Ek het die Piesangrivier verken in 'n woud wat deel is van die Plettenberg Bay Country Club toe ek 'n reënboogkleurige voël in die skadu ongeveer 20 m verder sien...
Ek kon met behulp van my verkyker seker maak - ja, dit was wraggies die seldsame blouvisvanger!
Die volgende oggend is ek terug na dieselfde kol - hierdie keer met my Nikon D850 en Nikon 200-400 mm-lens. Die blouvisvanger was weer daar, en nie alleen nie! Dit was 'n broeipaar!

Hierdie toevallige ontmoeting het gelei tot 'n self-opgelegde "skooltaak" wat agt weke geduur het.
Ek het elke dag teruggekeer om hulle doen en late af te neem. Blouvisvangers is skaars in Suid-Afrika, en om hulle hier langs die Piesangrivier te sien, is bewys van hoe gesond die ekostelsel is.
Daar was baie nuwe dinge wat ek van hierdie mooi voëls geleer het. Byvoorbeeld: Die mannetjie dra altyd sy vangs (soos 'n vissie) kop eerste in by die nes (gebou in 'n tonnel in die rivierwal).
Hulle gee blykbaar altyd die kos kop eerste aan vir hulle maat, want dis seker makliker om in te sluk.
Hulle nes was sowat 30 m van die poel waar hulle meestal gejag het. Sowat 'n week nadat ek hulle begin dophou het, het ek gesien hoe hulle paar.

Ek het vir ure soms net sit en kyk hoe die een vissies of paddavissies vang en vir sy maat voer.
Die taak het sy uitdagings gehad, want die visvangers is vinnige vlieërs en die woud is donker. Baie van die skote moes dus teen 'n uiters hoë ISO van 25 600 geneem word. En ek moes ook my driepoot saampiekel, want die zoemlens is swaar...
Eendag het ek met kamera en al in die water geval! Dit was oomblikke nadat ek die foto geneem het van die visvanger met die padda in sy bek.

Vroeg in November (ses weke nadat hulle gepaar het) kon ek 'n verandering in die kosroetine waarneem - méér vangste, en 'n groter verskeidenheid.
Paddas en selfs krappies het deel van die dieet geword.

Die mannetjie sou kos bring, en homself daarna in die poel onder die nes afspoel. Dan sou hy weer gaan jag en soms binne enkele minute terugkeer met nog kos.
Ek het stukkende eierdoppe onder die nes gesien wat bevestig het dat die kuikens uitgebroei het. Daar was meer mae om te voed. Dit was nie lank nie, of die kleintjies het uit die nes gekom om buite te sit. Volgens my berekeningewas dit sowat agt weke nadat hulle gepaar het.
Ek moes in hierdie stadium uitstedig wees, en my medefotograaf Karin Braby het kom instaan terwyl ek weg was.
Sy kon foto's neem waar die ouers hulle kleintjies vlieglesse gee, en ook van al die kos wat hulle nou moes aandra vir die gulsige bekke.

Eendag was die kleintjies net weg. Ek wonder steeds waarheen. Na 'n ander deel van die Piesangrivier? Dalk.
Dit was vir my en Karin spesiaal om hierdie voëls in so 'n ongerepte stukkie bos af te neem. Ek hoop hulle keer vanjaar terug vir 'n vars lenteromanse!

Volg Rob op Instagram by @robtraverssmith en Karin by @karinbrabyphotography.
Het jy iets interessants in die natuur gesien?
Stuur jou reeks foto's en 'n kort beskrywing van die gebeure na toast@weg.co.za.






