Die meeste van ons weet ons moet na die gesondheid van ons brein, hart, vel en ingewande omsien, maar vergeet ons are. Dalk dink ons dis nie nodig nie. Maar ons het duisende kilometers are in ons liggaam wat dag en nag werk om bloed te vervoer, afval te verwyder en ons gesond te hou.
As hulle nie in goeie vorm is nie, kan dit lei tot pyn, swelling, bloedklonte en selfs ernstige komplikasies.
Hier is ’n gids van die mees algemene veneuse probleme en raad oor hoe jy jou are kan beskerm.
Spatare
In jou are is kleppe wat soos eenrigtingdeure optree en verseker dat jou bloed in die regte rigting na die hart vloei. Die kleppe is veral belangrik in jou bene, waar jou bloed teen swaartekrag moet beweeg.
Spatare kom voor wanneer hierdie kleppe nie behoorlik werk nie. Dit laat bloed opbou en plaas druk op die are – dit word “veneuse refleks” genoem – wat veroorsaak dat hulle swel, draai en uitbult. Spatare verskyn tipies net onder die vel op die bene, voete of enkels. Fyner aartjies vorm soms rondom en word spinnerak-are genoem. Hulle ontwikkel in kleiner bloedvate, nader aan die vel se oppervlak.
“Mense praat dikwels neerhalend oor spatare,” sê die Britse vaskulêre chirurg prof. Mark Whiteley. “In die verlede is dit as ’n suiwer kosmetiese probleem gesien, maar danksy navorsing weet ons nou dis nie die geval nie.”
Hoewel spatare nie ’n groot probleem vir die meeste mense is nie, kan dit soms komplikasies soos bloedklonte of sere veroorsaak. Simptome sluit in pyn, bene wat swaar voel, jeukerigheid of branderigheid, sowel as are wat sigbaar uitbult. Indien jy van hierdie simptome ervaar, gaan sien ’n dokter, en vra ’n dringende afspraak as dit bloei.
Chroniese veneuse ontoereikendheid
Dié toestand veroorsaak dat die are in die bene sukkel om bloed terug na die hart te pomp. Die resultaat is teenoorgestelde vloei wat lei tot inflammasie, tipies rondom die enkels, sê Mark. Spatare kan ’n simptoom van CVO, of CVI in Engels, wees.
Risikofaktore sluit in ouderdom, onaktiwiteit en ’n familiegeskiedenis van die siekte. CVO kan ook voorkom by mense wat voorheen diepaartrombose (DVT in Engels) gehad het en die simptome sluit in geswelde, verkleurde, pynlike of moeë bene of prikkels in die bene.
“As jy geswelde enkels het en dink jy kan die toestand hê, is dit baie belangrik om ’n skandering te kry, want na gelang van of jy CVO in die diep of oppervlakkige are het, kan die behandeling en uitkoms verskil,” sê Mark.
“Dit word ’n heel ander probleem as die diep are betrokke is, maar gelukkig – tensy jy diepaartrombose in die verlede gehad het – is dit gewoonlik oppervlakkig en kan dit byna altyd voldoende behandel word.”
Bloedklonte
Wanneer ’n bloedklont in jou are vorm, word die toestand ’n trombose genoem. Daar is drie hoofredes waarom dit gebeur – veranderinge in die bloed, die bloedvloei of in die aarwand.
Faktore wat jou bloed verander, sluit in die rook van sigarette en die gebruik van die voorbehoedpil, sê Mark. Die nikotien in sigarette veroorsaak dat bloedvate saamtrek, terwyl dit ook die voering van are beskadig en inflammasie veroorsaak. Die Pil bevat estrogeen, wat bekend is daarvoor dat dit bloed “taai” maak en die risiko vir die vorming van klonte verhoog.
Skade aan die aarwand kan voorkom weens inflammasie, gewasse, bestraling, ’n besering of chirurgie, en abnormale bloedvloei kan ervaar word wanneer jy sit of vir lang tye nie beweeg nie, sê Mark.
As ’n bloedklont onder die knie of in ’n oppervlakkige aar vorm, word dit oor die algemeen nie as gevaarlik beskou nie en dit los self later op. Rede tot kommer is as die klont in ’n aar agter die knie vorm of tussen die knie en die lies of bekken. Dit word diepaartrombose genoem.
Diepaartrombose (DAT)
“As ’n klont tussen jou knie en lies, of in jou bekken vorm, is daar ’n kans dat dit die hart kan bereik, na die longe gepomp word en ’n pulmonale embolisme (PE) kan veroorsaak,” sê Mark. ’n PE kan lei tot ernstige komplikasies, wat insluit asemnood en kardiovaskulêre probleme.
Die simptome van DAT sluit in kloppende pyn of swelling in een been, geswelde are wat hard of seer is wanneer jy daaraan raak en vel wat warm is rondom die pynlike area. Jy is meer geneig om DAT te kry as jy ouer as 60 is, spatare het, oorgewig is of die toestand voorheen gehad het.
“Op die lang termyn kan diepaartrombose ook die diep are beskadig. Jy kan vir lank sukkel met ’n geswelde, verkleurde been, dikwels met sere,” sê Mark. Dis belangrik dat jy dadelik dokter toe gaan as jy dink jy het diepaartrombose, veral as jy kortasem is of borspyn ervaar.
Veneuse sere
Dié oop en pynlike sere vorm gewoonlik aan die binnekant van die been tussen die knie en die enkel. Risikofaktore sluit in as jy voorheen DAT gehad het, spatare het, oorgewig is of probleme het om te loop.
“DAT kan sere op die lang termyn veroorsaak omdat die bloedklonte kleppe in die are kan beskadig, wat lei tot inflammasie wat die vel beskadig,” sê Mark. Veneuse sere sal waarskynlik nie op hulle eie beter word nie en vereis spesialis- mediese behandeling.
Topwenke vir gesonde are
Stap, hardloop en swem
“Die beste ding wat jy vir jou are kan doen, is oefen,” sê Mark. Oefening verbeter sirkulasie, wat help om bloed deur die are te stoot, veral in die bene, terug na die hart.
Stap, hardloop en swem is die beste oefening vir gesonde are. “Selfs al beweeg jy net jou voete op en af terwyl jy voor die TV sit en stimuleer so die bloedvloei in jou bene, help dit om druk op jou are te verminder.”
Kompressiekouse
Hierdie kouse is ontwerp om bloedvloei in die bene te verbeter deur druk toe te pas wat stywer by die enkel is en afneem na die bokant. Dis veral nuttig wanneer jy vir ’n lang tydperk sit, soos op ’n oorsese vlug, sê Mark, en kan ook help om spatare te voorkom of te bestuur.
Drink baie water
Wanneer jy voldoende gehidreer is, is jou bloed dunner. Dit beteken dis makliker vir jou hart om die bloed te pomp en deur die are te sirkuleer.
“Die eenvoudige manier om te weet of jy genoeg water drink is om na jou uriene te kyk,” sê Mark. “As dit die kleur van strooi is, drink jy genoeg.”
Vermy rook
Rook beskadig bloedvate en verminder die algehele sirkulasie in jou liggaam.
Dit kan ook die bloed laat verdik en suurstofvlakke laat afneem, wat die waarskynlikheid verhoog dat bloedklonte in die are vorm.
Bronne: © Ella nunn/telegraph media group holdings limited 2025
1630






