Dié eens kaal stoepie van 12 m² is vandag ’n eklektiese, sonnige toevlugsoord aan die voet van Tafelberg. “Ek het ’n groot venster aan die kant laat insit om te keer dat die suidoos ons wegwaai. Daarna het die gestreepte gordyne voor die venster gevolg, die rolblinding wat die skerp middagson moet uithou, en die dagbed wat ek op die platteland raakgeloop het,” onthou Susanne, die huiseienaar. Sy het die ruimte afgerond met elegante rottangmeubels en laag op laag bykomstighede in verskillende patrone en teksture.
Teëls op die vloer is wel prakties, maar kan koud wees onder jou voete – vandaar die lae los matte. Die stoep is waar meestal gekuier word. “Om hier op die stoep onder die naghemel by kerslig te sit terwyl die braaivleisvuur brand, is ’n betowerende ervaring,” vertel Susanne. Maar dis ook die ideale plek vir ’n middagslapie. “Dis net te heerlik om so weg te dut met die kalmerende klank van die fontein se water in my ore.”
Hoekom dit werk
• Die glaspaneel beskerm die stoep teen die sterk suidooster.
• Los matte laat dit voel soos nog ’n vertrek, asof dit ’n verlengstuk van die sitkamer is.
• Omdat dit hoër as straatvlak is, bied dit die mooiste uitsig op die stad sonder om privaatheid in te boet.
Top-wenk
Bring tyd op jou stoep deur; kyk watter uitwerking die wind en reën en die lig op
verskillende tye van die dag en die jaar op die ruimte het. Dan kan jy besluit waar
skadu, skuiling en windskerms nodig is.

http://tuis.co.za/wp-content/blogs.dir/1/files/2014/12/1114DEChiggo-003MOBI.jpg

http://tuis.co.za/wp-content/blogs.dir/1/files/2014/12/1114DEChiggo-004MOBI.jpg

http://tuis.co.za/wp-content/blogs.dir/1/files/2014/12/1114DEChiggo-005MOBI.jpg













