Ses jong sangers wat in Kaapstad Opera (KO) se Judith Neilson-program vir jong kunstenaars ingeneem is, mag dalk oor ’n paar jaar op plakkate in die buiteland verskyn.
Dié beursprogram rus “uitsonderlik begaafde” nagraadse operasangers toe vir die strawwe vereistes van ’n professionele loopbaan op plaaslike en internasionale verhoë.
Die sangers kry formele afrigting, eerstehandse ervaring, persoonlike ondersteuning en artistieke leiding onder die wakende oog van mentors. En aan die einde van die maand ontvang hulle ’n toelae. Dit is die enigste instansie in die land wat dié geleentheid bied.
Jan Hugo, KO se repetiteur en stemafrigter, is aan die hoof van die program.
Die nuwe groep sangers kom uit verskeie oorde. Die tenore Dumisa Masoka, Iviwe Boms, Thandolwethu Longo en die mezzosopraan Nica Reinke het aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se Operaskool studeer, en Rethabile Khaile, ook ’n mezzo, aan die Noordwes-Universiteit. Die basbariton Thabo Mabuse is van Lesotho.
Hulle sluit aan by die huidige jong sangers Khayakazi Madlala en Sisikelelwe Mngenela wat verlede jaar goeie ervaring opgedoen het in die operas Aïda, Orpheus McAdoo en Die Barbier van Sevilla.
’n Sanger wat die program deurloop het en reeds groot hoogtes in die internasionale operamilieu bereik het, is die sopraan Cecilia Masabane Rangwanasha. Sy het geskiedenis gemaak as die eerste Afrika-sanger wat die Liedprys in die BBC-kompetisie Cardiff-sanger van die wêreld in 2021 gewen het. In 2024 het sy met haar stralende stem die gesogte Herbert von Karajan-prys verower, en verlede jaar het sy haar buiging in die Metropolitan-operahuis in New York gemaak. Sy het ook konsert-optredes gegee saam met die Los Angeles- en Londense Filharmoniese Orkes, asook Brittanje se Koninklike Filharmoniese Orkes.
Kaapstad Opera is 27 jaar gelede gestig en is die enigste deurlopend aktiewe operageselskap in Afrika. Elke jaar bied die geselskap van groot operas, musiekspele en toerproduksies tot opvoerings vir kleuters en opvoedkundige programme vir leerlinge aan.
Vanjaar word Bizet se opera Carmen in die Kunstekaap aangebied, A Little Night Music in Theatre on the Bay, The Cunning Little Vixen in die Joseph Stone-ouditorium, Haydn se Nelsonmis in die Paarl se Toringkerk, en Roméo et Juliette in die Kunstekaapteater. – elretha.britz@media24.com












