Huis + tuin

Wit goud in blou

Dié teestel was my ouma s’n. Daar’s vier koppies, pierings en koekbordjies, asook ’n teepot en melkbeker. Kan julle my sê hoeveel dit werd is?

Ainsley Taylor antwoord: Die stel is tipies van die keramiekware van Staffordshire

in Engeland, wat sedert die Nywerheidsrewolusie in die 18de eeu tot onlangs die sentrum

van ’n florerende keramiekbedryf was. Voor die 18de eeu is al die keramiek in Engeland van ’n rooierige klei gemaak. Maar toe fyn wit, amper deurskynende Chinese porseleinware in Europa aanland, wou al wat ryk aristokraat was dit hê. Ongelukkig het niemand geweet hoe om dit te maak nie. In 1720 het ’n pottebakker van Staffordshire daarin geslaag om ’n wit klei te skep. Hoewel dit nie dieselfde eienskappe as porselein gehad het nie, is dit “china” genoem en het dit uiters gewild geword as aantreklike, bekostigbare alternatief vir egte porselein. Dié stel is tipies van wit erdeware (“china”); die blou-en-wit versiering in die Delft-styl was ’n gewilde keuse vir sulke produkte. Omdat die “Royal Windsor China”-merk op die stel nie een van die bekender fabrieke identifiseer nie, vermoed ek dat dit deur ’n kleiner pottebakkery gemaak is. Die styl en versiering is ’n aanduiding van wanneer dit gemaak is.

OUDERDOM Circa vroeg 20ste eeu

WAARDE R700–R900

Shané Barnard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM