Die Mitsubishi Pajero Legend is allesbehalwe 'n doodgewone Pajero. Gerrie van Eeden het hom van nader bekyk.
Om die dertigste bestaansjaar van die Pajero te vier, het Mitsubishi einde laas jaar 'n Legend-weergawe met R120 000 se ekstras van Safari Centre bekendgestel. Maar voor jy die vasteland platry, sal jy dalk eers 'n paar goed moet oorweeg.
Begin by die begin
Die Mitsubishi Pajero Legend-weergawe het steeds dieselfde 3,2 liter-turbodieselenjin wat 140 kW teen 3 800 r/min. en 441 Nm teen 2000 r/min. ontwikkel. Dit het 'n vyfgang- outomatiese ratkas met deeltydse vierwielaandrywing en laestrek. Dit het ook 'n ewenaarslot op die agterste as.
Wat kry die Legend ekstra?
Al die bybehore en ekstras is standaard en ingesluit by die prys. Aan die voorkant sit 'n vlekvryestaal-Mitsubishi-stampstaaf met twee LED-kolligte op. En as jy regtig deur diep water moet ry, weet jy dit het 'n Safari-snorkel op.
Die Mitsubishi Pajero Legend loop met Goodyear Wrangler-veelterreinbande. Vir stampe en stote van onder kry dit 'n pensplaat en rotsglystawe om die enjin en bakwerk te beskerm. Op die dakrak is daar 'n gassilinder en twee jerrykanne (een vir water en een vir diesel) en hy het ook 'n aluminiumkamptafel wat onder die dakrak inskuif.
Aan die kante van die dakrak is 'n hoogligdomkrag en graaf. Selfs al is daar geen hoogligdomkragpunte nie, het Safari Centre 'n verlengstuk vir die hoogligdomkrag gegee wat aan 'n wiel kan vashaak om die voertuig op te lig.
Onder die enjinkap is 'n dubbelbatterystelsel en 'n Thomas-kompressor ingebou. Die pyp vir die kompressor is in die herwinningsak saam met 'n kinetiese tou, boogskakels, bandherstelstel en leerhandskoene. Die Legend het ook 'n Garmin-GPS, banddrukmonitor en pasgemaakte seilsitplekoortreksels.
Om alles te kroon is daar 'n National Luna 50 liter-ys/vrieskas in die laairuim en twee kampstoele. Die enigste probleem met die uitleg hiervan is dat die yskas reg in die middel van die laairuim staan. Jy moet dus jou pak ken om die stoele en ander bagasie hierom in te pas.
Gevolgtrekking
Die ekstras is glad nie sleg nie en jy kry dit boonop teen 'n stewige afslag (R120 000 se waarde teen R90 000 meer as die standaardprys). Buiten ordentlike hoogligdomkragpunte en 'n tent om in te slaap, is die Pajero reg vir jou volgende uitstappie die boendoes in.
Al is die onafhanklike vering voor en agter saam met die buisromponderstel dalk nie die beste as dit by regte rowwe terrein kom nie, help die pensplaat, rotsglystawe en agterste ewenaarslot dat dit ook nie die slegste is nie.
Die Pajero kos R619 900 (ekstras ingesluit). Dit is die vierde generasie wat al sedert 2006 gemaak word. Vir amper net soveel kan jy 'n Toyota Prado 3.0 D-4D TX vir R612 500 sonder ekstras kry. As jy die Pajero sonder die ekstras koop, kos hy R529 900 en vir 'n rapsie meer kan jy 'n Nissan Pathfinder 2.5 DCi LE teen R546 150 opraap - sonder ekstras. Of jy dus van hom hou of nie; jy moet erken dis 'n goeie kopie.
Sleutelsyfers van die Mitsubishi Pajero Legend:
- Enjin: 3200 cc, viersilinder-turbodiesel
- Krag: 140 Kw @ 3800 r/min.
- Wringkrag: 441 Nm @ 2000 r/min.
- Topsnelheid: 185 km/h
- 0-100 km/h: Nie beskikbaar
- Transmissie: 5-gang handrat, deeltydse vierwielaandrywing, laestrek
- Vering: Dubbele mikvere voor; onafhanklike veelskakel met kronkelvere agter
- Remme: Skywe voor, trommels agter
- Bande: 265/65 R17
- Grondvryhoogte: 235 mm
- Naderingshoek: 36,6°
- Vertrekhoek: 25°
- Dompeldiepte: Nie beskikbaar
- Gewig: 3 030 kg
- Sleepvermoë: 3 300 kg (gerem)
- Brandstoftenk: 88 liter
- Brandstofverbruik: 9,3 liter/100 km
- Waarborg; diensplan: 3 jaar/100 000 km; 5 jaar/100 000km
- Prys: R619 900












