
Soms val ’n goeie fotogeleentheid in jou skoot, maar dit verg tog ’n bietjie dinkwerk om dit in die “perfekte” foto te omskep. Toast Coetzer vertel hoe hy dié Hererovrou in Namibië afgeneem het.Soek die menseVir my gaan reisfotografie net soveel oor die mense wat ek teëkom as die diere en landskappe wat oor my pad kom. Toe ek in 2012 Namibië toe is, het ek van Aussenkehr af met die C13 na Rosh Pinah gery.By die ingang tot die Ai-Ais-oorgrenspark – waar jy by die hekwag moet stilhou – het ek vir Batsepa Tjiuyu in volle tradisionele Hererogewaad gesien (haar man was die hekwag). Ek het haar gevra of sy bereid sou wees om vir ’n foto of drie te poseer, en sy was heeltemal te vinde daarvoor.My eerste paar foto’s het ek geneem met die kantoorgebou se spoelklipmure as agtergrond – ek het gedink dié teksture en bruin kleure sou ’n goeie kontras vorm met haar pienk rok.Kyk na die omgewingSoms is ’n mens oorhaastig wanneer jy mense afneem. Goed, dalk het jy net ’n halwe minuut om jou foto te neem, maar as jy tien minute het, moet jy dit behoorlik benut.Kyk om jou rond – is daar dinge in die agtergrond wat die aandag kan aftrek van jou portretfoto? Wees byvoorbeeld versigtig vir telefoon- en lamppale – as dié uit iemand se kop “groei”, kan dit jou hele foto in sy peetjie stuur.Maar wat in die agtergrond kan bydra tot jou portret? Ek het skielik besef die verlatenheid van dié deel van Namibië is wat die verskynsel van die vrou in haar mooiste rok soveel meer laat uitstaan.Ek het haar gevra om in die pad te kom staan – maar eers wou sy afgeneem word saam met my en die Chev Captiva waarin ek gery het.Wérk nou met jou toneelDie hondjie – haar naam was Lucky – was heeltyd daar rond, maar skielik het sy aktief begin deelneem aan wat gebeur deur aan Batsepa se rok te trek. Dié spelerigheid het die fotogeleentheid eensklaps spesiaal gemaak; anders.Ek het eers ’n bietjie ingezoem en toe wyer geraam om die ruwe landskap te beklemtoon – met die blerts pienk in die middel daarvan. Nou het ek al die opsies gehad, en ek kon later besluit watter een van die stel foto’s werk die beste (ek het sowat 20 geneem). Uiteindelik het ons die hooffoto (heel bo en heel onder) as volbladfoto in Weg Namibië 2013 gebruik.’n Tikkie gelukNadat ek Batsepa vaarwel gewuif het, is ek vort. Enkele kilometer verder het ek op twee fietsryers (Weg-lesers!) afgekom. Ek hoor toe dat die Hererovroutoneel danksy hulle was: Hulle is ’n ruk voor my deur die parkhek en het ook daar getalm. Batsepa was in “gewone” klere, maar het aangebied om haar tradisionele drag aan te trek sodat hulle ’n foto kon neem – en toe ek daar aankom, het sy dit nog aangehad.Soms het jy ’n bietjie geluk nodig!
HIER IS JOU HUISWERKGreg Lomas is ’n jong Suid-Afrikaanse fotograaf wat in Durban woon. Gaan loer gerus by na sy treffende portretfoto’s wat in Suid-Afrika en elders in Afrika geneem is.Kyk veral hoe slim hy te werk gaan met fokusdiepte om te sorg dat sy voorwerp altyd uitstaan teen die agtergrond. Die mense wat hy afneem, is ook gewoonlik in die omgewing waar hy hulle aangetref het – die agtergrond vertel jou dus meer oor die mens op die foto.












