Die lesers vertel hoe hulle Wimpi's en Supras moet draf om by te bly by die voorperde.
Con nie beter nie
2001 TOYOTA CONDOR 2.4 ESTATE (PETROL)
Namibië is net die plek, sê Valerie Pieterse van Mosselbaai. Boswa? Ja, 'n Conqueror Supra.
Hoe lank al? Sewe jaar.
Die Condor se prys? R100 000 (tweedehands).
Jy het vyf vereistes? 'n Sleepvoertuig moet betroubaar wees, genoeg ruimte hê vir kampgoed, gewillig wees, nie jou sak ruk nie, en die handelaars moet goeie diens lewer.
Spoed en haak? Ek sleep teen 110 km/h, met 'n Bosal-sleepstang.
Jy't amper 'n bakkie gekoop? Ek het ook Isuzu se 2,5 ℓ-diesel oorweeg, maar die Condor se prys was beter.
As die prys nie tel nie? Toyota Land Cruiser, asseblief.
Die Condor draf sonder sukkel? Hy is 'n staatmaker en het nou al 260 000 km op die klok. Hy trek ook nie sy neus op vir gruispaaie nie. Die enigste teëspoed wat ons al op ons reise gehad het, was 'n pap band.
Die onpraktiese deel? Die noodwiel word onder die voertuig gemonteer, wat beteken jy sukkel om daarby te kom, en jy kan ook nie sien of hy pap is nie.
Hy sluk egalig? Met die Conqueror kry ons 12-14 ℓ/100 km, en wanneer die wa by die huis bly, 12 ℓ/100 km.
Waarheen sal julle teruggaan? Na die suide van Namibië: Shark Island by Lüderitz.
Ca(m)ptiva
http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/07/Shaun-Moller.jpg
2013 CHEVROLET CAPTIVA 2.4
Shaun Moller van Secunda sê dis nie nodig om haastig te wees nie.
Julle sleepsel? 2011 Jurgens XT140.
Varser as vars? Ons sleep die wa nou maar twee maande met die Captiva.
'n Gawe prys vir Captiva? Ja,R321 000 (nuut).
Jy sê hy is bietjie lam? Hy kon beslis meer wringkrag gehad het.
En jy het na die grootboet ook geloer? Ek het ook na die Chevrolet Trailblazer gekyk, maar hy was net te duur. Die Captiva is 'n stabiele sleepvoertuig wat hoog genoeg bo die grond staan en genoeg spasie binne-in het.
Hoe ver op die liters? Wanneer ek sleep (teen 100-110 km/h), kry ek 13,6 ℓ/100 km, en as ons afhaak, omtrent 9,5 ℓ/100 km.
Jou droomvoertuig? Toyota se Land Cruiser.
Jy is 'n Chev-man? My vorige sleepvoertuig was 'n Chevrolet Cruze, die 2 ℓ-dieselmodel, maar die boswa het sy stert in die grond laat wegsak. Ek het drie jaar met hom gery.
'n Gunstelingkampplek? De Voetpadkloof hier anderkant Middelburg in Mpumalanga. Natuurskoon, netjiese badkamers en swembaddens - en vriendelike personeel. Moet ook nie van ATKV Natalia vergeet nie. Net so 'n oulike plek, en hulle bied kinderprogramme aan oor skoolvakansies.
'n Wysheid? Wees geduldig terwyl jy sleep.
Kusdrawwer
2000 ISUZU KB320 V6 (4×4)
http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/07/Chris-Odendaal.jpg
Chris Odendaal van Boksburg sê daar is 'n mooier plek as Boksburg.
Regal, nè? Net so - die Gypsey-model, gemaak teen die begin van die eeu.
Is julle 'n hegte kombinasie? Ons kom al tien jaar saam.
Hoeveel het jy uitgehaal? R123 000 (tweedehands). Ek het hom vyf jaar terug afbetaal.
Krag is nie alles nie? Nee, 'n mens soek ook genoeg pakplek vir jou tente en kamptoerusting; en jou voertuig moet darem ook betroubaar wees.
Jy weet wat jy wil hê? Ek het ook gekyk na 'n Jeep Cherokee, maar die rygehalte en vering pla en die pakplek is skraps.
Jy ken van sleep? Ek sleep sedert 1988. My eerste sleepvoertuig was 'n 1982 Ford V6-bakkie - sewe jaar lank. Daarna agt jaar met 'n Volkswagen Kombi V6 en toe is dit die Isuzu se beurt.
Jou Isuzu kán? Die 3,2 ℓ-V6-24-klep-enjin het hope krag. Hy het al 180 000 km op die klok en het ons nog nie 'n dag in die steek gelaat nie.
Stabiliseerder? Tando.
Brandstofsku? Ons gebruik net 10 ℓ/100 km wanneer ons nie sleep nie, en hoewel die Regal dit opstoot na 14,3 ℓ/100 km (teen 100 km/h), is dit nie sleg vir 'n petrolmodel nie.
Sal jy iets anders probeer? Die nuwe Ford Ranger.
Die weste doen dit vir julle? Die Weskus - van Strandfontein tot Yzerfontein - is wonderlik. Ons het die omgewing een jaar in die blommetyd besoek, en dink dit is die mooiste plek op die aarde. Ons moet nog net by Tietiesbaai 'n draai maak.
Klassiek se maat
2012 ISUZU KB 300 LX (DUBBELKAJUIT)
http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/07/Kobus-Vergottini.jpg
Vinnige én stadige motoriste krap Kobus Vergottini van Brackenfell om.
Jy sleep Jurgens se klein grote? Die 2012 Classique - die twee is nou maar eers vier maande pasmaats.
Hoeveel vir die nuwe wiele? R340 000.
Die syfers wissel? Die Isuzu gee my 11-15 ℓ/100 km as dit tyd is om te kamp en 9-11 ℓ/100 km met niks gehaak nie.
Weerskante van 100? Ek hou my spoed hier tussen 90 km/h en 110 km/h.
Wat tel? Krag en spasie.
Die 3,2 liters duik op? Ek het ook na dié enjingroottes gekyk in die Ford Ranger en Mitsubishi Colt.Maar spasie was 'n probleem by albei. As jy nou wil praat van 'n droomvoertuig, staan Ford se Ranger heel voor.
Wat maak jou die vieste in? Mense wat jou verbysteek en dan spoed verminder.
'n "B"' vir julle? The Baths by Citrusdal het 'n wonderlike kampplek.
O die donkie!
2010 GWM MULTI-WAGON 2.2 MPI (PETROL)
http://weg.co.za/wp-content/uploads/2014/07/Chris-Muller.jpg
Chris Muller van Krugersdorp hou van sy "donkie".
Jy sleep 'n seldsame wa? 'n 1992 Jurgens Wimpi.
Sedert wanneer? September 2010.
Billike prys? R160 000 (nuut).
Jy gaan eerder groot? Die sleepvoertuig moet genoeg gewig hê sodat die wa nie die kar rondswaai nie.
Prys tel? Ek het ook na 'n Nissan Pathfinder gekyk, maar vir sy prys kon ek twee nuwe GWM's koop. Terloops, GWM se H5 maak my knieë lam.
Jy stop hom nie? Jy kan sê die 2,2 ℓ-petrolenjin is 'n bloudruk van 'n Toyota-enjin. Dit is nie die sterkste motor op die mark nie, maar hy is soos 'n donkie. Hy hou net aan. Hy gee soms so 'n bietjie bes met die spoed, maar dit maak nie saak as 'n mens effens langer neem om by jou bestemming uit te kom nie. Stadig ry is veiliger ry.
Wat kon beter? Die ratverhouding tussen die tweede en derde rat. Wanner jy afrat na tweede, sien jy nie weer derde rat teen 'n opdraande nie. Die enjintoere is net te laag om vas te hou in derde.
Wat vra hy oor 100 km? 14 liter as ek sleep, en 11 liter sonder sy sleepvrag.
Jy sê 100 is nie 100? 'n Gemaklike sleepspoed is 100 km/h op die odometer, maar dit lees in der waarheid 95 km/h op my GPS.
Hulp met die sleepstang? Die stang self is 'n Tow Elite wat ek saam met 'n Tando-stabiliseerder gebruik. Ek moes wel 'n sakplaat opsit om die Wimpi mooi gelyk te laat draf.
Julle gunstelinge? Die Krugerwildtuin, ATKV se Eiland-spa en Forever Warmbad.












