Motors

Nissan Pathfinder 2.5 dCi

Die Nissan Pathfinder was nog nooit bekend as 'n goedkoop ryding nie. Maar twee nuwe modelle het nou sake effens deurmekaargekrap, skryf Jaco Kirsten.

​Toe ons hoor dat Nissan twee intreevlak-Pathfinders, bekend as die SE-reeks, bekendgestel het, was die eerste reaksie: "Hoekom nou eers?"

Die prys…

In die mark vir sportnutsvoertuie wat bakkies in hul DNS het, slaan die Toyota Fortuner (wat op die Hilux geskoei is) hard en duidelik die kitaar, met ander mededingers soos die Chevrolet Trailblazer (Isuzu-bakkie) en Mitsubishi Pajero Sport (Triton) om uit te kies.

Hoekom dink so min mense aan die Nissan Pathfinder wat op die Navara-bakkie gegrond is? Wel, die antwoord is voor die hand liggend: Teen R602 100 vir die 2.5 dCi outomaties sou min mense hom kies bo die Fortuner-4×4-outomaties (R476 700), die Trailblazer 2.8 4×4 (R463 600) en die Pajero Sport outomaties (R445 900).

Trouens, hy't eintlik meer meegeding met die goedkoper Toyota Prado's, Land Rover Discovery 4's en Jeep Grand Cherokees. En daar het hy weer nie noodwendig die prestige vir sommige kopers gehad nie, selfs ontwikkel die 3.0 dCi V6 (die V9X) 170 kW en 550Nm vir R702 000.

Die 2.5 dCi Pathfinder LE se 140 kW en 450 Nm beteken hy't die meeste krag, met die Trailblazer se 132 kW en 470 Nm wat hom 'n kortkop met wringkrag wen. Hoekom dus amper R140 000 méér betaal vir 'n Pathfinder?

Met die pryse van die nuwe, meer bekostigbare SE-modelle - R454 500 vir die sesganghandrat en R475 200 vir die vyfgang- outomaties - kyk jy nou na iets wat nie net goedkoper as die Fortuner is nie, maar hom op 'n hele paar punte ore aansit. Bekostigbaar is natuurlik relatief vir ons almal wat al begin kopkrap oor die prys van skaaptjops vir die naweek se braai…

Onder die enjinkap

Die Pathfinder se 2,5 liter-turbodiesel met sy 140 kW en 450 Nm is een van die beste enjins in hierdie segment. Dit geld ook vir bakkies, waar daar 'n Navara met dieselfde enjin is. Sy verplasing beteken dat hy net mooi tussenin die Amarok se kleiner 2 liter-enjin en die Hilux/Fortuner se 3 liter-enjin val, met kraglewering wat van die hoogste is.

Die Pathfinder SE-handrat het ses ratte (teenoor die Fortuner, Pajero Sport en Trailblazer se vyf) terwyl die outomatiese model wat ons getoets het vyf ratte het teenoor die Fortuner se vier, die Trailblazer se ses en die Pajero Sport se vier. Weereens is dit net die Trailblazer wat iets beters bied.

Die ander voordeel van die Pathfinder se 2,5 liter-turbodiesel is sy goeie brandstofverbruik as jy jouself daarvan kan weerhou om te lepel te diep weg te trap. Nissan maak aanspraak op 9 liter/100km (8,5 liter/100km vir die handrat). Nou ja, almal weet jy kan in die werklike lewe tot 25% by vervaardigers se amptelike syfers bylas, maar dan moet jy in gedagte hou dat sy mededingers almal aanspraak maak op amper 10 liter/100km. Hy behoort hulle dus nog steeds te klop.

Binneruim

Die Pathfinder se binneruim vergelyk baie goed met dié van die Fortuner, Mitsubishi Sport en die Trailblazer. Trouens, die Fortuner en Pajero Sport se stilering steek eintlik 'n bietjie af teen die Pathfinder SE. Dis te verstane omdat die ander voertuie almal al 'n paar jaar oud is. Hou egter ook in gedagte dat die Pathfinder self 'n paar jaar oud is.

Hier is oorgenoeg plek vir selfs die grootste passasiers en Nissan het agterin op 'n paar plekke ekstra laaiholtes onder die bekleedsel weggesteek sodat selfs 'n dief nie op jou skootrekenaar of geheime voorraad mampoer sal afkom nie.

Só ry hy…

Die Pathfinder is die enigste van hierdie rygoed wat onafhanklike vering op al twee aste het en op die pad is dit opmerklik hoe dit sy hantering verbeter deur beter op ongelykhede in die pad te kan reageer. En nie net op die pad nie, ook op sinkplaatpaaie, waar hy homself baie beter as 'n ryding met 'n vaste as agter gedra.

Sy meer gevorderde tegnologie strek ook so ver as die feit dat hy nie 'n ewenaarslot het nie, maar eerder elektroniese vastrapbeheer. (Bygesê, die ander kandidate kan nie een as baie high tech beskryf word nie.) Nissan noem hierdie stukkie toerusting Active Brake Limited Slip (ABLS).

In die veld help sy grondvryhoogte van 232mm en redelik goeie naderings- en vertrekhoek ook. Niemand sal voorgee dat die Pathfinder 'n hardebaard-4×4 is nie, maar as jy hom teen sy mededingers meet, is daar geen rede waarom hy nie dieselfde kan doen as elkeen 100% standaard is nie.

Die ander voordeel van sy onafhanklike vering is natuurlik dat indien jy sy suspensie sou lig, sy effektiewe grondvryhoogte - m.a.w. die afstand van die grond na sy pens - voor én agter verbeter.

Gevolgtrekking

'n Mens wonder hoekom Nissan nie jare gelede al die SE-modelle bekend gestel het nie. Terwyl dit 'n onbetwisbare feit is dat daar baie veldrytoebehore beskikbaar is vir die Toyota Forturner, Pajero Sport en hopelik binnekort die Chev Trailblazer, is dit ook so dat 90% van alle eienaars redelik maklike paaie en roetes ry.

Vir diegene wat op soek is na 'n DKW-ryding (dans, kerk en werk) as alternatief vir die Fortuner, Trailblazer en Pajero Sport, kon die Pathfinder SE-modelle nie op 'n beter tyd gekom het nie.

WegRy sê: Ondernemings soos AA Off-Road in Pretoria bou Pathfinders om vir hárde veldry. Gaan maak dus maar jou sommetjies voordat jy sê 'n Pathfinder "kan nie kers vashou by 'n Fortuner (of Pajero Sport/Trailblazer) nie". Ek sou dit nie sommer met 'n duurder LE-model doen nie, want hy is darem net té luuks, maar die SE lyk asof hy perfek is vir sulke ombouings.

Sleutelsyfers

Enjin: 2488 cc, viersilinder, turbodiesel

Krag: 140 kW @ 4000 r/min.

Wringkrag: 450 Nm @ 2000 r/min.

Topsnelheid: 186 km/h

0-100 km/h: 10,7 sek.

Transmissie: 5-gang outomaties, deeltydse vierwielaandrywing, hoë- en laestrek, elektroniese vastrapbeheer

Vering: Onafhanklik voor en agter

Remme: Skywe voor en agter

Bande: 255/65 R17

Grondvryhoogte: 232 mm

Naderingshoek: 30º

Vertrekhoek: 26º

Dompeldiepte: 450 mm

Gewig: 2 090 kg

Sleepvermoë: 3 000 kg (gerem)

Brandstoftenk: 80 liter

Brandstofverbruik: 9 liter/100 km

Diensinterval: 15 000km

Waarborg; diensplan: 3 jaar/100 000 km; 3 jaar/90 000km

Marilize Nel

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM