Clivias is maklike plante om te kweek en te versorg - selfs vir die gewone tuinier, veral as jy dié raad volg:

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6160/6505c52377574fb8b8e974d4946bad4e.jpg
• Spit kompos en beenmeel in die grond in voordat jy jou Clivias plant. • Die plante hou van goeie dreinering en verkies suur grond.
• Plant hulle onder immergroen bome, want die blare kan skroei wanneer bladwisselende bome hul blare verloor.
• Voed jou Clivias vroeg in Augustus met 3:1:5 en weer in die herfs. Bounce Back werk ook baie goed.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6160/e07b9b22214e47ab846bd621353ab337.jpg
• Slakke en lelieboorwurms is peste waarvoor jy op die uitkyk moet wees. Vang die sondebokke voor hulle jou hele bedding beskadig. Spuit hulle andersins met Ludwig’s Insect Spray of Margaret Roberts Biological Caterpillar Insecticide; onthou ook om onder die blare te spuit. En strooi organiese slakdoder om die plante. Dan is daar blaarmyners, ’n redelike nuwe pes wat Clivias se blare beskadig - lang silwerkleurige strepe binnein die blare dui aan dat blaarmyners daar doenig is. Breek die beskadigde blare af en gooi dit weg. As die probleem voortduur, gebruik ’n geskikte organiese spuitmiddel.
• Groei nuwe plante van saad. Oes die vorige jaar se saad eers in Julie wanneer dit goed ryp is. Haal die buitenste skilletjie af en plant dit in ’n bak wat sowat 10 cm diep en met ’n potgrondmengsel gevul is; hou goed nat. Die sade behoort binne drie tot vier weke te ontkiem, maar die plante sal lank neem om te blom. Vra ’n Clivia-kweker vir meer raad.
• Jy kan ook jou Clivias elke drie tot vier jaar verdeel as jy meer plante wil hê.
• Clivias kom nie natuurlik in rypgebiede voor nie, maar kan met ’n bietjie hulp ook daar groei en blom. Gebruik skadunette om hulle teen ryp te beskerm.













