Huis + tuin

Sweis met sukses

Sweis met sukses

Harde werk 7/10

Vaardigheidsvlak 8/10 (vereis noukeurige meet- en snywerk en redelik goeie sweisvaardigheid)

Tyd nodig Sowat vyf uur per hek

Inkopielys

  • raam: twee 1 400 mm-lengtes en twee 1 000 mm-lengtes 25 x 25 mm-vierkantstaalpyp
  • regop stawe en dwarsstut: tien 1 400 mm-lengtes 10 x 10 mm-staalstawe
  • nege gegote fleur de lis-spitse
  • twee gegote krulversierings

Ander

  • sweisstawe
  • twee koeëlskarniere
  • twee basisplate van 100 x 100 mm
  • ± vier spoorskroewe (om die basisplate teen die muur vas te sit)
  • verdunners en ou lappe
  • universele onderlaag en emaljeverf in 'n kleur van jou keuse of Hammerite in 'n kleur van jou keuse

Gereedskap

  • skerp potlood en kryt
  • ystersaag of hoekslypmasjien (met sny- en slypskywe)
  • sweismasjien
  • veiligheidstoerusting (veiligheidsbril, sweishelm, handskoene)
  • kombinasiewinkelhaak
  • bikhamer en draadborsel
  • elektriese boor, staalboorpunt van 5 mm, houtboorpunt van 5 mm (vir die moderne hek) en klipboorpunte
  • G-klampe
  • 90/45º-magnete (opsioneel)
  • maatband
  • 38 mm-verfkwas
  • waterpas
  • waterpomptang

So maak jy 

1 Gebruik die kombinasiewinkelhaak en merk 45º- hoeke op elke ent van al die vierkantstaalpyplengtes (twee 1 400 mm- en twee 1 000 mm-lengtes). Maak seker die ente is so gemerk dat elkeen in dieselfde rigting skuins afloop en dat die algehele lengtes steeds dieselfde is.

2 Sny die hoeke vir die raamwerk met 'n hoekslypmasjien en staalsnyskyf. Onthou om altyd 'n veiligheidsbril en handskoene te dra wanneer jy sny- of slypwerk doen - veral as jy met staal werk.

3 Sweis die buiteraam by die vier hoeke aanmekaar. Gebruik 'n kombinasiewinkelhaak of 90º-magneet om seker te maak die hoeke is haaks.

4 Sweis nege 1 400 mm-stawe eweredig uitmekaar bo- en onderin die raam vas. Saag die dwarsstut korter, indien nodig, en sweis vas. Verwyder sweisspatsels met 'n bikhamer.

5 Gebruik 'n draadborsel om enige sweisspatsels van moeilik bereikbare plekke af te kry.

6 Sweis die sierspitse bo-op die raam, elkeen reg bo 'n regop staaf, vas.

7 Die krulversierings word aan die middelste regop staaf vasgesweis.

Sit jou hek se skarniere aan

Hegsweis die pen (manlike deel) van die koeëlskarnier reg in die middel van die basisplaat vas. WENK Dit help as jy die basisplaat teen 'n hoek hou terwyl jy die sweislas voltooi. Boor nou vier gate in die hoeke vir die spoorskroewe.

Gebruik 'n waterpomptang en knyp die vroulike deel van die skarnier op die regte hoogte aan die buiteraam vas. BELANGRIK Plaas dit nader aan die voor- of agterkant van die raam, afhangende van hoe die hek moet oopswaai. Hegsweis en sweis dit net soos hierbo aan die hek vas.

Ter versiering

Gietyster-sierstukke soos spitse en krulle is by die meeste staalhandelaars te koop, en daar is 'n magdom style waaruit jy kan kies. Ons het op dié twee bypassende stukke besluit om ons "klassieke" hek mee af te rond. Druk jou persoonlike stempel op jou hek af met siervorms in 'n gepaste styl.

Suné Esterhuizen

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM