Motors

Jeep Wrangler Rubicon 3.8 V6

Hy's kort en fris - die vierwielekwivalent van 'n woelige haker. En hy skrik g'n vir veldry nie, sê Jaco Kirsten.

​Hoe verskil die Wrangler van ander Jeeps?

Die Wrangler is die taaiste, ratsste en bekwaamste veldryer in die Jeep-stal. Jy kan sy geskiedenis terugspeur na die oorspronklike Willys Jeep van die Tweede Wêreldoorlog.

Is alle Wranglers nie maar dieselfde nie?

As jy mooi na die brosjures kyk, is daar nogal groot verskille. Die tweedeur-Wranglers word net Wranglers genoem. Die vierdeurmodelle staan egter bekend as die Wrangler Unlimited.

Die Wranglers het drie spesifikasievlakke. Eers kry jy die intreevlak Wrangler Sport, wat net te kry is met die 3,8 liter-V6-petrolenjin en 16 duim-wiele. Dan kry jy die Sahara-modelle, wat ook met 'n 2,8 liter-turbodiesel te kry is en almal 17 duim-wiele dra. En dan kry jy die Rubicon - die Groot Pappa-veldryer in die Wrangler-reeks.

Wat is uniek aan die Rubicon?

Kom ons begin by sy naam. In die Sierra Nevada-bergreeks in Kalifornië kry jy die wêreldbekende Rubicon Trail. Dis sowat 25 km lank, maar dit gaan jou 'n hele dag vat om klaar te maak - as alles goed gaan. Die klippe is so groot soos kleinhuisies en goed soos grondvryhoogte, wielartikulasie en vastrapvermoë is absoluut noodsaaklik. Dis dié stuk rotsbesaaide aarde waarna hierdie Wrangler genoem is.

Deur hom die Rubicon te noem sê Jeep dat hy gebou is met die vermoëns om dié soort terrein te kan hanteer.

Afgesien van die Jeep-resep van vaste aste met kronkelvere en 'n kort asafstand, het hy 'n ewenaarslot op die voorste en agterste as. Boonop is daar 'n skakelaar om die teenrolstawe teen snelhede onder 29 km/h te ontkoppel vir nóg beter wielartikulasie. Volgens Jeep stel dit die huidige Wrangler in staat om sy wiele 22% meer te artikuleer as die vorige Wrangler-reeks.

Dan is daar sy Rock-Track®-laestrekratkas wat 'n 4:1-ratverhouding het. Sy kruipverhouding is dus 'n ongelooflik lae 73,3:1, wat die Rubicon in staat stel om teen net 0,8 km/h oor goed te luier. Dis vrekstadig. Vergelyk dit met 'n Hilux D-4D 4×4-handrat se kruipverhouding van sowat 39:1.

Is hy regtig so goed in die veld?

Ja, hy is. Tydens ons toetslopie het ek probeer om hom te laat "hang" oor skerp hindernisse, maar sy kort asafstand het beteken dat ek dit nie kon regkry nie. Teen steil opdraandes met groot gate het ander voertuie se wiele gate uitgegrawe, maar die Rubicon het moeiteloos bo-oor geluier met ewenaars wat gesluit is.

'n Mens het naderhand in ongeloof begin giggel so maklik was dit. Waar die Unlimited op papier amper net so goed is, veroorsaak sy langer asafstand dat hy wel oor sekere gepunte hindernisse kan "hang" - soos ek al tot my eie verleentheid ervaar het.

En op die teerpad?

Kyk, jy gaan nie sommer een sien 'n baanrekord op Kyalami verpletter nie. Daarvoor is die vering te veel gemik op veldry. Die stuur is ook effens vaag, maar ons praat hier van 'n rasegte veldryer en nie 'n renmotor nie.

Daar is deesdae maar min voertuie op die mark oor wat robuuste onderstelle soos dié het. Jy kan eintlik nog net kyk na 'n Defender, Land Cruiser 70-reeks, 'n Patrol en die nuwe G-klas Mercedes-Benz. En nie een van hulle is danig "skerp" op die teerpad nie.

Die goeie nuus is dat die Wrangler Rubicon elektroniese stabiliteitsbeheer het wat beteken dat die elektronika jou bas sal kan red as jy iewers op die teer (of lekker grondpad) skielik agterkom jy't jou rytalent oorskat.

En die enjin?

Die 3.8 petrol-V6 is glad nie sleg nie. Toegegee, met moderne turbodiesels is ons gewoond aan 10 liter per 100km brandstofverbruik en met die Rubicon kan jy verwag om sowat drie liter meer per 100km te gebruik. Hy ontwikkel 146 kW en 315 Nm en as jy met dié klein bakwerk nog krag nodig het, is jy seker besig om 'n helse duin te ry.

Die Rubicon het 'n sesgang-handratkas. Dit het nou en dan 'n bietjie moeite gekos om tussen 4H en 4L met die hefboom links van die ratkierie te skakel, maar as jy eers leer om hom vir 'n paar sentimeter vorentoe te ry, in neutraal te skakel en wéér te probeer, raak dit al makliker.

Hoe lyk die binneruim?

Jeep het pas vir die Wrangler 'n splinternuwe spiekeries binneruim gegee wat nogal baie herinner aan dié van die nuwe Grand Cherokee. Die algehele indruk is een van luuksheid en dis moeilik om te glo dat die tawwe spartaanse ou Wrangler binnelangs nou so luuks is.

Ongelukkig is die afhaaldak - Jeep noem dit 'n "Freedom Top" - nogal 'n raserige affêre as jy vinniger as 100 km/h ry. Dis gelukkig heeltemal wind- en waterdig, maar omdat die Wrangler die aërodinamika van 'n baksteen het en die dak geen klankdigtingsmateriaal aan sy binnekant het nie, is dit allesbehalwe stil. Jy raak dit ook gewoond, maar bring eerder die Foo Figters CD's en los die Pavarotti vir die hoëtroustelsel by die huis, want jy sal hoogstens die boonste note van Nessun Dorma kan uitmaak.

Die Wrangler het - nes 'n Land Rover Defender - nogal 'n regop voorruit wat jou laat voel of jy in die een of ander pantservoertuig ry. As jou voete by die pedale uitkom, sal dit vir jou voel of jy téén die instrumentepaneel sit. Maar ná 'n dag of twee pla dit nie meer nie.

Maar hy't net twee deure…

Die Wrangler het vier lekker sitplekke, maar as jy agter wil inklim, moet jy die voorsitplekke vorentoe skuif, nes met 'n koepee-tipe motor. Al is daar genoeg beenruimte agter vir 'n standaardgrootte grootmens, kos dit mooi mik om in te kom en jy sal moet kies tussen vier insittendes en geen pakplek of twee passasiers mét pakplek.

Uiteindelik moet jy kies tussen die formidabele veldryvermoëns van die Wrangler met sy twee deure en die meer praktiese Wrangler Unlimited met sy vier deure - maar ten koste van 'n bietjie veldryvermoëns. Onthou net, ons praat van Wranglers en hierdie kompromis is relatief, want die Unlimited gaan nog steeds die meeste ander veldryers opdraande gee.

En die gevolgtrekking?

Dis moeilik om nie erg beïndruk te wees met die Wrangler se fenomenale veldryvermoë nie. En as jy eerlik is, moet jy erken dat sy voorkoms nogal lekker wintie is. Dis regtig iets anders in 'n mark waar die alomteenwoordige Japannese bakkie so half en half die vanselfsprekende keuse geword het.

Sleutelsyfers

Enjin: 3 778 cc; V6-petrol

Krag: 146 kM @ 5000 r/min

Wringkrag: 315 Nm @ 4000 r/min

Topsnelheid: 180 km/h

0-100 km/h: 9,6 sek.

Transmissie: Sesgang-handrat, deeltydse vierwielaandrywing, hoë- en laestrek

Vering: Vaste aste, kronkelvere, ontkoppelbare kantelstawe

Remme: Skyfremme

Bande: 245/75R17

Grondvryhoogte: 259 mm

Naderingshoek: 38,4º

Vertrekhoek: 31,4º

Dompeldiepte: 483 mm

Voertuigmassa: 1755 kg

Brandstoftenk: 72 liter

Brandstofverbruik: 12,2 liter/100 km (gekombineerde siklus)

Waarborg/onderhoudsplan: 3 jaar/100 000km; 3 jaar/100 000km

Diensinterval: 12 000km/1 jaar

Prys: R369990

Oorweeg ook: Land Rover Defender 90 - R352 000

WegRy sê:

Die Wrangler se veldryvermoëns én sy mededingende prys gee vir jou 'n ryding wat nie net lekker houding het nie, maar ook goeie finansiële si

n maak (wel, dis wat jy vir jou vrou kan sê).

Marilize Nel

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM