Wat het jy nodig?
- maatband en potlood
- saag
- handwerkmessie en beitel
- skroewedraaier
- hamer
- waterpas
- skaaf
Inkopielys
- voordeur
- 3x100 mm-deurskarniere (indien dit vervang moet word)
- voordeurslotstel
- silindernagslot
- onderlaagverf
- verf met 'n oliebasis
So maak jy
1 Neem die mates van die kosyn en bestel 'n nuwe deur. Bestel liefs een wat effens groter is, want jy kan reg rondom 5 mm afskaaf en onder 25 mm.

2 As jy die ou deur afhaal, moet jy twee houtwiggies onderin druk. Dit hou die deur in posisie wanneer die skarniere losgeskroef is.

3 Skroef die deur los (skraap enige verf met 'n skroewedraaier uit die skroefgleuwe). Ingangsdeure het gewoonlik drie skarniere: Skroef eers die middelste een los, dan die onderste en laaste die boonste een. Skuif die deur versigtig weg van die kosyn.
4 Kyk of die hoek tussen die vertikale en horisontale dele van die kosyn 90° is, anders moet die deur bo geskaaf word. As die kosyne baie skeef is, moet dit liefs vervang word.
5 As die ou deur perfek gepas het, kan jy dit as 'n maatstaf gebruik wanneer jy die nuwe deur skaaf. Indien nie, moet jy aan albei kante die hoogte van die drumpel tot by die boonste skarnier-sponning (die groef in die deur waarin die skarnierflap versink word) meet, asook die afstand tussen die boonste en onderste skarnier-sponnings.

6 Merk dié afmetings op die nuwe deur met 3 mm speling weerskante en bo, en 5 mm onder. Skaaf die deur bo volgens die hoek wat jy tussen die vertikale en horisontale deel gemeet het. Werk altyd van die buiterande na die middel sodat jy nie die grein op die punte breek nie. Skaaf die deur onder indien nodig, en sit dit in die opening om vas te stel hoeveel jy aan die kante moet skaaf. Skaaf altyd ewe veel aan albei kante. Herhaal totdat die deur pas (met die nodige speling).

7 As jy die ou skarniere gaan vervang, moet jy kyk of die nuwe skarniere pas. Jy sal dalk die skarnier-sponnings dieper en breër moet maak met 'n beitel sodat die skarnier gelyk met die oppervlak inpas. Sit die deur in die opening, lig dit met die houtwiggies op tot die regte hoogte en merk die posisie van die skarniere op die kant van die deur.

8 Haal die deur weer uit en sit dit in 'n deurblok ('n stuk hout van 1 m met 'n gleuf van 70 mm in die bokant). Een kant van die gleuf word teen 'n hoek gesaag. Sit die deur in posisie en maak dit stewig deur 'n wig tussen die deur en hoekkant van die gleuf in te slaan.

9 Sit die skarniere tussen die merke op die deur en trek met 'n skerp potlood 'n lyn om elkeen. Gebruik 'n winkelhaak as rand en krap met 'n skerp handwerkmessie verskeie kere eers teen die grein sodat jy die houtvesel netjies sny, en daarna met die grein. Kap 'n breë beitel in elke rand, en dan elke 5-10 mm tussenin. Vee die los hout af en kerf die sponning met die beitel gelyk sodat dit net so diep soos die skarnierflap is.
10 Wig die deur stewig op die regte hoogte en boor gidsgaatjies vir die skarniere. Draai dan een skroef deur elke skarnier in die kosyn vas en toets die deur. As dit goed werk, kan jy die res van die skroewe vasdraai. Indien nie, verstel die skarniere en die deur soos nodig en skroef dit in die nuwe gate vas. As die deur nie maklik oop- en toemaak nie omdat 'n sponning te diep is, kan jy dit met karton of plastiek opvul.
11 Sit die slot en handvatsels volgens die instruksies in. Vou die maatplaat om die deur waar die slot moet wees, merk die middelposisie vir die knip en pen ("barrel") daarvolgens, en boor die gate. Hou die knip in posisie om die knipplaatjie op die deur se kant te merk en maak met 'n beitel 'n holte. Skroef die slotstel vas. Maak die deur toe om die posisie van die slagplaatjie op die kosyn te merk, versink soos nodig en skroef dit vas.
12 Monteer die silindernagslot ("deadlatch") volgens die instruksies. Die slagplaatjie van ons slot sluit 'n kosynversterker in wat vasgeskroef word voordat die slagplaatjie versink word.

13 Sit die middelstuk aan die deur en merk die silinder- en skroefgate met die maatplaat aan die binnekant van die deur. Gebruik 'n platboor vir die silindergat. As die boorpunt deurgaan, moet jy dit van die ander kant af terugboor sodat die deur nie beskadig word nie.

14 Voer die silinder van buite deur die gat en meet die verbindingstaaf. Haal dit uit, saag dit op die regte lengte af en skroef die skutplaatjie aan die deur vas.
15 Sit die silinder terug en sit die keerskroewe van die skutplaatjie in die gate in die silinder. Laat die binnedele ooreenstem en glip dit aan die slotkas. Nou is dié skroewe nie bereikbaar as die deur toe is nie.
16 As alles werk, kan jy die deur en toebehore afhaal en die deur verf voordat alles weer teruggesit word.













