Toe ons die oggend van die Namutoni-ruskamp af ry, het ons 'n jagluiperd in die skadu van 'n bos sien lê. Dit was ongelukkig nogal ver van die pad af;soveel so dat jy dit net duidelik met 'n verkyker kon sien.
Ons het besluit om 'n ander draai te ry en is eers later weer terug na dieselfde plek om te kyk of daar al aksie was.
Hierdie slag was die jagluiperd - wat jongerig gelyk het - aktief en het later my voertuig as skans gebruik om 'n springbok te bekruip. Die springbok het agter ons voertuig verbygestap, al weiend sonder om die jagluiperd op te merk.

Ek was gereed met my Nikon D850 en Nikon 80-400 mm-lens. Skielik het die jagluiperd die bok agternagesit dat die stof so staan.

Ek kon gelukkig alles afneem deur die bestuurdervenster, waar ek gesit het.
Die springbok was te vinnig vir die onervare jagluiperd. Dié het naby ons kar kom staan en afgehaal die springbok agternagekyk.

Het jy iets interessants in die natuur gesien?
Stuur jou reeks foto's en 'n kort beskrywing van die gebeure na toast@weg.co.za.








