1 Maak skoon
Daar's verskeie verfstroopprodukte en tegnieke - kies wat die beste vir jou en vir die hout werk.

Laat die produk 'n paar minute aan die hout sodat dit kan reageer en verwyder dan al die los verf met 'n skraper. Werk versigtig sodat jy nie die hout beskadig nie, en volg die houtgrein.

2 Skuur glad
Ideaal gesproke behoort alle oppervlakke met die hand afgeskuur te word, want dan kan jy makliker saam met die grein werk. Gebruik 'n skuurblokkie op gelyk oppervlakke en 'n sponsblokkie op kurwes. Skuur geronde dele liggies met 'n stuk skuurpapier.

Die grint agterop skuurpapier verwys na die graad van fynheid. Afhangende van die hardheid van die hout of die hoeveelheid materiaal wat verwyder moet word, kan jy met 60- of 80-grintpapier begin, daarna 120 of 160 grint gebruik, en heel laaste 220 of 360 grint. Vir die gladste afwerking, gebruik nog fyner papier of staalwol.
Die enigste kragskuurder wat werklik geskik is vir fyn afwerking, is 'n wentel- of eksentriekskuurder. Moenie die skuurpapier te veel laat aanpak nie en moenie te veel druk toepas nie, anders sal dit merke op die oppervlak maak.

3 Seël behoorlik
Wend vernis met lang, egalige hale in die rigting van die grein aan, in stroke wat net so breed soos jou kwas is. 'n Paar dun lae is beter as een dik laag.
As die vernis te dik voel, kan jy die eerste laag effens verdun. Gebruik terpentyn of minerale spiritus vir natuurlike vernis, en die vervaardiger se aanbevole verdunner vir poliuretaanvernis.

Keer lugborrels en strepe in die afwerking deur nooit die blik te skud nie en nie oortollige vernis uit jou kwas te druk teen die binnerand nie - tik dit eerder af.
Laat die eerste laag heeltemal droog word, skuur liggies en vee die skuurstof af; herhaal met nog een of twee lae.

Olie
Vir 'n duursame, helder satynafwerking, wend olie met 'n kwas of katoenlap oor die houtoppervlak aan. Wag 'n paar minute dat dit intrek voor jy nog 'n laag (of twee) al met die grein langs aanwend. Met nuwe meubels is dit raadsaam om gedurende die eerste maand weekliks olie aan te sit, en daarna elke ses maande.














