Buitelewe

Lanterns | Die bos se liggies

Om sonder ’n lig te kampeer is omtrent soveel pret soos ’n relegasiewedstryd tussen die Leeus en die Luiperds. As jy koop, maak seker jy kies die regte lantern, want elke tweedehandse onderdelewinkel bied ’n paar Chinese specials.

1. COLEMAN DUAL-FUEL-LANTERN

Aha, hier’s nou ’n lig vir die ware lantern-entoesias. Jy maak sommer vol met petrol (loodvry, asseblief) of bensien.

Ja, hy’s ’n bietjie meer moeite as ’n batterylig, en ja, jy kan die tent afbrand as jy te geswael raak, maar hy’s ideaal vir langer bosvakansies, want jy’t g’n batterye nodig nie.

Dié Coleman werk soos ’n kruising tussen ’n Primus-stofie (jy moet hom pomp om druk op te bou) en ’n gaslamp (dit werk met twee van daai gas-ligsakkies).

Die ding is so helder (dis gelykstaande aan 180 W) dat jou buurman gaan dink jy sweis.

Prys? Sowat R995

Kontak? Coleman

011 315 0223; WegRy sê: Vat maar ’n goeie klompie ekstra sakkies saam, want die sakkie in die lig kom lelik tweede op ’n sinkplaatpad in die Kgalagadi.

2. LED LIGHT BAR

Dis nou nie ’n lantern nie, maar dié 10 cm lange strook LED-ligte kan op enige plek vasgeplak word – teen jou bakkie se kappie, onder die afdak of binne die sleepwa.

Dis basies – jy kort net elektriese draad en krokodilklampies om dit aan die battery te koppel, en tweekantige kleefband om dit iewers vas te plak.

Die lig skyn skerp en die kragverbruik is belaglik laag – net 0,1 A! Dit beteken jy kan dit ’n hele maand – dag en nag – van ’n diepsiklusbattery laat loop.

Prys?

R145

Kontak? Safari Centre

021 595 3910;

WegRy sê: Die Chinese gee g’n geld terug as jy dit uitbrand nie, en jy moet dus mooi konsentreer en die klampies aan die regte batterypole koppel. Rooi is mos positief?

3. ENERGIZER TREKKER LED-VOULANTERN

Energizer reken dié Trekker LED-batterylantern kan 245 uur brand

met vier groot (D) hoë­gehaltebatterye, soos Energizer Max.

Vat dit met ’n knippie sout, maar as jy genoeg batterye saamvat, werk sulke batterylanterns goed op ’n plek waar daar nie Eskom-krag is nie.

Hy’t drie ligverstellings – sterk, flou en naglig (’n sagte oranje liggie vir kinders wat met ’n lig aan wil slaap). Die paneeltjie met LED-lampies kan vertikaal 180 º flap, sodat jy dit kan gebruik as ’n leeslamp, ’n eetlig of om wyd lig te gooi.

Hy’t ook ’n handvatsel sodat jy hom kan saampiekel as jy gaan tuin natmaak.

Prys? Sowat R220

Kontak? Energizer

011 802 2424;

WegRy sê: Onthou dat jy met ’n 12 V/220 V-kragomsetter herlaaibare batterye met ’n karbattery kan laai (’n 150 W-model kos sowat R450).

4. ULTRATEC 24-LED-LANTERN

Lanterns met hul eie herlaaibare batterye is soos die Stormers: soms is hulle puik, en ander kere laat hang jy jou kop in skaamte.

Die probleem is die soort battery. As jy hom nie gereeld laai nie, gaan hy vir altyd dood, en dan’s dit sommer ook die einde van die lantern.

Dié UltraTec-lantern het egter ’n baie goeie reputasie. Die maatskappy wat dit invoer, kan ook vir jou ’n ekstra battery gee.

UltraTec stel voor jy herlaai die batterye ná elke kamp, en ook elke twee maande as dit gebêre word.

Die lantern word verkoop met 12 V- en 220 V-laaiers, en jy kan dit dus in jou voertuig of by die huis se hoofkrag herlaai.

Prys? Sowat R200

Kontak? Lite Optec

011 462 6986;

w

WegRy sê:

Die probleem is dat g’n mens elke twee maande onthou om die kamp¬lig se battery te herlaai nie. Die oplossing is om meer te kamp!

5. OUTWELL ACRUX-LANTERN OF HANGLAMP

Onthou jy die Springbok-skrummie Divan Serfontein? Klein maar stérk. Nes dié liggie wat net groter as ’n blikkie Coke is.

In die helder kant sit die 12 LED-gloeilampe en in die swart kant die batterye. Gebruik dit soos ’n gewone lantern op die tafel of by die braaiplek, of hang dit op met die uitvouhaak – dis lig genoeg om aan jou afdak, ’n tak of selfs in ’n daktent te hang. Dit vat drie AA-batterye, en hou vir omtrent 20 uur.

Prys? R109

Kontak? Camp and Climb

021 510 8112;

WegRy sê:

Herlaaibare batterye is nie so sterk soos Duracell-batterye nie, maar dit werk uiteindelik tien maal goedkoper uit.

6. ULTRATEC-KAMPLANTERN MET AFSTANDBEHEER

Hoekom sou jy nou neuk met ’n afstandbeheer in die bos? Jy’t dan júis jou DStv-verslawing in die stad agtergelaat.

Wel, sê nou maar jy lê in jou slaapsak en jy hoor ’n hiëna? Of jy kom van ’n wildrit af terug en ’n gaboenadder wag vir jou in die donker tent? Of jy’t gaan piepie en ’n skerpioen het onder jou warm matras ingekruip? Of miskien is jy net lui.

Jy kan die lantern herlaai met jou voertuig se battery of 220 V-huiskrag.

hey?

Prys? Sowat R300

Kontak? Lite Optec

011 462 6986;

WegRy sê:

Die reikafstand van die afstandbeheer is 8 m – groot genoeg vir selfs die grootste tente.

Oorspronklik gepubliseer in WR#20 | Augustus-September 2010

Nadine Thomson

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM