
ONDER REDAKSIE VAN SAM REINDERSGoeie foto’s word nie bloot geneem nie – dit word geskep. Net soos ’n goeie dirigent moet ’n goeie fotograaf alles onder beheer hê om die verlangde resultaat te kry: Beheer oor die lig, die komposisie en selfs die voorwerp.Veral lig en komposisie is belangrik. Waar jy ook al is – of jy met ’n peperduur langlenskamera, mik-en-druk of jou slimfoon ’n foto neem – jy moet dié twee elemente bemeester.In dié portefeulje het die bewaringsfotograaf Neil Aldridge kleur weggelaat en gefokus op lig en komposisie. Die eindresultaat is foto’s wat lyk asof hulle in ’n ateljee geskiet is – eenvoudig, dramaties en mooi.Neil se raad vir goeie swart-witfoto’s? Bestudeer die werk van bekroonde fotograwe soos Nick Brandt of Sebastião Salgado, kyk wat maak hulle werk onvergeetlik, en begin oefen. En dan moet jy oefen en oefen totdat jy dit bemeester.Die meeste van hierdie foto’s het ’n eenvoudige donker agtergrond, wat help dat die voorwerp op die voorgrond uitstaan – kontras is hier die sleutel.Wees op die uitkyk vir oomblikke van uitsonderlike helderheid en donker wat gewoonweg jou ligmeter se kop laat draai. Dis in daai situasies waar die afwesigheid van kleur die foto kan verbeter.“Stel jou kamera om swart-wit te skiet,” sê Neil. “Op dié manier dwing jy jouself om in monochroom te dink.”
Jis, ou maat!Chobe- nasionale park, Botswana“ ’n Geelbekrenostervoël sit op die rug van ’n modderbesmeerde ou buffelbul wat op die oewer van die Choberivier wei. Dié vloedvlakte is ’n eenvormige agtergrond vir die magdom spesies wat hier saamdrom.”HOE? Canon 1D Mk. III; 560 mm-lens; sluiterspoed 1/1 000 van ’n sekonde; lensopening f4; ISO 800; handverstelling.
Ek’s ’n dapper… voëlKrugerwildtuin, Suid-Afrika“Dié geelbekooievaar het krokodille in die snelvloeiende Shingwedzirivier getrotseer om vis te vang. Met sy vlerke omhoog vorm dié oorwegend wit voël ’n netjiese kontras met die donker skaduwee van die wildevyebome wat op die rivieroewer groei.”HOE? Canon 1D Mk. III; 400 mm-lens; sluiterspoed 1/1 250 van ’n sekonde; lensopening f2.8; ISO 200; voorkeurlensmodus.
Opstaantyd!Kariega-wildreservaat, Suid-Afrika“Die oggendlig val oor die kop van ’n leeuwyfie wat gaap en haar indrukwekkende tande wys. Sommige fotograwe probeer dié soort lig saans met ’n kollig verkry, maar niks klop natuurlike lig nie.”HOE? Canon 5D Mk. II; 560 mm-lens; sluiterspoed 1/200 van ’n sekonde; lensopening f4; ISO 100; handverstelling.
Het jy agter jou ore gewas?Krugerwildtuin, Suid-Afrika“ ’n Rooibok lek een van sy maatjies skoon net voordat hulle gaan slaap. Die lae hoek van die son – die foto is met sonsondergang geneem– is net reg vir die neem van foto’s wat van agter belig is.”HOE? Canon 1D Mk. III; 560 mm-lens; sluiterspoed 1/400 van ’n sekonde; lensopening f4; ISO 200; handverstelling.
Die oog van ’n veteraanKrugerwildtuin, Suid-Afrika“ ’n Ouerige buffel diep noord in die Kruger. Omdat buffels meestal monotoon in kleur is, is hulle nie juis fotogenies nie. Tog kan die verweerde vel, geskeurde ore en beskadigde horings van die oueres treffend wees in swart-wit foto.”HOE? Canon 1D Mk. III; 560 mm-lens; sluiterspoed 1/160 van ’n sekonde; lensopening f4; ISO 500; voorkeurlensopening.
Bewegende voetoorgangKrugerwildtuin, Suid-Afrika“Die laaste sonstrale van die dag verlig die kop van ’n sebra wat wei in die sentrale deel van die Kruger. Die ikoniese lyne beklemtoon sy oë met die lang wimpers.”HOE? Canon 1D Mk. III; 400 mm-lens; sluiterspoed 1/1 250 van ’n sekonde; lensopening f2.8; ISO 200; voorkeurlensmodus.
Stillewe met elandKariega-wildreservaat, Suid-Afrika“Die laaste daglig speel oor die kop van ’n elandbul. Die donker agtergrond is te danke aan dik bosse wat so kenmerkend is van die Oos-Kaapse landskap.”HOE? Canon 5D Mk. II; 560 mm-lens; sluiterspoed 1/800 van ’n sekonde; lensopening f4; ISO 100; handverstelling.












