Plant houers vol kleur
Kikker ingange, stoepe en buitekuierareas op en laat jou gaste nog meer welkom voel. Doen dit so:
• Sit potte vol jaarplante by ’n ingang vir trefkrag. Dwerggousblomme, salie, Nicotiana en ysterkruid hou van son, terwyl beddingbegonias, impatiëns, Torenia, josefskleed en krismisrose goed sal werk in skaduwee.
• Kies wit, room, geel, pienk, appelkoos of rooi margrietjies met enkel- of dubbelblomme (Argyranthemum) in volle blom om kitskleur te gee in potte op die stoep. Hulle sal aanhou blom as jy gereeld die ou blomme verwyder.
• Skep vertikale trefkrag op ’n stoep deur rankende plante in diep houers te plant met tralies waarteen dit kan opgroei. ’n Outydse potstaander met verskillende vlakke is perfek om potplante in ’n hoekie uit te stal. ’n Koemkwat – ’n klein sitrusboompie wat net oor ’n meter hoog word – is ideaal vir ’n groot pot op ’n stoep. Jy kan ook ’n calamondin in ’n pot plant – met vruggies wat soos klein lemoentjies lyk, maak dit ’n pragtige vertoning in ’n houer.
As jy weggaan
• Voor jy die pad vat, sorg dat jou tuininstandhouding op datum is en alle onkruid uitgetrek is.
• Groepeer al jou potplante bymekaar sodat dit makliker is vir ’n vriend om dit nat te maak. Jy kan geharde huisplante buite los, maar maak seker dat dit beskut is teen direkte sonlig, reën, hael en wind – skep ’n tydelike skuiling van skadunet.
• Lang gras is ’n aanduiding dat die huismense weg is; reël dus dat jou gras gereeld gesny word.
• Maak jou randakkers en struike goed nat net voor jy met vakansie gaan, en strooi ’n dik deklaag van growwe kompos of bassplinters rondom die plante. Dit sal help om die grond koel en klam te hou.
Klop die hitte
• In winterreëngebiede is die somer droog en warm. Kies daarom inheemse, hittebestande plante wat hul man kan staan in warm, winderige weer. Strooi ’n dik laag growwe kompos of bassplinters rondom die plante om vog in die grond te behou en te keer dat die wind die bogrond wegwaai.
• Hou tuine in somerreëngebiede gesond deur plante gereeld te bemes, dooie blomme af te sny en onkruid uit te trek. Maak jou tuin een keer per week goed nat as die reën wegbly. Maak groot, dorstige grasperke wat boonop baie moeite verg kleiner deur grondbedekkers te plant of dele daarvan met plaveisel of gruis te vervang.

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6160/6ffcc9c1a41640dc8359dd1653f6c7d2.jpg

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6160/cfa9bafd8d384d7c995a43c0a1dc06f2.jpg

https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/6160/70ed64ab613948e0a6004f8c523fd63a.jpg













