Johan Peens van Brandfort wou sy wa na nuwe weivelde neem. Maar die geld... Toe verander hy saam met sy gesin ’n skaapwa in ’n boswa. Goed, jy het jare lank getrou dieselfde plekkie by Hartenbos of Margate bespreek, maar nou wink die wildernis en jy kan die jakkalse al hóór tjank.Jou woonwa gaan egter nie die rowwe terrein oorleef nie. Dus is dit tyd vir plan B. Johan vertel:
Knyp oë toe en springBesin eers mooi voor jy jou garage invaar en verwoed begin saag en sweis: Gaan ’n gekoopte wa nie tog goedkoper uitwerk as om self een te bou nie?Ek het ook so gedink, maar daar was geen manier waarop my gesin van vyf die boendoes ‘goedkoop’ kon invaar nie. Ek kon nie R30 000 uithaal vir ’n leë boswa nie. Die volgende opsie was ’n daktent. Maar dit kos ongeveer R7 000 stuk en dan het jy nog nie ’n kombuis of pakplek nie.Nee wat, ’n boer maak ’n plan. Of altans, hy begin ag slaan op daardie mal idee wat al geruime tyd in sy kop broei.Ek het ’n tweedehandse skaapwa aangeskaf, hier gemeet en daar gepas en toe ’n gesinsvergadering belê.Elkeen het ’n paar takies gekry en vier maande later was die boswa reg vir sy eerste toetsrit: Kgalagadi toe.”
Die aftiklysDie boswa moes aan heelwat vereistes voldoen. Die belangrikste was dat ek minder as vyf minute hoef te werskaf om dit reg te laat staan sodat ek met ’n koue bier in die hand agteroor kan sit en my verkneukel in hoe die ander kampeerders sukkel.Die wa moes slaapplek vir vyf hê, sodat niemand op ’n opblaasmatras of kampbedjie hoef te lê nie. Almal se klere, asook die eetgerei en kruideniersware moes ’n bêreplek hê sodat geen onnodige sakke, kratte of bokse binne-in die wa rondstaan nie. En saans moes ’n Portapotti met ’n seilgordyntjie om sy plek op die A-raam inneem, want jy kan nie heelnag knyp net omdat wilde diere om die wa rondsnuffel nie.Ek het ’n boswa gesoek waarmee ek Botswana se wildtuine kan plattoer, sonder dat my gewete my snags laat wakker lê oor die ding so verniel. Die wa moes boonop stabiel loop teen ’n hoë snelheid, en terwyl ons so oor die vlaktes vlieg, moes ons veldhuisie darem stofdig bly.Laastens wou ek die hele gesin by die projek betrek, al sou dit beteken dat alles nie foutloos sou verloop nie.
Handearbeid is geen skande!Ek wou die boendoes met mening invaar. Daarom het ek die skaapwa se as by ’n ingenieurswerke-onderneming laat verkort sodat die wa presies in my Toyota-dubbelkajuit (3.0 D 4D, 2007-model) se spoor kan loop. Dié aanpassing het die sleepwerk, veral in dik sand, makliker gemaak. Inloopremme is opgesit om die remstelsel nóg veiliger te maak.Met een stut aan die agterkant, die twee wiele in die middel en die spanwiel voor staan die wa lekker stewig.Die raamwerk is uit 40 mm-staalpyp en hoekyster aan mekaar gesweis. Ek het spesiale houers vir gasbottels en jerrykanne laat maak en dit aan weerskante van die wa op die raamwerk vasgesweis.Die dik seiltent wat met Velcro-bande buite-om die raamwerk vasmaak, is by ’n onderneming in Bloemfontein op industriële masjiene gemaak en my vrou, Anita, het al die ander stikwerk self gedoen. Binne-in die wa is 16 seilsakke van verskillende groottes, asook vier sakke waarin die beddegoed toegerits word om stof uit te hou.Anita se Singer het dié allemintige taak met ’n gewone naald en spesiale tentgare verrig. Alles kan toerits of met Velcro vasmaak en die stof doeltreffend uithou.
SterretjieskombuisAan die agterkant van die boswa is ’n oopvoukombuis met ’n hele rits stofdigte sakkies bolangs. Dis deursigtig, en alles – van borde en messegoed tot botteltjies en sout- en peperpotte – pas in houers. En alles het rek om wat keer dat die hele spul met die remslag uitval.Die 80 liter-yskas, wat met gas, ’n battery óf elektrisiteit werk, kan na agter uitskuif. Langs dit pas ses diep plastieklaaie in (een dien sommer as ’n opwasbak) en daar is ook genoeg pakplek vir ’n tweeplaat-gasstoof en ’n paar ysterpotte. Wanneer die kombuisie se agterflap oopgeslaan is, kan die gasstoof sommer daarop staan en maklik aan een van die gaskanne langs die wa gekoppel word.
’n Hele huisie op wiele’n Dubbelbed pas binne-in die boswa, en in die sypanele het ek twee flappe gemaak wat oor die lengte van die wa na buite oopslaan en elk ’n enkelbed het wat ’n bietjie hoër as die dubbelbed is. ’n Vyfde lêplekkie, vir ons jongste, is dwars bo-oor die dubbelbed se voetenent, tussen die twee enkelbeddens, ingerig.Anita se gestikte seilsakke pas presies bo-op die bedjies se platforms en elke kind se matras en beddegoed word binne-in die sak toegerits om stof uit te hou.Die seilsakke vir klere, handdoeke, ensomeer hang netjies aan die voorste raam se binnekant en rondom die dubbelbed is skoensakke aangebring.Die wa se wielboë is op perfekte bedkassiehoogte en daarom het elkeen van hulle ’n sakkie bo-op vir flitse, medisyne, leesboeke, Tabbard en al daai ander los goedjies.
Die finale afrondingOns het die wa self gespuitverf en die bak met rubber behandel. Die afslaanflap is ook met rubberstroke en silikon verseël.Dubbele Velcro-bande op die raamwerk verseker dat die seil nooit in ’n sterk wind sal oopruk nie.Met ’n vrag weeg die boswa sowat 700 kg. Dit voldoen heeltemal aan ons behoeftes en ons sou nie ’n gekoopte wa met dieselfde trots sleep nie.
Hoe lyk die rekening?
- Tweedehandse skaapwa (as vir 1,5 ton; inloopremme) – R4 000
- Verkorting van as – R500
- Staal vir raamwerk – R1 500
- Maak van houers vir gasbottels en jerrykanne – R500
- Spuitverf en rubberbehandeling – R250
- Materiaal, ritse, sakke en plastiek – R1 750
- Maak van seil – R4 500
- Tweedehandse yskas (80 liter; werk met gas, battery of elektrisiteit) – R500
- Matrasse – R500
- Ander (planke, kettings, gasstoof, ens.) – R1 500
Totaal: R15 500












