En wanneer jy later die liefde van jou lewe ontmoet, is dié blyplek dikwels net te beknop vir twee mense.
'n Huishouding waarin albei mense werk, kan gewoonlik wel 'n groter eiendom bekostig. En as jy nie eiendom in jou alleenloperdae gekoop het nie, is dit dalk nou binne jou bereik.
Dit help baie as jou papierwerk reeds agtermekaar is wanneer jy die dag die perfekte blyplek kry. Ou Mutual Bank gee dié wenke:
- Maak seker jou kredietrekord is in orde
- Skuld gaan eenvoudig nie vanself weg nie. Betaal al jou rekeninge betyds sodat jy 'n skoon kredietrekord opbou.
- Doen jou somme
- Stel 'n staat op van jou inkomste en uitgawes sodat jy weet wat die huispaaiement is wat jy kan bekostig. Die banke laat gewoonlik 'n paaiement van 30% van jou bruto inkomste toe.
- Kry 'n vooraf goedgekeurde leningsertifikaat
- Tydens dié proses doen jy reeds voordat jy wil koop by 'n bank aansoek om 'n lening. As alles goed gaan, kry jy dan 'n skriftelike bewys van die lening waarvoor jy kwalifiseer.
Wees realisties
Dis nie altyd 'n goeie idee om die grootste lening waarvoor jy kwalifiseer uit te neem nie. Saam met huiseienaarskap kom daar ander uitgawes, soos versekering, munisipale rekeninge, onderhoud en herstelwerk.
Beplan vir die onverwagse
Daar kan iets onvoorsiens gebeur nes jy jou laaste sente vir jou nuwe blyplek se oordragkoste bymekaargeskraap het: 'n stukkende geiser of diefalarm. Dis 'n goeie idee om 'n noodfonds vir sulke gebeurtenisse te hê.
Kyk voor jy koop
Die meeste mense is maar platsak nadat hulle eiendom gekoop het. 'n Huis met baie werk laat dalk jou selfdoenvingers jeuk, maar kan ook jou begroting verwoes.
'n Huis hoef natuurlik nie perfek te wees wanneer jy dit koop nie; jy moet net seker wees jy kan dit bekostig en weet waarvoor jy jou (geldelik) inlaat.
Nedbank raai kopers aan om na die volgende op te let:
- veiligheidshekke, alarm en diefwering
- vloerafwerking
- verfwerk
- lekplekke en krake
- plafon
- fondamente
- rioolstelsel
- elektrisiteit (veral in ou huise)
- vensterrame en deure
- plaveisel
- houtwerk
- swembad
- loodgieterwerk
- tekens van vogprobleme
Sakpas-dekorwenke

Die oopplan-uitleg van die huis op ons foto's is perfek vir mense sonder kinders: daar is net een slaapkamer wat beteken die leefvertrek is ekstra groot, en ideaal vir 'n moderne, minimalistiese styl.
Vloerplan

Struktureel
Al die mure is nie tot teenaan die plafon gebou nie. Dit sorg vir die maksimum natuurlike lig en bespaar boukoste.
Die enkele binnemure is droëmure van Rhinowall, en al die elektriese bedrading en loodgieterwerk is in dié mure. Dit is maklik om te installeer (die Gypsum Academy kan jou tydens 'n eendagkursus leer), en dis 'n vinnige boumetode wat arbeidkoste bespaar.
Droëmure is nuttig wanneer mense se behoeftes verander. Een groot vertrek kan byvoorbeeld in twee verdeel word, sonder ontwrigtende, stowwerige bouwerk. Die oop dakbalke skep 'n gevoel van ruimte. Die IsoBoard-plafonne is 'n kostedoeltreffende keuse: dit bied goeie isolasie en 'n esteties bevredigende afwerking.
Vloere en muurafwerking

Afgewitte dennehout is vir die vloere gebruik.
'n Oorgetrekte sponsmatras word as kopstuk gebruik en die Rhino Wall-droëmure is met Earthcote Limestone geverf.
Houtvloere is 'n duursame, tydlose keuse, en as jy moeg word daarvoor, kan jy die voorkoms met 'n verskeidenheid beitsprodukte soos dié van Genkem, Woodoc of Plascon verander. Earthcote Limestone verskaf 'n getekstureerde muurvoorkoms.
Meubels en bykomstighede

Wanneer twee alleenlopers se besittings saamgegooi moet word, kan dit 'n deurmekaarspul afgee - om nie te praat van huismoles nie. Beplan dus jul nuwe blyplek saam sodat albei tuis voel.
'n Mens hoef nie dadelik oral meubels te hê as jy in 'n groter plek intrek nie. Kies 'n paar goeie, basiese meubelstukke om mee te begin; die res kan later kom - as dit nodig is. In 'n oopplan-blyplek is minder regtig meer: meer beweegruimte, meer opsies met meubelplasing, meer lig.
Jy kan jou rande rek selfs as jou styl modern is. Die houttoonbank in die badkamer en die oorgetrekte sponsmatras wat in die slaapkamer as kopstuk dien, is goeie voorbeelde. 'n Verskeidenheid bekostigbare opsies vir vensters is by winkels soos Mr Price Home en Decorland (in Gamewinkels) te kry.
Die houttoonbank in die badkamer is 'n goeie voorbeeld om hoe jy jou rand kan rek.













