Die koel klimaat van die Elgin-wynvallei sorg vir uitstaande wyne, maar daar is ook baie ander doendinge in die gebied. Hier is 'n paar plekke wat jy kan besoek.
Paul Clüver

Hierdie landgoed staan bekend as die pionier van Elgin se wynstreek, met die gebied se eerste wingerde hier geplant in 1987 - geen wonder Paul Clüver se wyne pronk gereeld op wenlyste nie.
Met hul koel klimaat en oeroue grond, word veelbekroonde chardonnay en pinot noir gemaak - beslis die twee kultivars wat jy hier moet proe.
Die kundige personeel sal jou in die proelokaal verwelkom en op 'n sintuiglike reis neem deur die plaas se eiesoortige wyne, elkeen se struktuur en geur gedryf deur die terroir van hierdie wynplaas.
Proeë kos tussen R50 en R200.
Daar word ook heerlike kaasborde aangebied, elk 'n samestelling van geselekteerde kase uitgesoek om die verskillende wyne aan te vul.
Diegene wat langer wil vertoef, kan 'n rustige noenmaal geniet in die plaas se restaurant wat uitkyk op die Groenlandberg. Hier word geregte voorgesit wat gemaak is uit seisoenale bestanddele met die klem op geur, varsheid en genot - natuurlik vergesel met Paul Clüver se wyn.
- Paul Clüver is heelweek oop.
Oak Valley
As 'n vyfdegenerasie-familieplaas moet Oak Valley in die hartjie van Elgin ook op jou besoeklys wees.
Hier word van sauvignon blanc tot chardonnay en pinot noir gemaak, maar dit is altyd die riesling wat 'n welkome verrassing en lekkerny is.
Hul restaurant The Melting Pot bied 'n globale koservaring en die spyskaart verander gereeld.
Avontuurlustiges kan ook hier aansluit vir hul mooi bergfietsroetes.
- Oak Valley is heelweek oop.
Lothian Vineyards
Vir 'n lekker wynervaring met wyne wat die terroir enkompleksiteit toon, maak 'n draai by Lothian Vineyards.
Hier moet jy beslis die pinot noit en chardonnay op dieproef stel. Albei wyne is elegant en toon diepte.
Hulle bied ook verblyf op die plaas.
- Lothian Vineyards is Maandae tot Vrydae oop vir wynproe ennaweke slegs per afspraak.
Elgin Vintners

Die wyn doen beslis die praatwerk by Elgin Vintners.
Hier kan jy smul aan 'n verskeidenheid van kultivars uit hul wingerd.
Die pizza-en-wynproe (R250) is 'n gunsteling, met vier van hul bekroonde wyne wat met mini-pizzas voorgesit word: 'n vegetariese pizza met die Cloud Haven Sauvignon Blanc, 'n kaaspizza met The Century, 'n vleispizza met die Elgin Vintners Merlot, en 'n pizza met biltong en vye saam met die Elgin Vintners Syrah.
Jy kan ook ander pizza en kaasborde bestel om aan te peusel.
- Elgin Vintners is oop van Woensdae tot Sondae.
Paul Wallace

As jy 'n sagte plekkie in jou hart vir malbec het, is Paul Wallace die plek vir jou.
Hier gaan jy nie net wynproe nie, maar ook meer hoor oor die stories agter die wyne se name, natuurskoon en die geselskap van die eienaars en hul honde.
Dit kos R90 om ses van hul wyne te proe en soettande moet beslis die wynproe saam met Belgiese sjokolade (R150) probeer.
- Hulle bied ook selfsorg-kothuise as jy wil oorbly.Paul Wallace is Saterdae oop en ander dae slegs per afspraak.
Highlands Road
Vir 'n plek waarheen jy jou kinders en honde kan neem, is Highlands Road bo-aan die lys.
Hier kan jy uitsien na heerlike chardonnay, sauvignon blanc en semillon om te geniet terwyl jy uitspan op die plaas.
'n Wynproe kos R60 per persoon.
Hulle bied ook heerlike kaas-, vleis- en veganis-peuselborde (R190 vir twee mense) om saam met die wyn te geniet. Bespreek 24 uur vooraf hiervoor.
Verder kan jy stappies tussen die wingerde, proeë langs die dam, en kroukie geniet.
- Highlands Road is heelweek oop.
Elgin Railway Market

Jy kan nie in Elgin gaan kuier oor 'n naweek en nie by die Elgin Railway Market 'n draai maak nie.
Hierdie ou appelfabriek bars uit sy nate as die markie op Saterdae en Sondae in volle gang is. Van musiekvermaak, aktiwiteite vir kinders tot baie kos en wyn om te geniet.
Jy kan uitsien na pizzas, burgers, Thai-disse, vis-en-tjips, soesji, en selfs soetgoed.
By die Elgin Cool Wine-winkel sal jy al die koelklimaatwyne van Elgin op een plek kan kry sonder om van plaas na plaas te ry.
Snuffel ook deur die stalletjies met juwele, sakke, klere en vele meer.
Vir kinders is daar onder meer 'n klimraam, miniatuurgholf, swaaie en 'n springkasteel om te geniet en hulle mee besig te hou.
Oor naweke kan jy selfs per trein na die markie gaan met die Ceres Rail Company se stoomtrein wat ritte van Kaapstad na Elgin bied.
- Die volle markie is Saterdae en Sondae, en op Woensdag- en Vrydagaande is daar beperkte stalletjies wat oop is.












