
Elektrisiteit is iets wat jou lewe in die veld makliker maak. Daarom is dit belangrik om die elektrisiteit in jou bakkie so doeltreffend as moontlik te beskerm sodat ’n kortsluiting nie jou vakansie kortknip nie.Die kragtoevoer van jou yskas is iets waaroor jy nie veel dink nie – dis nou tot jy in die middel van die Kalahari met warm bier en ontvriesde vleis sit.Dit is gewoonlik algemene praktyk om ’n sekering of twee in die stroom in te sit om die stroombaan te beskerm. Dan knyp jy jou oë toe en hoop dit doen die ding as daar ’n kortsluiting of stuwing (surge) kom wat al die liggies van jou kamp kan uitdoof.’n Sekering is seker een van die eenvoudigste goed om te vervang as dit die dag die gees gee. Jy trek dit bloot uit en druk ’n nuwe een in sy plek in. Soms word die verkeerde sekering in die stroom gekoppel wat ’n té groot elektriese lading deurlaat en voor jy jou kom kry, sit jy in die donker en drink ’n warm bier terwyl jy moed opbou voor daai koue stort.Ons het by Jos Hartog van Hazard Bonako in Kaapstad gaan hoor wat ’n makliker manier is om die elektriese stroombaan en verskillende komponente in jou ryding te beskerm.Verstaan eers ’n sekering’n Sekering is iets wat in ’n stroombaan gesit word om die stroombaan te beskerm. Indien daar ’n kortsluiting of ’n stuwing kom wat die sekering se beperking oorskry, sal die sekering smelt. Dit sal die res van die komponente teen moontlike skade beskerm omdat die stroom nie meer vloei nie. Sekerings word in serie in die stroom ingesit, wat beteken die stroom vloei daardeur en as jy dit uithaal, vloei die stroom nie meer nie.Dit is hierdie werking van ’n stroom wat deur ’n sekering gebruik word. Daar is ’n draadjie of plaatjie binne in die sekering wat van sink, koper, silwer, aluminium of allooimetaal gemaak word. Die dikte en materiaal waarvan die plaatjie of draadjie gemaak word, bepaal wanneer dit sal smelt. En as dit smelt, is die stroom onderbreek en die kortsluiting of stuwing wat dit veroorsaak het, kan ondersoek word of die sekering kan vervang word.
Waarom dan iets anders gebruik? Dis nie kinderspeletjies om ’n sekering met jou kaal hande uit te trek nie. Jy moet dit in die meeste gevalle ook eers uithaal voor jy kan seker wees dis waar die probleem is. Die gebruik van ’n stroombreker is dus ’n meer logiese oplossing.’n Stroombreker is soortgelyk aan die soort skakelaar wat jy in jou huis by die kragverdeelbord kry. As die “krag trip”, is dit die een wat jy weer moet gaan aanskakel. Dis baie makliker as om ’n sekering te vervang. Dieselfde soort stroombrekers word in die stelsel gebruik wat Hazard Bonako in voertuie installeer.Die stroombreker sal die stroom onderbreek deur af te skiet. ’n Stroom wat vloei, stel hitte vry. Hoe groter die stroom, hoe meer hitte is teenwoordig. ’n Klein metaalveer hou die skakelaar “op sy plek” as dit aangeskakel is. Afhangende van die spesifieke stroombreker, sal die veer teen verskillende temperature, en dus, stroomsterktes, die skakelaar laat afskiet.
Elektrisiteit is iets wat jou lewe in die veld makliker maak. Daarom is dit belangrik om die elektrisiteit in jou bakkie so doeltreffend as moontlik te beskerm sodat ’n kortsluiting nie jou vakansie kortknip nie. Beteken dit daar is geen sekerings oor nie? ’n Sekering dien steeds ’n doel en sal nooit heeltemal uit stroombane verwyder kan word nie. Jou ryding kom uit die fabriek uit met ’n klomp sekerings in ’n pasgemaakte sekeringsboks wat goed soos die hoofligte, motorradio, ruitveërs en dakliggie beheer. Hierdie sekerings bly net waar hulle is.As jy ’n ekstra battery installeer, is stroombrekers nodig om die nuwe stroombaan te beskerm.Tydens die installering van die ekstra battery word hoëspanningsekerings (100A) in die stroom gesit om die draad te beskerm wat tussen die batterye loop. Jos beveel aan dat sodra hierdie sekering smelt, jy baie versigtig moet wees om dit te vervang.As die sekering gesmelt het, beteken dit daar is ’n probleem met die drade. Dis gewoonlik iets wat groot skade kan aanrig aan die stroombaan en al die komponente wat daarin gekoppel is.Wat is alles beskikbaarVan die heel basiese liniêre sekering (in line fuse) tot by ’n kragverdeelbord (power distribution board) is daar ’n paar opsies om die stroombaan te beskerm.Die liniêre sekering word direk in die stroom gekoppel en dieselfde soort bladsekerings (blade fuses) wat op ander plekke in die ryding gebruik word, bv. die gewone sekeringsboks van ’n voertuig, kan jy hier insit.’n Sekeringsboks word gebruik om ’n klomp verskillende strome te beskerm. Dit gebruik ook bladsekerings, maar verskillende hoeveelhede kan in een boks gebruik word.Die kragverdeelbord is die grootmeneer. Dit het ’n sekere hoeveelheid stroombrekers wat in ’n paneel langs mekaar gemonteer word. Elke stroom wat hierdeur vloei, kry sy eie stroombreker en dit werk onafhanklik van die ander. Jy kry verskillende soorte kragverdeelborde, afhangende van die hoeveelheid stroombrekers wat jy nodig het en ook die stroomsterkte waarin dit gaan gebruik word (12V direkte stroom [DC] of 220V wisselstroom [AC]).Span al jou kragte inElke stelsel wat Hazard Bonako installeer, word pasgemaak omdat elkeen se behoeftes verskil. Die beginsels bly egter dieselfde. Die stelsel wat beskryf word, is in ’n Land Cruiser-dubbelkajuitbakkie geïnstalleer.Langdradig. Van die hoofbattery af word 25 mm²-kabel gebruik om die ekstra battery, wat in die laairuim geïnstalleer is, te koppel. Daar word vir die positiewe en negatiewe pool ’n kabel na agter aangelê. Die negatiewe pool word nie, soos in party ander stelsels, aan die voertuig se onderstel verbind nie.Grootbaas. By die positiewe pool van die hoof- en ekstra battery word ’n 100 ampère-sekering ingesit. As een van hierdie sekerings die dag smelt, moet jy weet daar is ’n groot probleem in die kabel tussen die batterye. Laat ’n kenner dit eerder ondersoek voordat jy ’n nuwe sekering insit en moontlik ander komponente in jou stroombaan beskadig.Beheer, meneer. Hazard Bonako gebruik ’n Cyrix-i-batterykombineerder, wat die rol van die solenoïde en isoleerder vervul. Sodra die hoofbattery sy vasgestelde lading bereik het, word die skakelaar oopgemaak en die hoof- en ekstra battery is dan in parallelle skakeling met mekaar. Dit beteken albei laai gelyk deur die alternator. Die skakelaar word weer toegemaak sodra die alternator ophou draai, sodat die ekstra battery nie die hoofbattery pap trek nie.Sien dubbel. Daar word twee kragverdeelborde ingesit in ’n pasgemaakte aluminiumboks wat teen die aluminiumkappie in die laairuim gemonteer is. Op die boonste 12V-bord word die strome wat direk van die ekstra battery af loop verdeel na die yskas, kampligte, 12V-kragsokke en die pomp in die watertenk. Daar loop ook ’n stroom deur wat die ekstra battery aan die omskakelaar verbind (om die vloei van 12V-elektrisiteit na die omskakelaar te beheer). Die sonpaneel is ook deur ’n reguleerder aan hierdie verdeelbord verbind om die ekstra battery te laai. Die stroombrekers het verskillende stroomsterktes waarteen hulle sal afskop, afhangende van dit wat aan die spesifieke stroom gekoppel is.Het die krag ge-trip? Die ander kragverdeelbord van 220V is aan die omskakelaar verbind (om die vloei van elektrisiteit uit die omskakelaar te beheer), asook die batterylaaier, twee elektriese sokke binne in die bakkie en ’n elektriese sok aan die buitekant van die kappie. Deur hierdie sok word elektrisiteit van buite af in die stelsel gesit van ’n gewone muurprop of ’n kragpunt by ’n kampplek af wat deur die batterylaaier weer die ekstra battery sal laai. Die een elektriese sok aan die binnekant kan óf direk van die eksterne elektrisiteit af werk óf van die omskakelaar af. Die ander een kan slegs van die eksterne elektrisiteit af werk.
Kontak Hazard Bonako by 021 534 0240 vir meer inligting.












