Elke seisoen het sy eie bekoring – hier is ons kalender van lekker (en belangrike) take vir die tuin.
Somer

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6140/c458b6fe758e471cb2b10580c8910747.jpg
• Gee jou tuin vroegoggend of laatmiddag water en keer so onnodige verdamping.
• In die winterreënstreke is dit nou die tyd om houtvensterrame, -deure en -stoeppale te verf terwyl dit nog lekker droog is. Gaan jou dak en enige ontblote mure na en maak dit waterdig.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6140/acee9103a43544c5b578cff0a6c4194d.jpg
• Gee meerjariges soos salies, Penstemon en Plumbago ’n ligte somersnoei – dan sal dié plante tot in die herfs mooi blom.
• Geniet die somerblomme – jakobregops, dahlias, sonneblomme en afrikaners is nou op hul mooiste.
• Droog bossies origanum, tiemie, lourier en laventel en hou dit in lugdigte houers in jou spens vir noodgevalle.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6140/bbf16563928945caaf8056a4670a898a.jpg
• Dra ’n hoed wanneer jy tuinwerk doen en gooi ’n deklaag om jou plante – dan is almal beskerm teen die son! • Gaan jou besproeiingstelsel na, en maak seker jou plante kry genoeg water. • Lê nou steenvrugte en tamaties in vir die wintermaande. Konfyt en blatjang is lieflike Kersgeskenke.
Herfs

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6140/032ed781b0b6402ba7c046ad0aab5b17.jpg
• Hark ’n hoop herfsblare bymekaar vir jou kinders en speel saam met hulle daarin!
• Maak blaarmolm as jy baie bladwisselende bome het.
Gebruik ’n aparte houer hiervoor, want blare neem baie langer om af te breek as die groen afval in jou komposhouer. Jy kan bloot vier houtpale in die grond plant en ogiesdraad rondom span. Gooi ’n laag blare van sowat 10 cm hoog daarin en bedek dit met ’n dun lagie tuingrond. Herhaal die proses totdat die houer vol is en laat staan dit vir sowat ’n jaar; jy sal dan blaarmolm (verrotte blare) hê wat jy as ’n deklaag kan gebruik.
• Saai elke herfs Namakwalandse madeliefies omdat dit jou altyd in die lente met kleur sal beloon.
https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6140/4d873885b9754672a1c7d4f9647ddf4f.jpg
• Papawers, ridderspore, stokrose en vilette sal sorg vir ’n kleurvolle lentetuin.
• Plant lentebolle soos tulpe, hiasinte, affodille en Hollandse irisse in April en Mei en wag dan dat hulle in die winter ontpop en dan in die lente blom – pragtig!

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6140/53d55f6588b444b3a6d23f81a34caf2d.jpg• Is 'n skuif nodig? Verplant alle plante wat nie floreer nie (doen dit in April en Mei omdat die plant dan rus en nie so baie ontwrig sal word nie). • In winterreënstreke is dit nou die tyd om herfsblare uit geute te verwyder voor die groot storms kom. Snoei al die rankplante rondom grensmure. Snoei struike en bome terug wat hul blare verloor.
Winter
• Maak jou snoeigereedskap skerp. Julie tot Augustus is snoeityd – van rose en bougainvilleas tot vrugtebome. Moenie nou struike wat in die lente blom, snoei nie; wag tot nadat dit geblom het. Snoei groot bome terug wat hul blare verloor het of tot op die dak en geute groei.
• Kikker winterslaaie op met ’n paar kappertjieblomme; hulle is nou op hul mooiste. Onthou om die saadjies bymekaar te maak sodat jy volgende jaar weer hul oorvloed kan geniet.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6140/84ee572b1e9e4e1b999531526e954fee.jpg
• Pluk die vrugte van jou sitrusbome en kook stroop wat jy in die somer saam met vonkelwyn of sodawater in ’n lafenis kan optower.
• Verwyder onkruid uit opritte, en maak nuwe beddingrande met heiningsparre.
• Stel jou besproeiingstelsel volgens die seisoen. As jy in ’n winterreënstreek woon, kan jy dit nou afsit.
• Winterblomme soos magnolias, blomkwepers en Hellebores is nou op hul mooiste.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6140/e63bce4103ab40bf93559f257d6b5533.jpg
• Kyk of daar los plaveistene om jou grasperk en beddings is en herstel waar nodig.
• Kies ’n kamelia terwyl dit blom vir kleur in jou wintertuin. Aalwyne is ook nou op hul mooiste. • In somerreënstreke moet jy die grasperk aan die einde van die winter stomp sny en die dooie stele en wortels weghark. Voeg ’n bietjie bogrond by indien nodig. • Onthou om die dooie blomme van
Pelargoniums af te sny sodat hulle maande aaneen sal blom.
Lente
• Die eerste week van September is Nasionale Boomplantweek. Die algemene Boom van die Jaar vir 2017 is die Harige blinkblaar-wag-’n-bietjie (Ziziphus mucronata), terwyl die skaars Boom van die Jaar die Ebbeboom (Euclea pseudebenus) is. • Strooi kunsmis soos Bounce Back oor jou grasperk en blombeddings om dit ’n hupstoot te gee, en maak goed nat. • Hou jy van dié kleur? Verf dan jou tuinskuur dieselfde prettige somerkleur, Dulux Minted Glory 6.
• Diens jou grassnyer en randsnyer – van nou af sal jou grasperk een keer per week gesny moet word.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6140/be4318a822c74b0fa52e23b8f192190b.jpg
• Plant nuwe groentesaailinge; daar is niks beters as om jou eie groente te oes nie.
• Begin ’n wurmplaas – wurmkompos is pure goud.
• Maak steggies van die gesondste plante in jou tuin en gee dit vir jou vriende present.
• Vir roosliefhebbers
Oktober is die mooiste maand – geniet die eerste kleur en pluk die oorvloed vir jou huis en vriende. Bemes maandeliks met ander rooskunsmis.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6140/3926ff98c67144d8902f27d96a732709.jpg
• Nasionale Braaidag is 24 September – steek ’n vuurtjie aan!
• As jy ’n vyeboom het en groenvye wil inlê, pluk die vye voor 15 Oktober.
• Vrugtebome is nou in volle bloei – as jy nie een in jou tuin het nie, gaan loer in by jou plaaslike kwekery en koop een wat jou oog vang.













