
Klouhamer

Die veelsydigste hamer vir take in en om die huis het 'n steel van hout (dikwels okkerneuthout) of glasvesel, of staal met 'n rubbergreep. Die klou word gebruik om spykers uit te trek. Die gewildste klouhamers weeg sowat 455 g tot 680 g.
Bolpenhamer

Dié hamer kan gebruik word om paneelspykers en ander kleiner spykers mee in te kap. Omdat die kop of slaanvlak van 'n bolpenhamer maklik met verloop van tyd verweer, kan dit gewoonlik vervang word. Die stele is meestal van essenhout.
Skrynwerkershamer

'n Houthamer wat gebruik word om 'n beitel te kap of houtlasse teenmekaar te tik waar 'n metaalhamer die hout kan beskadig. Die kop is effens afgeskuins om die korrekte kontak met die werkstuk te bewerkstellig. Die steel én die kop is van hout, gewoonlik beukehout.
Rubberhamer

Daar is verskillende soorte, met óf harde óf sagte rubber- of plastiekslaanvlakke - nuttig wanneer jy met materiaal werk wat deur 'n staalslaanvlak beskadig sou kon word.
- Gryp die hamer stewig aan die onderpunt van die steel, sodat dit 'n regte hoek met jou arm vorm. Tik die spyker eers net liggies tot in die hout terwyl jou pols liggies skarnier - laat die hamerkop die werk doen. Kap stadig harder hoe dieper die spyker die hout indring, maar behou deurgaans beheer, anders kan die spyker buig of kan jy dit misslaan (en die oppervlak beskadig).
- As jy met 'n fynafgewerkte artikel werk, moenie die spykers heeltemal in die hout kap nie. Gebruik 'n pons om die spykers in die hout te versink. 'n Spykerpons het 'n plat (of effens konkawe) punt wat netjies op 'n spyker se kop pas en skade aan jou werkoppervlak help keer.
- As jy 'n lang spyker wil uittrek, plaas 'n houtblokkie onder die hamer se kop vir meer hefboomaksie en sodat daar nie duike in die hout verskyn nie.
- Dis raadsaam om gidsgate te boor voor jy spykers in hardehoutsoorte (soos eikehout en esdoringhout) of naby plankrande kap, om te keer dat die hout splyt. Gebruik 'n boorpunt net dunner as die spyker wat jy wil gebruik.
- As jou hamer maklik van spykerkoppe afgly, kan jy die kop se slaanvlak effens grof maak deur dit met mediumgrint-skuurpapier te skuur.
- Dra altyd 'n veiligheidsbril.













