Resepte en stilering Aletta Lintvelt | Kosassistent Merrill Buckley
Jy benodig
(genoeg vir 8)
- 1 heel lamsrib van ongeveer 1,2 kg
- sout en swartpeper na smaak
- 2 eetlepels olyfolie
- ½ koppie broodkrummels
- 1 koppie gemengde vars kruie - ons het roosmaryn, pietersielie, tiemie en salie gebruik
- 4 eetlepels gerasperde parmesaankaas
- 2 eetlepels dijonmosterd
Só maak jy
1. Geur die lamsvleis na smaak met sout en swartpeper en drup die olyfolie oor.
2. Braai die vleis oor taamlik warm kole tot dit oraloor mooi goudbruin is, en hou dit dan eenkant.
3. Smeer die rib met die mosterd en rol dit in die mengsel van broodkrummels, kruie en parmesaankaas.
4. Krap die kole na die kant van die ketelbraai toe en sorg dat die temperatuur matig is - ongeveer 170 °C. Sit die lam op 'n gietysterblad of oondpan op die rooster met die krummels boontoe.
5. Rooster die vleis vir 30 minute met die ketelbraai se deksel op. Haal dit van die rooster af en laat dit rus vir 10 minute voordat jy dit sny.
Die baktyd van die vleis in die ketelbraai hang af van hoe warm jou kole is. Sorg dat die kole matig is, anders gaan jy die vleis en krummels verkool.
Jy kan altyd nog bysit of dit effens langer bak as dit nog te pienk is na jou smaak.












