Tyd is kosbaar, maar jy kan dié retro-horlosie (of drie) sommer in ’n japtrap maak. Skep ’n treffende fokuspunt deur dekorelemente in drieë te groepeer.

Inkopielys
• Pak met tien kurkteëls
• 3 boksies drukspykers in verskillende kleure
• 3 kwartshorlosiemeganismes
Ander items
• houtlym
• spuitverf (in kleure wat by die drukspykers pas)
Gereedskap
• matsnyer, NT-snyer of skêr
• potlood
• liniaal
• gradeboog
Projeknotas
• Die wysers is net in een standaardkleur te kry, maar jy kan dit maklik spuitverf om by die drukspykers te pas.
• Pleks van drukspykers kan jy syfers op die uurpunte plak – kyk uit daarvoor by skryfbehoeftewinkels.
Stap: 1
Gebruik ’n stukkie tou of ’n kompas om nege ewe groot sirkels, omtrent 300 mm in deursnee, op nege van die teëls te teken.

Stap: 2
Bepaal die middelpunt van elke sirkel met ’n liniaal en merk dit.

Stap: 3
Sny nou die nege skywe met ’n NT-snyer of skêr uit die kurk.

Stap: 4
Wend houtlym aan die kurkskywe en plak hulle driedrie opmekaar.

Stap: 5
Sny ’n gat van sowat 8 mm in deursnee in die middel van elke horlosie – gebruik die merk wat jy in stap 2 gemaak het.

Stap: 6
Spuitverf die wysers om by die kleure van die drukspykers te pas.

Stap: 7
Plaas nou ’n ander horlosie bo-op, of gebruik ’n gradeboog as jy meer akkuraat wil wees, en merk die 12 ure op elke horlosie se gesig.

Stap: 8
Sit die horlosiemeganismes teen die agterste kurkskyf vas en maak seker die “bokante” wys na die 12-uurpunt.

Stap: 9
Stel die tyd.














