Almal het al raad van elke Jan Rap en sy maat gekry oor wat die regte banddruk vir 'n spesifieke veldry-situasie is. Kom ons wys jou wat regtig reg is.
'n Paar faktore bepaal die ideale banddruk vir 'n situasie. Die soort band wat op jou ryding is en hoe swaar jou ryding gelaai is, kan beïnvloed hoeveel jy die band moet afblaas vir die beste vastrap wat jou veilig teen daai berg op gaan kry.
Die opvatting dat 'n band se "boepens" wat hy uitstoot soos jy hom afblaas die loopvlak verbreed en vir jou beter vastrap gee, is onsin. As jy jou band afblaas, word die loopvlak langer, nie breër nie, en die verlengde loopvlak gee beter vastrap.
Hoe langer die loopvlak van jou band, hoe meer van die bandoppervlak is daar op 'n slag wat in aanraking is met die grond of klip of sand waarop jy ry. Iets wat direk verband hou met die lengte van die loopvlak, is die hoogte van die velling bo die grond, oftewel, hoeveel die band se sywand vou as jy die banddruk verlaag. Om hierdie mates te neem het jy 'n paar goed nodig:
Liniaal en pen
As jy twee het, nog beter. Kry ook 'n pen om te merk.
Papier
'n A3-bladsy behoort te werk.
Banddrukmeter
Maak seker dit is jou eie banddrukmeter wat jy altyd gaan gebruik, want jy gaan jou metings daarvolgens kalibreer.
Die proses
Die eerste stap is om die stuk papier op 'n plat stuk grond neer te sit en dan met jou ryding se voorwiel in die middel daarvan stil te hou.

Om jouself 'n bietjie tyd en moeite te spaar, kan jy 'n papier onder 'n voor- en agterwiel sit.
Die rede hoekom jy die voorwiel gebruik, is omdat die vrag op die voorwiel altyd konstant sal wees, maar die vrag op die agterwiel kan wissel soos jy die voertuig laai.

Maak seker jou banddruk is wat jy dit gewoonlik maak op die teerpad. Druk nou die liniaal loodreg voor- en agter die band in sodat jy kan meet hoe lank die loopvlak is tussen die twee.

Jy meet ook hoe hoog die sywand is deur 'n liniaal regop teen die wiel te hou en dan te meet hoe hoog die onderste rand van die velling van die grond af is.
Dan blaas jy die band 'n bietjie af (byvoorbeeld 0,2 bar) en merk dan hoe die mates verander. Skryf heeltyd jou bevindinge sommer op die papier neer dat jy later 'n verwysingstabel het om die ander bande dieselfde loopvlak te gee. Jy herhaal hierdie proses tot jy op die punt kom waar jou band nog veilig genoeg blyk te wees.
Jy sal opmerk hoe die lengte van die loopvlak baie skerp begin klim hoe papper die band word. Dit is omdat die sywand dan meer begin ingee en die loopvlak dan só langer maak. Maar onthou altyd dat hoe meer jou sywand meegee, hoe meer ontbloot is dit vir skerp klippe of stokke om die sywand te beskadig en ook hoe papper jou band is, hoe makliker kan hy van die velling afglip as jy skerp draai.
As jy klaar is met die voorwiel, herhaal die proses met die agterwiel om die verskil te sien. Afhangende van hoe die vrag verskil, sal die banddruk nie noodwendig dieselfde as die voorwiel s'n wees nie.
Dis in die meeste gevalle belangrik dat jou voor- en agterbande nie noodwendig dieselfde druk het nie, maar dieselfde eienskappe (loopvlaklengte en sywandhoogte) het. Om dus seker te maak die loopvlak se lengte is dieselfde op al vier wiele, maak seker die sywandhoogte is dieselfde.
Dan moet jy nog net besluit of die standaard 0,8 bar vir sandry op al vier jou wiele van toepassing is, of dalk is jou bande se sywande sterker en 0,8 bar is nie genoeg nie.
Die enigste manier om dit te bepaal, is om dit self te toets.















