My hartjie, my liefie...

Bederf daardie spesiale persoon in jou lewe met 'n hart vol groenigheid. Die gras of ander grondbedekkers in dié hartvormpies sal heel gelukkig wees in die kombuisvensterbank of op jou eetkamertafel. Gebruik plante wat lekker ruik én wat jy maklik kan tem sodat die hartvorm nie verlore gaan nie.
Bottelblomme

Vrolik 'n wit vensterbank op met 'n klompie ou bottels waarin jy enkelsteelblomme of takkies loof uitstal.
Die tuinier se stoep

Skep 'n fraai hoekie op jou stoep. Plant 'n mooi grondbedekker in'n ou emaljebak en rond die prentjie af met hakies waaraan jy jou tuinhandskoene en -handgereedskap kan hang.
Kan jy nou muur!

Moet jou nie bekommer as jou buurman se grensdraad vir jou lelik of te na aan jou huis is nie. Maak dit onsigbaar deur 'n hoë muur te bou en dit in 'n Italiaanse landskap te omskep. 'n Kombinasie van reliëfpilare, verftegnieke, 'n fonteintjie, sipresse en laventel sal jou asem wegslaan.
Emmers vol kruie

Verf sinkemmers in kleure van jou keuse en gebruik hulle om vars kruie uit jou tuin in te bêre. Draai hakies onderaan 'n rak in jou kombuis - dan het jy altyd kruie byderhand as jy kook.
Iets uit niets

Maak soos dié ywerige tuinier: stapel terracotta-potte van verskillende groottes opmekaar met vloerplanke tussenin. Nou't jy 'n nuttelose hoek in 'n nuttige bêreplek vir al jou tuingereedskap en -benodigdhede omskep.
Ou staatmaker

Jy kan nie 'n wankelrige koekstaander met 'n koek vertrou nie. Maar gee hom 'n ander doel - laat hy eerder die plante ondersteun. Die potte hou die staander stabiel, mooi en funksioneel, en nou kan hy by elke geleentheid spog.













