Plafon
Ons sien maklik die plafon oor omdat dit so moeilik is om by te kom, maar dit moet minstens twee keer elke jaar goed skoongemaak word. Verwyder alle kandelabers of ligtoebehore, haal kunswerke en foto's van jou mure af en beskerm meubels en vloere met drupvelle of ou koerante voor jy begin. Raak heel eerste ontslae van die spinnerakke in die hoeke. (Na regte moet dit elke maand gedoen word.) Gebruik jou stofsuier met 'n borselstuk vooraan. Moenie spinnerakke met 'n lap probeer afvee nie - dit kan 'n vuil streep op die verf los. Suig ook alle luggate skoon met jou stofsuier se punt om stof wat daarin aangepak het, uit te kry. As jy 'n versierde plafon of spesiale omlystings het, is dit goed om die verskillende teksture met jou stofsuier en 'n kleiner borselpunt skoon te maak.Vir wasbare geverfde plafonne het jy niks meer as 'n langsteel-sponsdweil, veeldoelige skoonmaakmiddel, verkieslik twee emmers (een om vuil water in uit te spoel), rubberhandskoene en 'n veiligheidsbril nodig nie.
Nota
- Probeer om nie vuil water teen die mure te laat afloop nie - dis moeilik om die strepe later te verwyder.
- Bedek die dweil se kop met 'n skoon lap en tik baie nat kolle droog voor jy na die volgende area beweeg.
- Wanneer jy 'n kombuisplafon skoonmaak, kan jy maar dubbel soveel skoonmaakmiddel gebruik om van hardnekkige olierigheid wat van die stoof afkomstig is, ontslae te raak.

Ligte
- Maak ligtoebehore elke keer skoon as jy 'n gloeilamp vervang.
- Sit ligte af voor jy dele verwyder.
- As toebehore baie vuil is, sal die lig nie so helder wees nie, wat daartoe kan lei dat jy krag mors.
- Was glasdele versigtig in seepwater.
- Vee dié dele wat jy nie kan afhaal nie, met 'n klam lap af.
- Gebruik die regte skoonmaakmiddels vir die regte metaal as dit kom by koper- of chroomtoebehore.
Mure
- Verf, plakpapier, panele of teëls - waarmee jou mure ook al bedek is, begin met 'n goeie afstof en verwyder alle muurversierings voor jy begin skoonmaak.
- Kleurkalk Maak 'n onopsigtelike deel van die muur met water en seep of 'n ligte reiniger skoon om te toets of dit nie die verf sal beskadig of die kleur sal beïnvloed nie. As dit werk, kan jy voortgaan. Werk van bo af ondertoe om te keer dat strepe vorm. Laat skoongemaakte areas oorvleuel om seker te wees jy slaan niks oor nie.
- Plakpapier Lees altyd die vervaardiger se skoonmaakaanwysings wanneer jy plakpapier koop. Vlekke moet so gou moontlik verwyder word om te keer dat die papier verkleur. Gewone vuilis en vingermerke kan met seep en lou water verwyder word; tik dit droog met 'n pluisvrye doek. Moenie reinigingsmiddels direk op plakpapier gebruik of hard vryf terwyl jy skoonmaak nie - die wrywing sal die papier beskadig.
- Houtwerk Houtpanele hoef gewoonlik net afgestof en met 'n houtreiniger of meubelpolitoer afgevee te word. Gebruik 'n lap wat met brandspiritus deurdrenk is en toets eers op 'n onopsigtelike plek. Onthou net dat brandspiritus vlambaar is - sorg vir genoeg ventilasie. Sodra die mure skoon en droog is, kan jy dit met 'n meubelwaks of sproeipolitoer behandel.
- Teëls Danksy al die spesiale skoonmaakmiddels vir teëls op die mark, is dit die eenvoudigste deel van jou groot huisskoonmaak. Volg die aanwysings en verdun die middel, indien nodig. Gee veral aandag aan die sement tussen teëls (gebruik 'n borsel), waar vuilis gewoonlik aanpak.
Vensters

- Was vensters op 'n bewolkte dag, want direkte sonlig veroorsaak strepe as skoonmaakmiddels op glas droog word.
- Was vensters aan die een kant met horisontale hale, en aan die ander kant met vertikale hale.
- Gebruik 'n langsteel-vensterwasser op groot vensters of skuifdeure.
- Vensters skitter éérs as jy hulle met ou babadoeke poleer.
- Ligte skrape op glas kan verwyder word deur dit met tandepasta te poleer.
Oraloor vars

Die lente is die beste tyd om jou huis lug te gee - haal die gordyne af, trek nuwe beddegoed oor en ruk elke hoekie, rak en laai reg. 'n Meubelstuk wat hard werk en wat dikwels onder ongelukkies deurloop, is jou bank. Materiaalbekleedsel kan maklik skoongemaak word deur dit te stofsuig, te stoom of met spesiale middels vir material te behandel. As jy meer as een oortreksel het, is dit nou tyd om dié met vlekke af te haal en te laat droogskoonmaak. 'n Leerbank hoef net met 'n wit doek wat met seepwater klamgemaak is, afgevee te word.













