Skep ’n lewende treffer vir ’n kaal kol, wat ook kos vir jou tafel verskaf, uit ou emaljeware.
Die herwinning-entoesias Marilize Spies van Doilies en Dinge kom gereeld met ekovriendelike en bekostigbare dekoroplossings vorendag. Dié keer wys sy dat ’n groen leefwyse nie net herwinning behels nie, maar ook volhoubaarheid – soos om soveel moontlik van jou kos self te kweek. ’n Vertikale tuin is die ideale plekbespaarder vir die doel!
Kyk wat jy het
• ou potte en panne
• herwinde planke
• ou vensterrame
• PVA-verf in die kleur van jou keuse
• hamer
• spykers
• spaanderbordskroewe
Bou jou vertikale tuin
1 Spyker ’n paar planke aanmekaar om ’n rugpaneel te vorm. Marilize het drie paletplanke horisontaal as stutplanke gebruik en die voorste planke vertikaal daarop vasgeskroef. Die horisontale stutplanke is later nuttig om dit teen die muur te monteer.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6152/a598693b4dd74d6586a095190d5154e9.jpg
2 Verf die planke in jou gekose kleur; Marilize het French Kiss uit Plascon se PVA-reeks gekies.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6152/d218152d76094db1acad8a55bf49f157.jpg
3 Kap die rame met dun spykers aan die rugpaneel vas en skroef die emaljehouers met spaanderbordskroewe vas. Maak seker hulle sit stewig genoeg om die gewig van die potgrond en die plante wat jy daarin wil plant, te dra.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6152/dcac81c1cec049a5b569e31820391f5a.jpg
4 Nadat jy al die houers aan die rugpaneel vasgeskroef het, kan jy die struktuur teen die muur monteer. Kies ’n plek waar jou plante genoeg son sal kry, maar tog teen die elemente beskerm sal wees. Vul dan die potte met potgrond en plant kruie daarin.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6152/11885e6d331f4a309ffa0392a0bb72bf.jpg
5 Onthou om ’n hand vol klippies onderin elke houer te gooi vir goeie dreinering. Maak daarna die houers halfvol potgrond voor jy jou saailinge daarin plant. Vul laastens die houers met potgrond en maak goed nat.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6152/aac75d992ec843ffbd2d880d037cac81.jpg
WENK Kruie groei goed in ’n beheerde omgewing en floreer as jy gereeld daarvan pluk.
KONTAK
Doilies en Dinge 083 256 0864
Ek wou nog altyd iets besonders teen dié stoepmuur skep. Hoewel dit onder dak is, kry dit net genoeg son vir ’n hangende kruietuin.













