Motors

Die nuwe Toyota Fortuner

Hartbeespoort Bill Harrop's Original Balloon Safari Tan Malie se Winkel Hartbeespoort Bill Harrop's Original Balloon Safari Tan Malie se Winkel (Toast Coetzer)

Die Toyota Fortuner is nou al amper 'n dekade met ons en die nuutste modelle bied jou 'n verfrisde weergawe van eienskappe waarmee eienaars lankal mee spog: krag, styl én betroubaarheid. Dít hoef jy nie by 'n fortuinverteller te gaan vra nie - jy kan sommer net in een klim en 'n draai gaan ry. Ja, dié Fortuner vertel sy eie fortuin.

Om groot te word in Toyotas

Soos baieSuid-Afrikaners het ek in 'n Toyota of twee grootgeword. In my geval was ditons ou plaasbakkie, 'n vroeë 1970-model FJ40 Land Cruiser (wat nou nog loop asjy dit mooi vra) en 'n Cressida-stasiewa (waarvan iemand anders ongelukkig ookso baie gehou het dat dit gesteel is...).

Ek glo nie dieLand Cruiser is al ooit in sy leeftyd uit ons tuisdistrik nie. Dit was bedoel om'n werkesel te wees wat moet hout aanry, skape vervoer, beeslek help uitsit enmense neem van punt A na punt B. Dit moes bergpad ry, deur riviere in vloed -grondpad, klippe, heeldag. Soms was die Cruiser wel dorp toe, maar ek dink dielaaste keer was iewers in die vroeë 1990's.

Die Cressida wasanders. Dit was ons gesinsmotor. Dit het ons koshuis toe geneem opMaandagoggend en wanneer ons Vrydag weer plaas toe is, was die kattebak vol inkopies.In die Cressida het ons musiek geluister (jy luister nie musiek in 'n ouCruiser nie - jy luister na die Cruiser), soos kassette van Bles Bridges, LeonSchuster en Carike Keuzenkamp.

Wanneer vakansieaangebreek het en ons vir 'n slag weggegaan het, was dit natuurlik in die Cressida.Die langpad Kaap toe vir 'n neef se troue, eenkeer Kalahari toe met 'nKimberleydraai, maar meestal Noord-Transvaal toe, Warmbad se rigting, om virfamilie te gaan kuier. Dan sou die Cressida 'n Ventertjie bykry sodat diebagasie uit die pad is en ons drie kinders die groot binneruim van die kar kan geniet(en veral die kattebak).

Hartbeespoort Dam scenes, Toyota Fortuner at Union Buildings, Pretoria, Austin Roberts Bird Sanctuary, Jasmyn farm stall shop Hartbeespoort Dam scenes, Toyota Fortuner at Union Buildings, Pretoria, Austin Roberts Bird Sanctuary, Jasmyn farm stall shop (Toast Coetzer)

Welkom in die gemaksone

​In die paardekades tussen kindwees en nou ry ek steeds gereeld 'n Toyota. 'n Huurmotorhier, 'n werkskar daar, 'n oom se bakkie op 'n plaas iewers. Dit bly vir my diemaklikste kar om in te klim en dadelik te begin ry. Ek voel tuis in 'n Toyota.Ek weet waar die flikkerligte sit en waar die ruitveërs sit.

Wanneer ek eenMaandagoggend onlangs die sleutels van 'n nuwe Fortuner optel by Toyota sekantoor in Sandton, Johannesburg, keer daardie bekende gevoel terug. Soos ekmyself sitmaak in die bestuurdersitplek, is dit asof ek by familie aan huis gaansit. Die petroltenk en enjinkap se oopmaakklappiesvind ek dadelik. Wanneer ek my sitplek verstel, is daar geen twyfel oor watter knopdie sitplek vorentoe laat skuif en watter een dit meer regop laat kantel nie.

Die kajuit isstylvol, maar sonder tierlantyntjies. As jy leersitplekke in het, het jy in elkgeval nie tierlantyntjies nodig nie. 'n Kar wat ruik na leer, ruik nabesigheid. En dit sít soos besigheid. Als wat ek nodig het, is skaars 'narmlengte weg. Dit vat sekondes om my iPhone via Bluetooth te verbind. Gou-goukan ek musiek speel van my foon af, en die telefoon antwoord sonder om my handevan die stuur te lig.

Hier op die deuronder my elmboog, aan die buitekant van die Fortuner, is 'n plakker: #TellBetterStories.Dit is Toyota se slagspreuk vir die Fortuner en my plan is dat die voertuig myhierdie week - terwyl ek rondkuier rondom Pretoria, Hartbeespoort, Magaliesbergen Brits - lei na 'n paar stories.

Met diekantspieëltjies ingestel na my hoogte, die sitplek vorentoe geskuif (ek's 'nnabysitter) en my bagasie veilig in die enorme bagasieruim, ry ek by die hekuit, groet die veiligheidswag en draai noord. Skielik wens ek daar's so bietjieLeon Schuster op my iPhone. Ek kan doen met "Gauteng-eleng" vir al hierdieverkeer.

Hartbeespoort Aerial Cableway Toyotoa Fortuner Hartbeespoort Aerial Cableway Toyotoa Fortuner (Toast Coetzer)

'n Breëborsryding

​Dis eintlik 'n skande om alleen in 'n Fortuner rond te ry. Dis 'n voertuig vir 'n gesin hierdie. Die model wat ek ry, het selfs nog 'n ry sitplekke in die kattebak, wat ek sou kon afslaan indien ek my denkbeeldige kroos van vyf (of vyf en 'n half, en dalk selfs ses...) uit mekaar se hare wou hou en elkeen hulle eie sitplek gun.

Ek let op dat die lugreëling ook na agter gate het - ek wens meer motorvervaardigers wil hierdie eenvoudige dog praktiese diens lewer aan die agterryers wat altyd so sit en sweet.

Die Fortuner is natuurlik 'n veel moderner voertuig as die Cressida en Land Cruiser van my kinderdae. Dit voel luuks, soos 'n gesinsmotor wat sy sout in hierdie eeu werd is, behoort te voel. Nes die Cressida jou kerktoegaankar was, kan die Fortuner jou ook met groot grasie in jou grys pak voor die oë van die gemeente aflaai.

Maar dit is ook onmiskenbaar veeldoelig. Die enjin is dadelik diesel in sy byderwetse grom. Met 'n vol tenk (80 liter) sê die Fortuner se aanboordrekenaartjie dat ek sowat 750 km sal kan ry, mits ek myself gedra. Die rathefboom is lank maar stewig en beloof dat jy maar rof kan speel met hierdie kar. Die kort vierwielrathefboom daarnaas bied ekstra versekering: Ek kan maar Kenia toe ry, selfs in die reënseisoen. Klim uit en kyk na die wiele: dis bielies. Jy sal kan veldry, jou buurlande verken, boer met die ding én kerk toe gaan.

En dis 'n kár hierdie. 'n Meneer van 'n mouter. Toe ek deur die snelwegverkeer vleg en die R511 vat Hartbeespoort se kant toe, merk ek hoe baie ander Fortuners op die pad rondom my is. Suid-Afrikaners is lief vir hierdie ryding. Ek kan nogal gewoond raak aan hierdie gevoel, dink ek. Hierdie Fortunergevoel. Ja, 'n bietjie breëbors.

Ek ry rustig, maar wanneer ek die Fortuner vra om uit te haal en te wys is dit met die grootste gemak waarmee ek krag raaktrap en 'n ander kar binne sekondes verbysteek. Dis hierdie gevoel - dat ek gedurig nog krag in reserwe het - wat my die meeste beïndruk. Maar na watter stories gaan die Fortuner my heen lei? Wat hou die week vir my in?

Dikhololo Brits Toyota Fortuner Dikhololo Brits Toyota Fortuner (Toast Coetzer)

Rondom die dam

​Die beste ding van reisjoernalis wees is dat jy g'n keuse het nie: Jy sál nuwe mense ontmoet op jou reis. Elke dag. Sonder die mense wat jou pad kruis - en die stories wat hulle jou amper per abuis vertel - gaan jou reise 'n hol gejaag van een toeristeaantreklikheid na die volgende wees.

Hartbeespoortdam maak in die loop van die week vir my sy storiedeure oop. Al word groot dele van die oewer van die dam deesdae deur eksklusiewe landgoedere beset (ek het by iemand gaan kuier wat huis gebou het in een - glo my, dis 'n lekker plek om 'n huisie by die "see" te hê), het die dorpies rondom die dam tog elk hulle eie persoonlikheid behou.

Jy moet soms net 'n bietjie langer stilsit in 'n koffiewinkel in Schoemansville om die karakter daarvan raak te sien en te begin waardeer. In Schoemansville se ou deel is groot bome, en wanneer die winterson al begin wegraak agter die Magaliesberg - want Schoemansville lê mos téén die berg - dan kry die strate 'n koel, lewendige energie.

Laatmiddag is ook 'n goeie tyd om die kabelkar te vat tot bo-op die berg. Hiervandaan kan jy die landskap mooi uitpluis. Die dam hier naby, en Schoemansville. Dan die buurt wat hulle Ifafi noem, dan Meerhof waar 'n skerp oog die groot windmeul van die Jasmyn-restaurant en plaaswinkelkompleks sal uitmaak. Die R511 wat by Saartjie se Nek buite sig verdwyn, terug Johannesburg toe.

In die verte se deinserigheid iewers lê Broederstroom en Skeerpoort, dan Kosmos weer teen die Magaliesberg se kant, en Damdoryn, net buite sig skuins agter my. Dié damdorpies raak diep rustig sodra jy naby die water kom. 'n Bootvaart daar van Kosmos af kan jou al om die rand van die dam neem - dis die beste manier om die oewerbuurte (en die soms paleisagtige huise) te beloer.

Net noord van Damdoryn se bedrywige vierrigtingstop (die fokuspunt van die dorpie) is Chameleon Village, 'n versameling curiowinkels waar jy iemand van byna elke land in Afrika sal ontmoet. Dis 'n goeie plek vir stories daai (en geskenke koop), en 'n paar dae later staan ek 'n uur lank en gesels met van die mans en vroue wat hulle ware daar uitstal.

Elke nou en dan bring een vir my iets - 'n swaar houtsneemasker, 'n groen seepsteenbeeld, 'n rooi Masai-kleed. Elke liewe item dra sy eie storie, dink ek, en wens ek kon saam met hierdie masker, beeld of kleed terugreis na die plek en tyd waar dit gemaak is. Wat sou ek daar sien? Wie sou ek daar ontmoet? Hoe ruik dit daar? Wat hoor 'n mens? Ons vergeet soms hoe die artikels om ons - sommer gewone goed, soos messe en vurke wat ons in die huis gebruik, maar al vergeet het dat dit oumagrootjie-erfgoed is - hulle eie, stil stories dra.

Bosveld toe

​Die Fortuner enek ry lekker. Ons skiet selfs deur Pretoria toe vir 'n bietjie kuns: 'n Aand vananimasieflieks by 'n kunstenaarsneef se huis. Dan's daar ook tyd vir 'n besoekaan die Uniegebou - noem dit maar 'n ampsbesoek.

En ek ontmoet 'npaar vriende by die Austin Roberts-voëlpark waar ons rustig sit en kyk na watervoëls,bloukraanvoëls en twee dikkoppe wat hulleself so goed kamoefleer dat jy net hulleoë kan sien wanneer dié beweeg.

Maar dit is alsteerpad se ry. En hierdie Fortuner wil grondpad ry, ek kan dit voel. Toe 'nvriendin dus laat val sy en haar ouers hou 'n week lank vakansie by Dikhololoanderkant Brits, besluit ek om myself te nooi.

Net noord vanBrits, daar by Rashoop, draai ek af op die grondpad. Die Fortuner is dadelikdolgelukkig. Dis soos om jou hond skielik 'n stuk biltong te gee nadat dit virdae lank net hondepilletjies moes afwurg.

Dikhololo is makkerigeBosveld, maar nietemin steeds Bosveld. Hier's baie wild - sebras draf nabyontvangs rond, elders staan koedoes ongestoord en vreet skaars meters van diepad.

Ons gaan eet bydie restaurant, waar 'n eenbeenneushoringvoël, 'n paar winterdragvinkies enraserige mikstertbyvangers ons geselskap hou (maar heeltyd vir die tjips in onsbord kyk...). Dan ry ons na 'n uitkykpunt, en klim tot bo-op die rotskoppie.Onder ons lê die oord, doer sien ek 'n strepie blou van die swembad by dierestaurant waar ons pas gesit het. 'n Paar mense draf al met die paadjies langs. 'n Tiener wat alleentyd soek,sit op die klip naby ons. Onder by die watergat wag mense vir wildsbokke om tekom drink.

Stemme dryf metdie middagluggie na ons toe op. Hierdie is 'n vreedsame familieplek, 'nversamelpunt vir familiestories. "Sal ons 'n draai gaan ry?" vra ek my vriendin."Maar natuurlik," antwoord sy.

SYFERS TOYOTA FORTUNER D-4D 4x4

Enjin 3.0liter-turbodiesel

Ratkasvierspoed-outomaties

Krag 120 kW

Wringkrag 343 Nm. 0-100 km/h 11,7sek.

Topsnelheid 175km/h

Verbruik 8,5l/100 km

Tenk 80 l

Waarborg 3jaar/100 000 km

Diensplan 5 jaar/ 90 000 km

Diensintervalle10 000 km

Maksimumsleepgewig 2 000 kg

Grondvryhoogte220 mm

Weg

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM