By Renee de Waal: http://www.interiorcreators.com/
Wat ons van ons kinderdae onthou, onthou ons vir ewig. Dié herinneringe is soos permanente skimme op ons geheue afgedruk, altyd daar. ~ Cynthia Ozick
Van die eerste moment dat ek ma geword het, het ek bly wonder hoe ek my kosbaarste herinneringe lewendig kon hou. Dink net: Die enigste dinge wat ons vir altyd ons s’n kan noem, is die kosbaarste oomblikke uit ons verlede. Dis ons manier om vas te hou aan dit waarvoor ons lief is en nooit wil verloor nie.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6148/f9e1a40b40fa41d998ef5b01a0c3379f.jpg
Omdat dié ervaring vir my baie na aan die hart lê, was ek so bly toe ek op dié oulike “onthou”-beertjie-konsep afgekom het; dis ’n prettige bymekaarkoms van simboliek en herinneringe. Vir baie van ons simboliseer die teddiebeer dinge soos kinderlike onskuld, iemand wat vir ons lief was, spesiale geleenthede en gerusstellende aanrakings. En is daar nie ’n inwonende teddiebeer in so te sê elke huis nie? Dis waar die “onthou”-beertjies inkom – as ’n collage van herinneringe bestaande uit knope en lint, foto-afdrukke van die familie, geliefkoosde kledingstukke of ’n spesiale geleentheid – als aanmekaargewerk om jou unieke storie te vertel. Tesame met die feit dat hergebruik deesdae die gonswoord is, kan ek aan geen beter idee dink om daardie magiese oomblikke vas te vang nie.
Maar jy kan die projek selfs verder voer: Dink net ’n bietjie skeppend en jy sal met allerlei idees vorendag kom oor hoe jy jou onthou-beertjie ook praktiese nut kan gee, byvoorbeeld deur dit in ’n speelse bedliggie te omskep. Kies daarby ’n skerm wat jou persoonlike dekorstyl en smaak komplementeer.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6148/d47dcccfcf5f4842a69f208960cb5f12.jpg
Ek put gerusstelling uit die gedagte dat ek my kosbaarste oomblikke kan vasvang. En dat daar potensiaal vir nuwe nut in al my herleefde (“herliefde”?) skeppings is – net vir die lekkerte van onthou!













