Dié ou huis in Woodstock in die Kaap het ’n splinternuwe kombuis gekry, maar steeds sy Victoriaanse wortels behou. Net soos in die meeste ou huise wat opgeknap
word, het die muur tussen die kombuis en leefkamer heel eerste gewaai. Wilja Reitz en haar lewensmaat, Gary Jansen, hou van beton en het dit ingespan vir die oop rakke en werkblaaie. ’n Kaggel in die middel van die kombuis sorg vir ’n heerlike warm, knus gevoel in die winter. Die rou bakstene is geseël en dra by tot die aardse gevoel, terwyl die terracottakleure terselfdertyd warmte aan die andersins neutrale kleurskema verleen. Hierdie detail word ook rondom die ingeboude stoof herhaal. In dié kombuis gewaar ’n mens nie ’n enkele ingeboude kas nie, en amper alles word op oop rakke uitgestal. Daar is slegs een kas langs die vuurherd met toe deure waar kos gebêre word. Onder dié kas is ’n rak van vlekvrye staal wat die moderne voorkoms van die toestelle herhaal. Die voorkoms word afgerond met ou spieëls, ’n ouwêreldse gordynkap bo die venster, en ’n kristalkandelaar.
’n Verskeidenheid teksture – van hout, sement en rou baksteen tot vlekvrye staal, spieëls en kristal – skep ’n gesellige voorkoms.















