Annette Versluis skryf: Ek het dié groot 40 cm-vaas en twee kleiner 16 cm-vase geërf by my ouma, wat dit gedurende die 1900’s in haar huis in Indonesië gehad het. Wat is dit werd?

Shona Robie van Stephan Welz and Co. se keramiekafdelingantwoord: Dié Chinese vase is vir die uitvoermark gemaak. Dis geverf in die Famille Verte-palet (met meestal groen skakerings), terwyl die donkerbruin stroke brons naboots. Die barsvorming en verbleiking van die porselein is ’n doelbewuste proses wat die illusie skep dat die ware baie oud is. Die simbole aan die onderkant is dié van die Kangxi-dinastie (1662–1722) en is gebruik uit respek vir en ter herinnering aan ’n vorige vorstehuis. Chinese merke is nogal moeilik om te interpreteer. Artikels wat uit ’n sekere era kom en daardie dinastie se merke dra, is uiters gesog; maar dan kry jy ook artikels wat die merke van ’n vorige dinastie dra – nie as nabootsings nie, maar as herinneringstukke. Ons sien deesdae al hoe meer namaaksels wat voorgee om uit die era van die merke daarop te kom. Die groter vaas en sy deksel was waarskynlik deel van ’n stel.
OUDERDOM Circa 1900
WAARDE R800–R1 000 vir die groter vaas; R300 vir die kleiner paar.













