SAAMGESTEL DEUR SAM REINDERS
Suid-Afrika het een van die opwindendste kuslyne ter wêreld. Danksy die warm Agulhas-seestroom aan die ooskus en die koue, voedselryke Benguela-stroom aan die weskus, breek ons branders in 'n groot verskeidenheid habitats wat ongeveer 10 000 plant- en dierespesies huisves.
Min of meer waar dié strome ontmoet, is waar jy die fotograaf Peter Chadwick meestal sal aantref, want dis hier waar van die land se belangrikste mariene bewaringsgebiede is, asook menige eilandjie waarop malgas- en pikkewynkolonies hou.
"Voeg daarby nog die argeologie- en visserygeskiedenis en jy't 'n gebied wat jou en jou kamera vir 'n leeftyd kan besig hou," sê Peter. Hy het 'n diepe hartstog vir mariene bewaring.
"Binnelandse reservate soos die Krugerwildtuin en die Kgalagadi is alombekend, maar min mense het dieselfde kennis oor ons mariene erfenis. Die ekostelsels langs die kus is kwesbaar en het net soveel beskerming nodig."
Soos met enige vorm van natuur- of bewaringsfotografie gaan dit hier nie net oor die uiteindelike foto nie. Elke skoot verg deeglike beplanning, voorbereiding, uitgawes, tye weg van die huis af, vroeë oggende en laat aande, verkluimde vingers en sonverbrande gesigte. Maar vir fotograwe soos Peter wat bereid is om dié moeite te doen, is dit alles altyd die ontberinge werd.
Impaksone
De Hoop- mariene bewaringsgebied
"Selfs al weeg dié 15 m lange suidelike noorkapperwalvis meer as 40 ton, verdwerg die golwe haar. 'n Mens dink selde aan walvisse as brose diere, maar die oseaan is steeds soveel magtiger as die grootste walvis - dus duik hierdie koei en haar kalf om die kleinding teen die trefslag te beskerm."
HOE? Nikon D3s; 70-200 mm-lens; sluiterspoed 1/2 000 van 'n sekonde; lensopening f8; ISO 1 000 (al die foto's in dié portefeulje is met 'n voorkeurlensopeningmodus geneem).
Hoe gaan dit, ou maat?
Kaappunt, Tafelberg- mariene bewaringsgebied
"Geelbeksterretjies kom algemeen aan die weskus voor en trek dikwels met sonsopkoms en -ondergang in groot swerms saam. Hier groet een sy maat met 'n buiginkie toe dié sy sit op 'n rots kom kry."
HOE? Nikon D3s; 500 mm-lens met 'n 1.4x-omskakelaar; sluiterspoed 1/1 250 van 'n sekonde; lensopening f8; ISO 1 000.
Strandmeer-legkaart
Langebaan, Weskus- nasionale park
"Die Langebaan-strandmeer is 'n Ramsar-bewaringsgebied, en sy netwerk van soutmoerasse is 'n belangrike voedingsbron vir waadvoëls. Op dié lugfoto kan 'n mens sien hoe die soutmoerasse die strandmeer vol patrone verf, amper soos 'n skilderdoek."
HOE? Nikon D3s; 70-200 mm-lens; sluiterspoed 1/2 500 van 'n sekonde; lensopening f8; ISO 1 000.
Hei, dis mý rots!
Tsitsikamma- mariene bewaringsgebied
"Tsitsikamma, Afrika se oudste mariene bewaringsgebied, vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar. Die streek is bekend vir sy dramatiese kuslyn wat wemel van diere - soos dié dassie wat lekker in die wintersonnetjie sit en bak. Ek het 'n stadige sluiterspoed gekies om die seewater se beweging te beklemtoon en sodoende 'n meer sielvolle toneel vas te vang."
HOE? Nikon D3s; 17-35 mm-lens; sluiterspoed 1/6 van 'n sekonde; lensopening f16; ISO 100.
Is daai Batman links voor?
Strandfontein, Valsbaai
"Die kelpmeeu is 'n baie aanpasbare seevoël en hy benut elke geleentheid om kos in die hande te kry. Op dié foto sweef die skaduwees van honger meeue bo 'n vissersnet wat pas uit 'n skuit gelig is. Die net was vol harders en die voëls het nie 'n kans laat verbygaan om af te duik en 'n vissie te gryp nie."
HOE? Nikon D3s; 70-200 mm-lens; sluiterspoed 1/1 600 van 'n sekonde; lensopening f14; ISO 1 000.
Die nuwe geslag
Malgaseiland, Weskus- nasionale park
"Daar is slegs drie eilande aan die Suid-Afrikaanse kus waarop witmalgasse broei: Voëleiland by Lambertsbaai, Malgaseiland in die Weskus- nasionale pak, en die ander Voëleiland in Algoabaai. "Weens die mens se invloed het die malgasbevolking die afgelope 50 jaar wêreldwyd met die helfte afgeneem. Die jong voël op die voorgrond sit sy vere en gladstryk ter voorbereiding van sy eerste kossoektog in die wye oseaan."
HOE? Nikon D3s; 17-35 mm-lens; sluiterspoed 1/800 van 'n sekonde; lensopening f7.1; ISO 200.
Gaan na peterchadwick.co.za om meer van Peter se foto's te sien, of volg hom op Instagram by@peterianchadwick
Hooffoto deur Martin Taylor













