Ons wys jou hoe om ’n roes-effek te verkry op ’n plantboks van hout.
VOLG DIÉ METODE. . .
Ysterverf
1 Gebruik die sponsroller en wend twee tot drie lae ysterverf op die plantboks se buitekant en borand aan. Verf die binnekant met helder vernis.
2 Sodra die ysterverf droog is, wend die roesaktiveerder (blougroen vloeistof) met ’n kwas aan. Dit sal ’n rukkie duur voor dit ’n uitwerking het.


WENK Laat die plantboks op ’n goed geventileerde plek staan, by voorkeur buite, om die proses te versnel.
. . . OF KIES DIÉ EEN
Oksiedpoeier Skink helder vernis in ’n houer. Doop die kwas eers in die vernis en dan in die rooi-oksiedpoeier en verf dit aan om ’n roeskleurige basis te vorm. Tik nou geeloksied en donker houtbeits oral oor die oppervlak aan.
Wend daarna weer rooi-oksied en vernis plek-plek bo-oor aan. Gaan voort deur die kwas telkens in die middels te doop en dit aan te tik tot jy die verlangde roesvoorkoms kry. Oefen die tegniek eers op enige ander voorwerp voor jy die werklike projek aanpak.















