Hoe meer lig jy het, hoe makliker kan jy snags in die veld ry, en heelwat 4x4-bestuurders hou van 'n paar ekstra ligte op hulle voertuie. Maar die manier waarop hulle geïnstalleer word, is nie altyd wettig nie.
Of hulle nou groot of klein is, die wet interpreteer daai ekstra stel ligte voor op jou bosbreker as 'n ekstra stel hoofligte. Maak dus seker jy het nie in totaal meer as ses ligte voor op jou voertuig nie.
Dié ligte mag ook nie hoër as 1,4 m van die grond af wees nie.
Dis ook belangrik om te onthou dat al die ligte op jou voertuig moet werk. Dis nie goed genoeg om ekstra ligte wat jy dink dalk onwettig kan wees te ontkoppel as jy op openbare paaie ry nie. Al is jy nie van plan om hulle op openbare paaie te gebruik nie, moet jy hulle kan aan- en afskakel as die konstabel sou vra.
Laastens mag jou ligte net die kleure uitstraal wat die wet toelaat: rooi na agter en wit na voor (die nuwer ligte met 'n effense blou skynsel word ook aanvaar).
O ja, en onthou dat geen ligte op jou voertuig, behalwe die flikkerligte, moet flikker nie.
Bly liefs ook binne die Suid-Afrikaanse wet wanneer jy Namibië toe gaan. Die Namibiese padwette rondom ekstra hoofligte voor op 'n voertuig is presies dieselfde as dié in Suid-Afrika.












