
Hope lig en herwinde bal-en-klou-meubels gee dié en suite-badkamer 'n romantiese atmosfeer. Hoe lieflik is die keramiekbord agter die krane?

Dié slaapkamer is oordaad op sy beste met die kontras tussen die donker hout en wit antieke meubels. Ragfyn gordyne en 'n rottang-hanglamp ('n vlooimark-vonds) voltooi die prentjie.

Die stoep kry baie oggendson, maar die Virginia-klimop hou die area koel, wat dit die perfekte plek maak vir uitspan of 'n maaltyd geniet. Ons is dol oor die kontras tussen die geverfde houtmeubels en die gietysterstoele met hul swierige detail.

Blom-aksente, hetsy met plakpapier of verf, sal jou slaapkamer in 'n romantiese ruimte omtower. Hier lyk vlooimark-vondste heel tuis langs vintage-meubels en danksy die neutrale palet geniet die blomme teen die muur al die aandag.

'n Ou spieël was erg geroes, maar dis met wit verf opgekikker vir die sonnige voorstoep - en duidelik hou die rankplant ook daarvan.

Dit kos dalk harde werk en geduld, maar 'n boog wat met rose toegerank is, is net die ding as jy jou tuin 'n bietjie atmosfeer wil gee.













