Leef

Herwinning: Moet dié drie mites nie glo nie

Ter illustrasie.
Ter illustrasie. (Foto: Gallo Images/Getty Images)

Hoekom herwin ons?

Stortingsterreine wêreldwyd is oorvol, en dit veroorsaak dat soveel meer skadelike chemikalieë en kweekhuisgasse vrygestel word. Elke jogurtbakkie, glasbottel, kartondoos of koeldrankblikkie wat ons herwin, beteken minder afval wat by sulke terreine gestort word. Dit help ook dat minder rou materiale nodig is om nuwe produkte te vervaardig.

Herwinningsprodukte moet skoon wees

Ja, tot ’n mate. Herwinnaars sê items hoef nie silwerskoon te wees nie, maar dit sal help as jy kosreste of vloeistowwe uitspoel. Baie herwinningsaanlegte begin die proses dadelik en het nie kapasiteit om items eers skoon te maak nie.

Maak ook seker dít wat jy gewas of afgespoel het, is goed droog voor jy dit vir herwinning stuur om kontaminasie te voorkom.

Die pyltjies beteken dis herwinbaar

Dis ’n wydverspreide mite dat die driehoekie wat op items verskyn, aandui dat iets herwinbaar is. Dis basies net ’n illustrasie, sê die herwinningskenner Mitch Hedlund. Dis in 1970 begin om die eerste Aardedag te herdenk.

Die syfers daarin verwys na watter soort plastiek dit is en hoe maklik dit herwin kan word. Syfers 1 en 2 verteenwoordig harde plastiek wat maklik herwin kan word. Enigiets van 3 tot 7 is sagte plastiek en word moeiliker herwin.

Plastieksakke herwin nie maklik nie

In sommige lande in Afrika word plastieksakke totaal en al verbied. Sommige mense reken dis ’n beter idee as om dit te probeer herwin. Ander lande herwin weer glad nie plastieksakke nie.

Volgens die afvalbestuursmaatskappy Averda hang dit van land tot land af of plastiek deel vorm van herwinbare items. Daar is masjiene wat nie die dun plastiek kan hanteer nie. In Suid-Afrika word plastieksakke wel herwin, ook omdat die vervaardiging van alternatiewe soveel meer sal kos.

As jy dalk nie altyd lus voel vir die moeite van herwin nie, dink aan stortingsterreine as groeiende berge van gif. Hulle versprei reuke, besoedel die grond en water en land uiteindelik in ons kos en die lug wat ons inasem. Hierteenoor is herwinning eintlik ’n voor die hand liggende keuse.

1630