1 Beste maats vir rose
Daar is baie plante wat goeie maats is vir rose en die hele jaar trefkrag in jou tuin sal verseker; party blom dieselfde tyd as rose, ander gee kleur in die groeimaande. Wat jy ook al rondom jou rose plant, moet net nie indringende wortelstelsels hê nie en hul stamme moet sterk wees.
• Salie, laventel, geurmalvas, Santolina, kattekruid en lamsoor wat vir hul loof eerder as hul blomme gekweek word, is ou gunstelinge.
• Achillea, Anchusa, pronkridderspore, Dianthus, irisse, ridderspore, lelies, skildblomme en Scabiosa sal kleur gee en kaal roosstamme wegsteek.
• Hooggroeiende plante soos kosmosse, gipskruid en Oenothera (Gaura) kan ook tussen rose geplant word.
2 In son en skaduwee
Kleur in jou tuin is altyd welkom, hetsy in bont beddings of as eenkleur-kolle
• Beddingsalie in room, salm, pienk, rooi, wynrooi, laventel en pers kan hitte, volson en halfskaduwee weerstaan. Ander goeie somerplante is Ageratum, maagdeblomme,
heuningblommetjies, ysterkruid, Nicotiana, hanekamme en jakobregops. Of kies wit, pienk of rooi beddingbegonias.
• Krismisrose (Hydrangea macrophylla) hou van ligte skaduwee, terwyl eikeblaarhortensias (H. quercifolia) en gepluimde hortensias (H. paniculata) beter sal vaar in sonnige of baie warm tuine waar hulle net oggendson kry. Moderne Hydrangeakultivars is kleiner en kompakter, wat hulle ideaal maak vir houers of randakkers in ligte skaduwee.
• Kies impatiëns, akeleie, Bergenia, nieskruid, Torenia of varings vir skadukolle.
3 In potte
Potte vol magrietjies, beddingdahlias, afrikaners, petunias en jakobregops is net die ding vir stoepe, ingange en buitekuierareas. Plant begonias, impatiëns, Torenia
en josefskleed in houers op skaduryke plekke. Kies verskillende groottes en fatsoene as jy van ’n mengelmoes hou, en groepeer saam vir groter trefkrag.
• By die agterdeur kan jy potte vul met kappertjies, malvas en afrikaners, en sommer in dieselfde pot kruie soos basilie, tiemie, pietersielie, koljander en salie plant.
• Rangskik plante met verskillende groeiwyses so saam: dié wat vertikaal groei in die middel, omring deur plante wat laer groei. Rond die pot af met plante wat oor die rande van die houer tuimel om die voorkoms te versag.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6160/7e24c7ae27fe4f94a8e4dc3dc59cc00c.jpg

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6160/2767ec1cdc0f4e16bfce1d9b468e786d.jpg













