Huis + tuin

Maak soos die bye

Dié insekte bou seskantige boksies van was om hul kosbare heuning en stuifmeel in te bêre. Doen hulle na en skep vernuftige uitstalspasie met dieselfde vorm.

Inkopielys

• 16 mm-dennelaaghout vir buitegebruik

• plakpapier en lym

Plus

• houtlym

• houtvuller

• 8 mm x 40 mm-skroewe

• 120- en 240-grint-skuurpapier

• skuurseëlaar

• beits

• 38 mm-spykers (vir spykergeweer)

Gereedskap

• hand-sirkelsaag

• boor en versinkboorpunt

• potlood

• maatband

• skroewedraaier

• groot tekendriehoek

Saaglys

• Saag die dennelaaghout oor die lengte in planke van 300 mm breed

Stap: 1

Bedek met plakpapier

Meng die plakpapierlym volgens die aanwysings op die verpakking en wend dit met ’n roller op die papier aan; wag sowat 10 minute en plak dit dan op die geskuurde hout. Vryf lugblasies met ’n lappie uit en vee oortollige lym van sigbare oppervlakke af. Gee dit omtrent twee dae kans om heeltemal droog te word.

WENK Sny jou plakpapier effens groter as die oppervlakke en sny ekstra papier met ’n skerp Stanley-mes weg nadat die lym goed droog geword het.

Stap: 2

Omdat my rak nagenoeg 500 mm breed moes wees, het ek ’n stuk afvalhout geneem en twee skroewe 250 mm uitmekaar (die helfte van die verlangde breedte) ingedraai sodat dit aan die onderkant uitsteek. Gebruik dit as kompas om ’n sirkel met ’n 500 mm-deursnee te trek.

Stap: 3

Gebruik weer die kompas en merk ses punte eweredig uitmekaar op die omtrek uit.

Stap: 4

Verbind die punte met ’n potlood en dui die dikte van die hout aan om die presiese mate van die sye uit te werk.

Stap: 5

Jy kan die hoeke op twee maniere aanmekaarsit; vir my is die oorslaglas sterker as die versteklas. Hou die plakpapier aan die binnekant. Besluit watter las jy gaan gebruik en saag eers die een sy teen ’n hoek voordat jy die plank omdraai en die ander sy saag; wees versigtig om nie die plakpapier te beskadig nie. Dis ook belangrik om seker te maak jy saag heeltyd teen ’n 90°-hoek van die rand af.

Stap: 6

Ek het my spoorsaag gebruik, maar ’n sirkelsaag met ’n fyntandlem sal ook werk. Stel jou saag teen 30 grade en klamp ’n blokkie op die oppervlak vas om ’n reguit lyn te verseker.

Stap: 7

Wend lym op een oppervlak aan en hou dit teen die ander een; skiet spykers van albei kante af vir ekstra sterkte.

Stap: 8

Plaas ’n afvalstuk hout bo in die boksie en merk die twee hoeke. Saag die hoeke en sit dit met spykers vas. Jy gaan die skroewe deur dié paneel in die muur indraai.

Stap: 9

Ek het die boksie met 6 mmspoorskroewe en muurproppe aan die muur vasgesit; werk met ’n waterpas om vlakke akkuraat te hou.

AFRONDING: Vul spykergate met ’n gepaste houtvuller en skuur lasse; wees versigtig om nie die plakpapier te skeur nie. Wend gekookte lynolie op die rou hout aan om die kleur uit te bring.

Shané Barnard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM