hy in 2017 gematrikuleer het, het hy ingeskryf by die Weskus Kollege se Vredenburg-kampus om sweiswerk te studeer, en aangesluit by die Saldanhabaai-rugbyklub.

Ná drie maande se studies het die klub se hoofafrigter, Mornay Kurtz, vir hom ’n werk by sy sweisonderneming, MCK Engineering, gegee. “Ek het my studies, werk en rugby als op een slag gedoen.”

Speel sy drome los

Sy groot deurbraak het gekom tydens die eerste Saldanhabaai Super 8 Easter-rugby- toernooi in 2018. “Dit was die keerpunt vir my,” sê hy. “Die toernooi is op YouTube gewys en dis waar baie mense gesien het hoe goed ek gespeel het.”

Later daardie jaar het hy die Boland Rugby-amateurspan gehaal, ’n ontwikkelingsgroep wat streekspelers voorberei vir moontlike bevordering na die Boland Kavaliers. Die volgende jaar het Shilton begin met voorseisoen-oefening vir die Kavaliers. “Ek het aan die begin skaars 15 minute op die veld gekry en begin hoop verloor, maar toe stadig maar seker meer speeltyd gekry.”

Wanneer dit moeilik raak, herinner ek net my-self daaraan dat ek dit vir my kinders doen.

—  Shilton

Hy het sy provinsiale debuut in die SuperSport Rugby Challenge gemaak en vyf drieë in agt wedstryde gedruk, en sy span gehelp om die halfeindronde te haal. Sy rugbyvernuf het gelei tot ’n ses maande-kontrak met die Boland Kavaliers, en hy’t sy studies laat vaar om op rugby te fokus.

Shilton het daardie jaar in die Currie Cup First Division gespeel en die voormalige Springbok-Sewesafrigter Marius Schoeman het hom tydens oefensessies in aksie gesien. “Hy het met my pa gepraat terwyl ek gewonder het wie hy was. Ek het destyds geen idee gehad nie,” vertel Shilton.

Twee weke later het Marius teruggekeer om hom ’n twee jaar lange Blitsbok-kontrak aan te bied. “Ek was superbly, want my Boland-kontrak het einde se kant toe gestaan.” Hy het toe op 1 September 2019 by die Blitsbokke aangesluit.

Die dag voor sy internasionale debuut in Dubai vir die Emirates Dubai Sevens in 2021 is een wat hy nooit sal vergeet nie. “Die span het ’n spesiale ritueel wanneer ‘n nuwe speler hul truinommer kry: Al die spanmaats sit hul hande op dié spelers om te wys dat hulle verenig is, en om die speler gerus te stel dat die span hom ondersteun,” sê hy. “Dit was ’n amazing experience.”

Soos die jare gevorder het, het sy vaardighede ook verbeter. Maar tussen 2023 en 2024 was die span aan die verloorkant en daar was ’n kans dat hulle nie vir die 2024 Olimpiese Spele sou kwalifiseer nie. “Dit was beslis die wake-up call wat ons nodig gehad het. Ons het die Olimpiese Spele as underdogs betree, so ons moes aan die wêreld bewys dat ons daar hoort.”

Sedertdien het die Blitsbokke oorheers en in Mei laas jaar die Wêreldkampioen-skapstitel in Los Angeles gewen, die HSBC SVNS Kaapstad in Desember, en die Perth Sevens in Februarie vanjaar. “Al hierdie oorwinnings het die span se selfvertroue versterk en ons trots herstel om die groen en goud te dra.”

Shilton met sy broer, Colan. Hy wil jongmense wys as jy gefokus bly op wat jy wil bereik en hard werk, is enigiets moontlik, vertel hy.
Shilton met sy broer, Colan. Hy wil jongmense wys as jy gefokus bly op wat jy wil bereik en hard werk, is enigiets moontlik, vertel hy. (Foto: ER Lombard)

Van die veld af dra Shilton baie hoede. In 2023 het hy ‘n nie-winsgedrewe organisasie gestig wat sy naam dra, om terug te gee aan die gemeenskap deur jeugontwikkeling, bystand aan skole, hawelose-skuilings, hospitale en rugbyklubs.

Een suksesvolle projek was die Shilton van Wyk 7s-toernooi in 2024, waar jong spelers om kontantpryse meegeding het. Alhoewel hy wil hê die toernooi moet ‘n jaarlikse geleentheid wees, bly befondsing ‘n uitdaging. “Die eerste een het goed afgeloop, maar verlede jaar moes ons dit kanselleer omdat ons nie genoeg borge gekry het nie en ek nie in ‘n finansiële posisie was om alles te dek nie.”

Shilton se ander gunstelingrol is om ‘n pa te wees vir sy seun, Noah (2), en dogter, Skylar (6).
Shilton se ander gunstelingrol is om ‘n pa te wees vir sy seun, Noah (2), en dogter, Skylar (6). (Foto: ER Lombard)
Shilton se ander gunstelingrol is om ‘n pa te wees vir sy seun, Noah (2), en dogter, Skylar (6).
Shilton se ander gunstelingrol is om ‘n pa te wees vir sy seun, Noah (2), en dogter, Skylar (6). (Foto: Facebook/Exco Member Andrè Truter)

Hy berei egter reeds voor vir vanjaar se geleenthede, en oor die volgende paar maande sal die stigting ‘n skooltoernooi en afrigtingskliniek in Saldanha aanbied.

Shilton besit ook ‘n besigheid wat tyres herstel en verkoop wat sy broer, Colan, bestuur. Maar sy betekenisvolste rol is dié van pa-wees vir sy en sy meisie, Erin, se kinders, Noah (2) en Skylar (6).

Dis moeilik om weg van sy kinders te wees, maar sodra hy weer tuis is, bring hy elke minuut saam met hulle deur. “Wanneer dit moeilik raak, herinner ek myself net daaraan dat ek dit vir hulle doen.”