Huis + tuin

Waterslim grondbedekkers

Foto's Francois Oberholster en verskaf

Met 'n lewende grondbedekker is jou tuin kleurvol, bly die grond langer koel en lok jy welkome voëls en insekte na jou werf. Op dié manier skep jy 'n unieke habitat wat boonop mooi lyk! Ons het vier tuinkenners gevra watter grondbedekkers met min moeite 'n bedding vinnig sal toegroei. Hier is van hul gunstelinge.

Ons kenners

  • Helia Smit, 'n tuinboukundige by Cape Garden
  • Neville Orsmond van Create a Landscape
  • Anja Freysen van die Shadowlands- groothandelkwekery
  • Wouter Kruidenier van De Kruidenier Eksklusiewe Tuine

Oortjies (Falkia repens)

Neville

Oortjies is 'n geharde, matvormende grondbedekker met 'n plat groeiwyse. Dit het pragtige ronde blaartjies en spog van September tot Desember met groot ligpienk tot wit trompetvormige blomme. Dié inheemse grondbedekker groei in die son sowel as gedeeltelike skaduwee, en hoewel dit in taamlike nat dele goed sal groei, is dit ook gelukkig met minder water sodra dit goed gevestig is.

Oortjies is 'n goeie opsie tussen plaveiblokke en lyk mooi al met die rand van 'n bedding langs. Dit sal 'n oop stuk grond vinnig toegroei en kan as 'n alternatief vir gras gebruik word waar daar nie veel voetverkeer is nie. Of plant dié vinnige groeier in 'n pot - dit lyk pragtig as die blomme oor die rand van die pot hang.

Ondanks sy delikate voorkoms is oortjies gelukkig in hitte, droogte én arm grond!

Plantgids

  • Son en halfskaduwee
  • Inheems
  • Rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Hoogte 5-10 cm

Tapytmadeliefie (Dymondia margaretae)

Helia en Neville

Die tapytmadeliefie is inheems, gehard en groei vinnig met 'n netjiese en kompakte groeiwyse. Dis boonop droogtebestand en geskik vir enige waterwys tuin, solank dit genoeg son kry. Tapytmadeliefie blom feitlik heeljaar, maar is op sy mooiste in die lente en somer. Klein, geel madeliefieagtige blommetjies sonder steeltjies verskyn feitlik bo-op die plant se pragtige blou-grys blare.

Nog 'n bonus van dié inheemse grondbedekker is dat dit 'n mate van voetverkeer kan hanteer wanneer dit eers gevestig is. Dit kan dus as 'n waterslim alternatief vir gras gebruik word aangesien dit heelwat minder water as gras nodig het.

Omdat tapytmadeliefie so laag groei, werk dit goed tussen plaveiblokke in 'n sonnige binnehof of al langs 'n warm paadjie. Dit aard ook in rotstuine en by die kus.

Plantgids

  • Volson tot ligte, droë skaduwee
  • Inheems
  • Waterwys
  • Redelik rypbestand
  • Hoogte 5 cm

Gouevygie (Lampranthus aureus)

Helia

'n Vroliker grondbedekker as dié vygie sal jy moeilik kry! Met sy helderkleurige oranje of geel blomme sal dit enige waterwys tuin ophelder. Dis 'n vinnige groeier en sal gou 'n kaal stuk grond bedek. Die plant kom natuurlik voor in die Wes-Kaap, al met die Suidwes- en Weskus langs. Dit groei veral goed in winterreëngebiede met warm, droë somers.

Danksy sy vetplantagtige blare kan dit in droë tye met baie min water oorleef. Gouevygie aard goed in sanderige tot leemgrond en het baie son nodig. Die blommetjies maak oop wanneer die son skyn en dit blom op sy mooiste in Augustus en September.

Plantgids

  • Volson
  • Inheems
  • Waterwys
  • Ligte ryp
  • Hoogte 40-50 cm

Rooi brakvygie (Aptenia cordifolia)

Helia en Wouter

Hierdie geharde grondbedekker groei vinnig en is 'n staatmaker in waterwys tuine. Dit is ook ideaal om die grond teen steil hellings vas te hou en 'n baie goeie keuse om in keerwalblokke te plant; hulle sal dit in 'n kits toegroei.

Met sy pragtige, glansende blaartjies en donker dieprooi blomme trek dit altyd die aandag. Die blomme verskyn van Augustus tot April en gaan oop op die helderste tyd van die dag, gewoonlik van laatoggend tot in die middag. Rooi brakvygie is baie aanpasbaar en sal in amper enige omstandighede en grond goed aard. Dit groei maklik van steggies en hoewel dit in winterreënstreke in die wintermaande nie so mooi vertoon nie, herstel dit vinnig in die lente. Hoewel rooi brakvygie droogtebestand is, kan dit ook meer gereelde water hanteer. Dit aard goed in kustuine en gee nie om vir wind en seesproei nie. Dit lok ook baie skoenlappers en bye na jou tuin. Dié grondbedekker kom natuurlik voor in somerreëngebiede, die Oos-Kaapse kusgebied en in KwaZulu-Natal.

Plantgids

  • Volson
  • Inheems
  • Waterwys
  • Redelik rypbestand
  • Hoogte 10 cm

Lotus berthelotii

Anja

Dié grondbedekker sal jou in jou spore stuit! Met sy fyn grys naaldvormige blaartjies en eksotiese blomme in skakerings van geel, oranje tot rooi trek dit dadelik die aandag. Dit blom met tussenposes regdeur die jaar, maar is oortrek van blomme in die lente en somer.

Plant dit in goed gedreineerde, komposryke grond sowat 45 cm uitmekaar om die bedding gou toe te groei. Dit aard goed in volson, maar verkies 'n koeler klimaat - plant dit in warm streke in gedeeltelike skaduwee. Gee gereeld water tot dit goed gevestig is en daarna net as die grond droog is. Te nat en deurweekte grond kan die wortels laat verrot. Wanneer nuwe takkies uitloop, breek die boonste puntjie versigtig af. Dit moedig die plant aan om sylote te maak wat dit 'n nog digter mat-voorkoms sal gee. Maak nuwe plante van steggies.

Dié plant lyk ook mooi in hangmandjies en potte, en is perfek om 'n wal mee toe te groei.

Dié plant se blom het die voorkoms van 'n papegaai se bek, vandaar die Engelse volksnaam "parrot's beak".

Plantgids

  • Volson
  • Rypgevoelig
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Hoogte 20 cm

Lepelblaarplakkie (Crassula spathulata)

Wouter en Neville

Dié immergroen, vetplantagtige grondbedekker is uiters gehard, groei vinnig en is maklik om te kweek. Met sy amper lemmetjiegroen ronde blaartjies en fyn pienk-en-wit blommetjies maak dit 'n pragtige vertoning in die skaduwee. Dit blom in die lente en somer en word in blomtyd gereeld deur ewe klein bestuiwers besoek. Die plakkie lyk mooi as 'n massa-aanplanting onder bome, al met 'n beddingrand langs of in potte en hangmandjies waar dit oor die rand kan tuimel.

Crassula spathulata is ook nuttig om teen hellings te plant om die grond te stabiliseer. Dit aard in feitlik enige tipe grond, solank die dreinering goed is. Hoewel dit 'n vetplant is en min water nodig het, sal dit ook in 'n tuin met normale besproeiing floreer. Dit groei maklik van steggies en saad.

Plantgids

  • Halfskaduwee tot skaduwee
  • Inheems
  • Waterwys
  • Ligte ryp
  • Hoogte 10 cm

Grondbedekkers is die harde werkers wat die klammigheid in die grond en jou tuinvloer groen hou, dikwels sonder waardering. - Neville

Algemene wenke

  • Berei die grond goed voor. Vind by die kwekery uit wat die behoeftes is van die grondbedekker wat jy kies. As die plante van die begin af kry wat hulle nodig het, sal dit die grond vinnig toegroei.
  • Moenie probeer om jou hele tuin op een slag toe te maak nie. Kies 'n deel en plant daar meer eerder as minder plantjies. Hoe meer plante per vierkante meter, hoe vinniger sal die grond toegroei.
  • Kyk of die grondbedekker van jou keuse in 'n sespak beskikbaar is - dis altyd 'n meer bekostigbare opsie as om plante een-een te koop.
  • Plant blombolle onder 'n kruipende grondbedekker wat nie hoër as die bolplant raak nie. Só kan die bolle kom en gaan soos hulle wil sonder dat dit die gevaar loop om raakgespit te word terwyl dit dormant is.

Nog staatmakers

Sedum rupestre ‘Angelina'

Druiweblaaraster (Othonna capensis)*

Crassula nussbaumerianum

Vygie (Delosperma-spp.)*

Aanteelrosie (Crassula capitella)*

Matvygie (Ruschia lineolata)*

Vrouebossie (Geranium incanum)*

Rankvingerhoedjie (Asystasia gangetica)*

Botterblom (Gazania-hibriede)*

Dwergpurperwinde (Convolvulus sabatius)

* Inheems

Kies wys!

Daar is talle maniere om grond toe te maak en oop dele tussen bome en struike te bedek, en elkeen het sy eie voor- en nadele. Helia vertel meer oor die voordele van 'n lewende grondbedekker.

"Lewende grondbedekkers is in die meeste gevalle sagter op die oog as byvoorbeeld klippies of selfs bas," sê sy. "Dit is ook meer ornamenteel en trek dadelik aandag, hetsy met 'n mooi blommetjie, interessante tekstuur of treffende blaarkleur.

"Daar is 'n groot verskeidenheid lewende grondbedekkers om van te kies vir verskillende omstandighede in 'n tuin. Voor jy koop, maak seker hoeveel son of skadu kry die stuk grond wat jy wil laat toegroei. Jy moet ook weet of jy dit in 'n droë of natter deel van die tuin gaan plant. Hou die bepaalde voorkoms wat jy aan die bedding wil gee, sowel as die doel van die grondbedekker, in gedagte. Kies iets wat die plante in die onmiddellike omgewing sal komplementeer en wat geskik is vir die doel, byvoorbeeld matvormend tussen plaveiblokke of 'n welige groeier onder bome. Vra raad by die kundiges by jou kwekery.

"Wanneer grondbedekkers eers goed gevestig is, groei dit 'n oop stuk grond gou-gou dig toe. In die proses versmoor dit boonop die onkruid, wat minder instandhouding beteken. Die plantjies hou die grond koel deur die skaduwee wat dit skep, en as dit waterwys is, het jy boonop min water nodig om dit welig te hou. Die plante se wortelstelsels help ook dat reënwater in die grond insak, eerder as dat dit wegloop, soos dit geneig is om op 'n kaal stuk grond te doen."

Dwergspekboom (Portulacaria afra ‘Prostrata')

Anja

Dié inheemse vetplant is 'n geharde, laaggroeiende lid van die spekboom-familie. Waar die alombekende spekboom regop groei, het dié familielid 'n kruipende groeiwyse wat dit so 'n goeie grondbedekker maak. Plant dit in goed gedreineerde grond in die son of skaduwee. Dit floreer in arm grond en droë toestande en is dus ideaal vir 'n waterwys tuin. Wag tot die grond uitdroog voor jy weer natmaak.

Spekboom groei ook maklik van steggies - breek net 'n takkie af en druk dit in die grond. Met sy klein, vetplantagtige blare op geboë rooibruin stele is dit ook geskik vir 'n pot, 'n hangmandjie of om keerwalle toe te groei. Dit aard goed in seetuine en is windbestand.

Plantgids

  • Volson tot skaduwee
  • Inheems
  • Redelik rypbestand
  • Waterwys
  • Hoogte 15 cm

Om lewende grondbedekkers te plant is soos om 'n tapyt in jou tuin te skep. - Anja

Rotstuinsalie (Plectranthus neochilus)

Wouter

Hoe minder water, hoe mooier blom die rotstuinsalie! As dit te veel water kry, groei dit te geil en hoog. Dié inheemse grondbedekker aard in warm, sonnige en droë tuine, sowel as in die skaduwee. Dit aard in enige tipe grond, maar verkies sanderige grond met goeie dreinering. Rotstuinsalie groei vinnig en is baie maklik om te vermeerder met steggies - druk net 'n takkie in die grond. Selfs 'n stukkie wat op die grond beland, sal vinnig wortelskiet en groei. Vernuwe die bedding so elke twee jaar as dit begin slordig lyk.

Plant eenvoudig steggies van die bestaande grondbedekker tussenin en trek met verloop van tyd die ouer plante uit.

Rotstuinsalie blom oorvloedig en aanmekaar van September tot April. Die blomme groei bo die grysgroen blare uit; laasgenoemde het 'n sterk reuk as jy dit vryf of kneus.

Plantgids

  • Volson en halfskaduwee
  • Inheems
  • Redelik rypbestand
  • Waterwys
  • Hoogte 25 cm

Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides)

Helia

Hoewel sterjasmyn dikwels as 'n rankplant gebruik word, maak dit ook 'n wonderlike grondbedekking. Dis veral in die laatlente en vroegsomer oortrek van wit stervormige blommetjies wat heerlik ruik. En al blom dit nie, is die blink donkergroen blare steeds mooi.

Wanneer jy dit as 'n grondbedekker wil inspan, hoef jy nie die gewoonlik duurder plante wat reeds hoog groei, te koop nie; 'n kleiner een sal perfek werk. Spasieer sterjasmynplante sowat 40 cm uitmekaar in goed voorbereide, komposryke grond. Sny die lang lote gereeld terug om die plant aan te moedig om 'n digte grondbedekking te vorm, maar moet dit nie kort voor blomtyd doen nie. Die plant kan ook ná blomtyd bolangs goed teruggesnoei en gelyk gesny word. Sodra die plant gevestig is, het dit minder water nodig.

Plantgids

  • Skaduwee tot son
  • Redelik rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Sowat 30 cm hoog as grondbedekker

Feetjie-crassula (Crassula multicava)

Neville en Anja

Crassula multicava is 'n geharde grondbedekker wat goed aard in klam of droë dele en in ligte tot diep skaduwee. Dit is die perfekte oplossing vir moeilike beddings onder bome - plant 'n massa bymekaar om 'n pragtige vertoning te maak. Dit blom van Mei tot November en gee in die wintermaande kleur met hul fyn, stervormige blommetjies.

Die plakkie lyk ook mooi in potte en groei maklik van steggies - breek net 'n takkie of selfs 'n blaartjie af en druk dit in die grond. Dis 'n vinnige groeier en sal in droë tye oorleef.

Dié maklike groeier werk goed in skadukolle wat min water kry.

Plantgids

  • Halfskaduwee tot skaduwee
  • Inheems
  • Redelik rypbestand
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Hoogte 30 cm

KONTAKTE

Anja Freysen, Shadowlands, anjafreysen1@gmail.com, shadowlands.co.za

Helia Smit, Cape Garden 021 988 4137, capegardencentre.co.za

Neville Orsmond, neville@createalandscape.co.za, createalandscape.co.za

Wouter Kruidenier, De Kruidenier Eksklusiewe Tuine, dekruidenier.co.za

Bronne

Waterwise Gardening in South African and Namibia deur Ernst van Jaarsveld

Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten

lifeisagarden.co.za

Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin

plantzafrica.com

theplantlibrary.co.za

Marié Esterhuyse

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM