Buitelewe

Ontdek Google se geheime

Deesdae "soek" jy nie meer inligting op die internet nie - jy Google dit.

Google Earth, 'n program met geografiese inligting wat jare gelede deur Google aangeskaf is, het nuttige inligting vir mense wat GPS gebruik. Dis 'n gebruiksvriendelike, interaktiewe weergawe van die hele aarde, wat uit satellietbeelde saamgestel is. Boonop is hierdie beelde met inligting soos straat- en plekname aangevul. En Google is ook baie nuttig vir veldryers, sê die GPS-kenner Johann Groenewald van Tracks4Africa.

Hier is 5 maniere waarop jy Google Earth kan gebruik

1 Beplan jou reis

As jy na jou roete op Google Earth kyk, sien jy dit asof jy in 'n vliegtuig daaroor ry. As jy jou reis met Garmin BaseCamp-sagteware beplan, kan jy die roete met Google Earth se satellietbeelde volg sodat jy kan seker maak watter soort terrein jy kan verwag.

As jy 'n spesifieke plek wil sien, skep net 'n punt in BaseCamp en kyk daarna op Google Earth.

2 Herleef jou vorige reis

Jy kan ook jou vorige reis op 'n satellietbeeld sien deur dit vanaf BaseCamp na Google Earth uit te voer. Soek die opsie "export" op die kieslys by "View". Google Earth sal oopmaak en jou roete sal op 'n satellietbeeld verskyn. Nou kan jy in- of uitzoem om plekke op die kaart te verken.

3 Bevestig die koördinate

Ek gebruik ook Google Earth om GPS-koördinate te bevestig. Webruimtes verskaf dikwels die verkeerde koördinate. As jy byvoorbeeld sien die koördinate vir 'n boskamp is volgens Google Earth bo-op 'n berg of diep in die see moet jy snuf in die neus kry.

4 Gaan verder as die kaart

As jy 'n roete beplan en jy kan nie paaie op die kaart vind nie, probeer ongemerkte paaie op die satellietbeeld opspoor. Jy kan dikwels paaie of spore op die beelde sien en dit as KML-lêers uitvoer (KML is die lêer-tipe waarin Google Earth geo-data berg, soortgelyk aan Garmin se GPX-lêers).

BaseCamp bied jou die geleentheid om KML-lêers in te voer, met ander data te kombineer en dit dan na jou GPS-toestel te stuur.

Waarskuwing: Die satellietbeelde op Google Earth kan verouderd wees, so kyk dus altyd na die datum onderaan die beeld. Jy sien dalk 'n pad, maar jy is salig onbewus van nuwe doringdraadheinings, hekke (met slotte!) of die toestand van die pad.

In welige plantegroei kan spore ook verskyn en verdwyn en sal jy soms moet raai waar dit is. Ek merk gewoonlik net punte waar ek duidelik 'n pad kan sien sodat ek weet waar die pad is wanneer ek my GPS gebruik.

5 Deel jou avonture met vriende

Google Earth is 'n wonderlike hulpmiddel om inligting met vriende te deel. Stuur net vir hulle 'n skakel, en hulle kan die KML-lêer aflaai.

Jy kan enige GPS-inligting in BaseCamp in KML-formaat uitvoer. Soek "Export" op die "File"-kieslys, en klik op "Save as KML".

Groot lêers kan ge-"zip" word as KMZ-lêers, wat dit makliker maak om dit per e-pos te stuur. Jou vriende kan selfs veranderings maak aan die data en dit na jou toe terugstuur.

*Gaan na www.google.com/earth/download/ge/agree.html om Google Earth op jou rekenaar af te laai.

Johann Groenewald is die medestigter en direkteur van Tracks4Africa. Vir meer leesstof oor navigasie en verwante sake, gaan na blog.tracks4

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM