Kos + wyn

’n Spogmaaltyd soos min!

Perdeblom-en-sydisselpasta met spekboompesto

Genoeg vir 6

Voorbereityd sowat 2½ uur

Gaarmaaktyd 5 minute

Jy benodig

PASTA

  • 70 g perdeblom en sydissel (dandelion en sow thistle) of gebruik spinasie
  • 5 eiers
  • 3 koppies meel
  • 5 g sout

SPEKBOOMPESTO

  • 300 g spekboomblaartjies
  • 150 g okkerneute
  • 75 ml geurlose olie soos canola- of druiweolie
  • 75 g pecorino/parmesaan
  • sout en peper na smaak

Só maak jy

1 Maak die pasta Spoel die perdeblom en sydissel af (moenie groente of onkruid gebruik wat met insekdoder gespuit is nie). Meng met die eiers.

2 Sif die meel en sout en gooi dit uit op 'n skoon werkoppervlak. Vorm 'n dammetjie in die middel.

3 Giet die eiermengsel in die dammetjie en meng dit met 'n vurk by die meel in tot 'n deeg vorm wat nie aan jou hande vassit nie.

4 Knie die deeg vir sowat 10 minute. Bedek met kleefplastiek en laat rus vir minstens 2 uur in die yskas.

5 Rol die pasta uit en sny in tagliatelle-repe. Laat dit 'n rukkie hang om effens uit te droog.

6 Kook in gesoute water vir 4-5 minute.

7 Maak die spekboompesto Pols al die bestanddele in 'n voedselverwerker. Voeg nog olie by as dit te droog is.

8 Sit die pasta dadelik voor met pesto ruim bo-oor geskep.

Gevulde lamsliesrol met ryskoekies

Genoeg vir 6

Voorbereityd 1 uur

Gaarmaaktyd 4-5 uur

Jy benodig

LAMSLIES

  • 1½ kg lamslies
  • 10-15 ml gerasperde suurlemoenskil
  • 15 g sout
  • 5 g peper
  • 10 g gemengde droë kruie
  • 5 g rissievlokkies
  • 100 g misbredie (Amaranthus) of spinasie

MENTSOUS

  • 3 uie, grofgekap
  • 15 ml geurlose olie
  • 10 g sout
  • 5 g peper
  • 30 g mentblare
  • 2 x 400 g-blikke gekapte tamaties
  • 2 blikke wyn (meet af met die tamatieblik)
  • 1 blik warm water

RYSKOEKIES

  • 500 g gaar bruinrys
  • 60 g natuurlike jogurt
  • 100 g okkerneute, grofgekap
  • 15 ml geurlose olie
  • 12 gaar wingerdblare

Só maak jy

1 Maak die lamslies Sny alle oortollige vet van die vleisstuk af.

2 Meng die suurlemoenskil, sout, peper en kruie en vryf dit aan die binnekant van die lies.

3 Lê die misbredieblare op die die speserymengsel neer, rol die lies op en bind vas met tou.

4 Braai in olie in 'n pan tot oraloor bruin. Hou eenkant.

5 Maak die mentsous Braai die uie in olie in dieselfde pan. Voeg die sout, peper en ment by sodra dit verbruin. Voeg die tamaties en wyn by en laat 5 minute prut sodat die geure kan trou.

6 Giet die sous in 'n oondbak en sit die vleisrol bo-op. Gooi die blik water by. Sit in die oond teen 170 °C en bak vir sowat 4 uur. Kyk elke uur of die vleis nog met vloeistof bedek is. Dis gereed wanneer die vleis maklik vlok as jy dit met 'n mes steek.

7 Maak die ryskoekies Meng al die bestanddele behalwe die olie en wingerdblare.

8 Smeer ramekins met olie en sit twee blare in elk.

9 Vul met die rysmengsel en vou die blare bo-oor. Sit in die oond vir die laaste halfuur wat die vleis bak.

10 Vir voorsit Sit 'n ryskoekie op elke bord en 2-3 skywe vleis langsaan. Drup sous oor die bord ter versiering.

Geposjeerde wildeals-pere met okkerneut-brosbrood

Genoeg vir 6

Voorbereityd 45 minute

Gaarmaaktyd 25 minute

Jy benodig

DEEG

  • 110 g okkerneute
  • 190 g koekmeel
  • 2 g sout
  • 160 g botter
  • 70 g strooisuiker

PERE

  • 6 halfharde pere
  • 20 g bruinsuiker
  • 4 takkies wildeals
  • 500 ml water
  • 1,5 g sout
  • versiersuiker vir oorsif

Só maak jy

1 Maak die deeg Kap die okkerneute fyn.

2 Sif die meel en sout en maak 'n holte in die middel.

3 Voeg die botter en strooisuiker by en sprinkel die neute oor. Meng met jou vingerpunte tot 'n sagte deeg vorm. Draai toe in kleefplastiek en sit in die yskas tot goed verkoel.

4 Sit die deeg tussen twee stukke boekplastiek en rol uit. Druk vormpies uit en sit in die yskas tot benodig.

5 Bak teen 160 °C tot net liggoud.

6 Maak die pere Skil die pere, maar hou die stingels aan. Sit dit in 'n kastrol, bedek met die water en voeg die suiker, wilde-alstakkies en sout by. Kook tot gaar, maar steeds ferm en laat afkoel in die water tot opdiening.

7 Vir voorsit Sif versiersuiker oor die brosbrood en pak 'n peer bo-op elk.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM