Sonpanele is stil, skoon en sal jou dag na dag van krag voorsien. Ons gee dié stiefkinders van die buitelugtoerustingfamilie hul regmatige plek in die son.
Daar is net ’n handjie vol maniere om elektriese toebehore in die bos aan die gang te hou: As jy net ’n dag of wat oorstaan, sal ’n dubbel- batterystelsel goed werk. Maar dit lewer net krag vir ’n sekere tyd, en as jy ’n paar dae lank op een plek gaan bly, sal jy met Plan B vorendag moet kom.
Jy kan dit oorweeg om ’n kragopwekker koop, maar dis groot, het brandstof nodig en is raserig en rokerig (twee dinge waarvandaan jy juis wil wegkom as jy in die wildernis uitspan, of hoe?).
Sonpanele raak al hoe gewilder as ’n alternatiewe draagbare kragbron.
Solank daar sonlig is, sal die sonpaneel jou dag na dag van krag voorsien (en gelukkig is sonlig iets waarvan ons in Suid-Afrika genoeg het).
Hoe werk ’n sonpaneel?
Sonpanele skakel sonlig om in elektrisiteit (dit is iets wat jy hopelik reeds weet).
Hoe dit gebeur, is effens meer ingewikkeld en die rede vir die wetenskaplessie hieronder. Maar eers haal ons die angel uit vier volksvreemde uitdrukkings:
- Fotovoltaïes.
- ’n Sonpaneel wat krag opwek, word ook ’n fotovoltaïese paneel genoem.
- “Foto” beteken lig en “voltaïes” verwys na elektrisiteit.
- Foton.
- Dis ’n ligpartikel, of anders gestel, ’n hoeveelheid ligenergie.
- Halfgeleier.
- Dis ’n stof wat elektrisiteit onder sekere omstandighede kan gelei, maar die res van die tyd soos ’n isolator of nie-geleier optree.
- Elektron.
- ’n Subatomiese partikel met ’n negatiewe lading. (Wanneer jy met jou nuwe sonpaneel spog, kan jy jou pêlle met die verduideliking beïndruk.)
Reg, nou vir die wetenskaples: Fotovoltaïese panele word gemaak van ’n soliede halfgeleier (gewoonlik silikoon) wat onaktief in die donker of skaduwee is.
Maar as dit aan sonlig blootgestel word, veroorsaak die energie van die fotone wat met die paneel in aanraking kom dat die elektrone geprikkel word.
Omdat dit ’n halfgeleier is, kan die elektrone wat geprikkel word, beweeg, en dié vloei van elektrone “skep” dus elektrisiteit.
Maklik, nè?
Hoe tap ek dié krag?
As jy gekonsentreer het in die wetenskaples hierbo, sal jy weet direkte sonlig laat ’n sonpaneel werk.
Terloops, sodra sonlig die paneel tref, begin dit dadelik elektrisiteit opwek.
Na gelang van die soort silikoon wat gebruik word (meer hieroor later), werk die paneel op sy beste as die son op sy felste is.
Die res van die tyd, as die son flouerig is, word daar veel minder krag opgewek,
of selfs onbeduidende hoe- veelhede.
Rondom die middag word hope elektrisiteit dus opgewek, maar vroeër of later die dag (of as die paneel deur ’n wolk, kremetartboom of olifant versper word), sal veel minder of geen elektrisiteit opgewek word nie.
Gehaltesonkrag in Suid-Afrika word oor die algemeen oor ’n tydperk van vyf uur per dag opgewek.
Goed, maar hoe gaan ek die res van die tyd my elektriese toebehore aandryf? Die oplossing is doodeenvoudig: Kry ’n battery.
Jy kan sommer ’n son- paneel direk aan jou 4x4 se dubbelbatterystelsel koppel.
En as jy gewonder het: Dis nie ’n probleem dat die battery van twee bronne gelaai word nie.
’n Sonpaneel kan jou battery in werklikheid beter laai as jou alternator.
As jy egter nie ’n dubbelbatterystelsel het nie, is ’n gewone diepsiklusbattery
(R1 000-R13 000) ideaal.
WENK
Dis belangrik dat jy goed na jou battery kyk, anders sal sy lewensduur kortgeknip word: Moenie dit meer as 50% ontlaai nie. Laai ook die battery ten volle voordat jy dit bêre.
En as jy dit lank in die garage gaan los, oorweeg dit om ’n batterylaaier te koop.
Wat het ek nog alles nodig?
Kabel.
Jy het ’n elektriese kabel nodig om die paneel aan die battery te koppel (vra vir ’n 4 mm² elektriese kabel – die ouens by die ysterwarewinkel sal weet waarvan jy praat).
En hoe lank moet dit wees? Dit hang af waar jy die paneel wil sit. Party mense monteer die paneel op die dak van hul 4x4, en daarvoor het jy net ’n kort kabel nodig.
Die voordeel hiervan is dat jy jou battery kan laai terwyl jy ry. Maar as jy graag onder ’n boom kampeer, gaan die skaduwee die paneel waarskynlik versper.
En dis die rede waarom die meeste mense ’n draagbare paneel en ’n langer kabel kies (na gelang van die dikte van die kabel is 12 m gewoonlik die langste wat ’n kabel kan wees voor van die krag verlore begin gaan). Op dié manier kan jy steeds in die skaduwee kampeer, maar die paneel in die son sit.
Jy kan verwag om sowat R30 per meter vir ’n elektriese kabel van 4 mm² te betaal.
Reguleerder.
’n Sonpaneel weet nie wanneer om op te hou om die battery te laai nie. En as jy aanhou om ’n battery te laai wat reeds vol is, gaan jy dit beskadig.
Daarom het alle sonlaaistelsels ’n sonbeheerstelsel of reguleerder nodig, wat tussen die paneel en die battery sit. Dit is “brein” van die stelsel, en sal die lading van die battery beheer en ontlading keer as die battery nie laai nie.
Vir jou kampeerbehoeftes is ’n reguleerder van 10 ampère (A) voldoende. ’n Goeie een sal jou tussen R350 en R500 uit die sak jaag.
Bl 2: Só kies jy ’n ... Só kies jy ’n supersonpaneel
Hoe groot?
As jy ’n sonpaneel koop, koop jy in werklikheid krageenhede of watt (W). Hoe groter die paneel, hoe meer krag kry jy.
By die huis maak die grootte daarvan nie juis saak nie (jy kan jou hele dak vol sonpanele pak), maar omdat veldryers gewoonlik min pakplek het, is kleiner sonpanele jou voorland.
Volgens Steve Parry van Plan My Power is ’n paneel van 75-80 W die grootste wat jy prakties in ’n 4x4 kan pas. Die gemiddelde grootte is sowat 1,2 m x 0,5 m.
As jy meer watt nodig het, is dit beter om ’n modulêre stelsel, of twee kleiner panele, te koop. Wat ons by die volgende belangrike vraag bring …
Hoeveel watt?
Verskaffers van sonpanele sal jou help om die regte grootte model vir jou behoeftes te kies; jy hoef jou dus nie soveel hieroor te bekommer nie.
Maar jy moet hulle wel kan vertel watter toebehore jy wil laat aandryf. Vir ’n “normale” 4x4-toer met ’n 40 liter-yskas, ’n paar buisligte en ’n batterylaaier sal ’n enkelpaneel van 80 W genoeg wees.
Maar as jy ’n groter yskas en meer toebehore soos ’n omskakelaar vir jou skoot-
rekenaar het, sal nog ’n paneel van 80 W nodig wees.
’n Derde paneel is soms nodig vir ’n kraghonger kamp, maar dit gebeur selde.
Volgens Werner Fischer van Flexopower is dit nie net belangrik om die soort toebehore te oorweeg nie, maar ook hoe lank jy beplan om dit te gebruik.
Neem ’n 40 liter-yskas as ’n voorbeeld: Die paneel is daar om die lading van die battery aan te vul, verduidelik Werner, maar dit kan nie al die krag wat die yskas vreet, vervang nie.
As jy ’n kort rukkie op ’n plek bly, is dit nie ’n probleem nie – jy sal weer aan die gang wees voor die battery leeggeloop het – maar as jy langer as ’n paar dae op ’n plek wil bly,moet jy nog ’n paneel kry.
Vas of buigsaam?
As jy gedink het alle sonpanele is daai swaar menere van glas en metaal wat jy op ’n huis se dak sien, maak jy ’n fout. Dis moontlik om ’n glasvrye en selfs ’n buigsame of opvoubare eenheid te koop.
Dit hang net af van die soort silikoon wat gebruik word. ’n Vaste paneel gebruik gewoonlik ’n dikker kristalsilikoon wat deur glas bedek is, terwyl ’n buigsame of opvoubare eenheid ’n dunner, vormlose silikoonlaag het.
Elkeen het sy voor- en nadele. Kristalsilikoon is die doeltreffendste om elektrisiteit op te wek, maar dis dikker en swaarder om te vervoer.
Vormlose silikoon is ’n dun filmlagie wat op ’n buigsame materiaal aangewend word, dus kry jy ligter, buigsame panele wat maklik vervoer.
Die nadeel is dat dit minder doeltreffend is om sonlig na elektrisiteit om te skakel, maar interessant genoeg is dit meer sensitief in slegte lig. Dit kan dus meer elektrisiteit binne ’n dag opwek as ’n vaste paneel.
Party mense beweer dié dunner panele het ’n korter lewensduur as die glas-
panele; maak dus seker van die waarborg voor jy dit koop.
WENK
- Buigsame silikoonpanele is buitengewoon gehard (ons het al gehoor van mense wat daaroor gery het sonder dat dit beskadig is), maar jy moet natuurlik baie versigtig wees met die glasbedekte kristaleenhede, hoewel dit ook verbasend robuus is. Maar ’n stewige stamp of ’n klip kan dit beskadig. Bly veilig en bedek die paneel met ’n laag hoëdigtheid-skuimrubber (die materiaal waarvan stappers se matrasse gemaak word).
- Vee jou paneel af as dit stowwerig raak. Enigiets wat die son se strale keer om die fotovoltaïese selle te bereik, sal die doeltreffendheid van die sonpaneel beïnvloed. Party mense bereken dit op 5%, maar dit kan selfs meer wees as die paneel werklik vuil is.
Bl 3: Kies een ... Kies een ... en sien die lig
FLEXOPOWER SOLARPOUCH
Vir die klein dingetjies
Dié buigsame, opvoubare SolarPouch het ’n ingeboude reguleerder en ’n litium-ioon-battery. Jy kan dus jou toestel direk aan die battery koppel en dit dadelik begin laai.
Dis hoofsaaklik ontwerp vir selfone, maar jy kan ook jou iPod of GPS laai, of enigiets anders wat aan ’n USB 2.0- of mini-USB-kragpunt gekoppel kan word.
Krag: 1,5 W
Gewig: 125 g
Afmetings:
- opgevou: 21 x 7 x 0,7 cm;
- oopgeslaan: 21 x 22 x 0,15 cm
Prys? R800
Kontak? Flexopower 011 465 0022;
WegRy sê: Jy koop dit met tien algemene laaiverbindingstukke wat pas op die meeste selfoonmake (dit sluit egter ’n paar Samsung-modelle uit).
TE850
Vir vastigheid
Dié kristalsilikooneenheid is aansienlik swaarder as die ander modelle. Maar as jy plek binne (of bo-op) jou 4x4 hiervoor het, sal dit jare lank ’n goeie en getroue slaaf wees. (Die eenheid het ’n 25 jaar lange waarborg van Plan My Power.)
Dis kragtig genoeg om ’n 40 liter-yskas en ’n paar ander laekrag-toebehore aan die gang te hou, en jy kan maklik nog panele byvoeg as jy meer krag nodig het.
Krag: 75 W
Gewig: 7,8 kg
Afmetings: 123 x 55,6 x 2,5 cm
Prys? R4 200
Kontak?
- Gauteng: Plan My Power
- 011 678 7520;
- ;
- Wes-Kaap: Setsolar
- 021 535 1978
WegRy sê: Dis goeie waarde vir geld, maar onthou dat jy ook nog ’n battery, reguleerder én kabel moet koop.
POWERFILM-SONKOMBERS
Vou dit op
Dis ’n ware sonkombers hierdie: lig en dun genoeg om in ’n rugsak te pas, maar dit kan steeds 60 W krag lewer. Die vormlose silikoonlaag kan dwarsdeur die dag energie opwek, en sal selfs elektrisiteit lewer as dit bewolk of die lig swak is.
Krag: 60 W
Gewig: 1,2 kg
Afmetings:
- opgevou: 26,1 x 22,5 x 0,7 cm;
- oopgevou: 152,1 x 106,4 x 0,15 cm
Prys? R9 260
Kontak? Flexopower 011 465 0022;
WegRy sê: Dis die duurste eenheid van die vier hierbo, maar onthou dat jy betaal vir die gerief van minder gewig en dat dit maklik dra.
BUSHPOWER SOLAR68
Rol dit op
Dié plaaslik vervaardigde stel het ’n buigsame sonpaneel, 10A-reguleerder en ’n 15 m lange kabel, wat alles netjies in ’n PVC-dratas pas (waarin jy dit koop).
Hoewel dit amptelik 68 W lewer, beweer BushPower dit wek nader aan 80 W krag op danksy die vormlose silikoonlaag, wat meer sensitief is vir lig in die oggend en aand.
Krag: 68 W
Gewig: 7,8 kg (die volledige stel)
Afmetings: 289,5 x 39,5 cm (oopgevou)
Prys? R6 500
Kontak? BushPower 011 315 1400;
WegRy sê: Gebruikersvriendelik en heel maklik om te vervoer danksy die dratas (wat 39 cm x 41 cm groot is).
| 670.6 KB |












