Huis + tuin

Afgewitte houtvloere

Afgewitte houtvloere

Dis maklik, maar redelik tydrowend om die voorkoms te kry.

Riana Mellish skryf: Op bladsy 28 van jul Mei 2011-uitgawe was daar ’n Coricraft-promosie met die mooiste vloer. Hoe moet ’n mens ’n vloer behandel om soos die een op die foto te lyk? Ek wil so graag dieselfde voorkoms in my huis skep.

Rika Knoetze antwoord: So maak jy:

• Skuur die vloer (altyd saam met die grein) met 220-grint-skuurpapier, en stofsuig dit om al die houtstof te verwyder.

• Vee die vloer met ’n klam lap af om van alle stofdeeltjies ontslae te raak, en laat dit droog word.

• Meng intussen akriliese PVA-verf en dieselfde hoeveelheid water deeglik tot ’n eweredige digtheid regdeur.

• Wend die verf met ’n sponsroller op die vloer aan in lang, egalige hale. Dis makliker om twee of drie vloerplanke op ’n slag te verf. Moenie in die middel van ’n vloerplank ophou nie, want dit sal ’n merk maak.

• Versag die verfhale met ’n breë kwas. Vra iemand om jou hiermee te help terwyl jy met die roller werk. Hou die kwashale baie lig, en werk enige merke met die roller weg.

• Laat die verf heeltemal droog word, en skuur daarna weer. Stofsuig en vee weer af soos hierbo.

• Laat die vloer droog word en wend dan ’n waterbasis-poliuretaanvernis met ’n sponsroller aan; laat jou maat ook hier met die kwas agterna kom.

• Wag tot dié laag heeltemal droog is en skuur liggies. Stofsuig en vee enige reste met ’n klam lap of spons af.

• Wend dan nog ’n laag vernis aan, werk dit weer af met ’n kwas en laat dit droog word.

• Skuur die vloer laastens baie liggies af met 600-grint-skuurpapier, net om enige growwigheid weens die kwashale te verwyder en die oppervlak syglad te kry.

admin

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM