In ’n neutedop: Wie onthou nog vir Brent Russell? Want dis waaraan jy dink as jy na die Suzuki SX4 4x4 kyk. Is dit ’n veldryer? ’n Parmantige luikrug? ’n Stadsmotor? Of dalk ’n kombinasie van al drie?
Streng gesproke is dit nie ’n rasegte Suzuki nie, want hy’s eintlik ’n Fiat Sedeci met ’n Suzuki-wapen. Maar Fiat ken van klein 4x4’s. Dink maar aan die Panda, ’n werklik goeie ryding wat, vreemd genoeg, nooit werklik Suid-Afrikaners op hol gehad het nie. (Tot jy die Suzuki-badge opplak – Red.)
... en as jy ’n bietjie verder krap: Die SX4 staan maar 17,5 cm bo die grond, maar hou in gedagte dat hy net so hoog is soos die Hyundai iX35.
Met behulp van ’n skakelaar kan jy kies tussen voorwielaandrywing, “Auto,” waar krag outomaties na die agterwiele gestuur word as die voorwiele sou tol, en “Lock”, wat die krag in ’n 50:50-verhouding tussen die voor- en agterwiele verdeel. Ry jy vinniger as 50 km/h, skakel hy vanself terug van “Lock” na “Auto”.
Die 2-liter-enjin ontwikkel 112 kW krag en 190 Nm wringkrag. Hoewel dit nie genoeg is om mee te ploeg nie, kan jy aanstaltes maak as jy die toere ’n bietjie opjaag.
Hantering is lekker rats in die stad en die binneruim is eenvoudig en duursaam, eerder as luuks. Maar standaardtoerusting sluit in goed soos ses lugsakke en elektroniese stabiliteitsbeheer. Aan die negatiewe kant was beenruimte agter effens knap en was die brandstofverbruik effens swaarder as wat ons verwag het.
WegRy sê: Die SX4 AWD is nie net ’n praktiese stadsmotor nie, maar as jy jou gesonde verstand gebruik, sal jy 95% van al die grondpaaie in Namibië met hom kan ry.
Enjin:
1 995 cc in-gelid viersilinder,
112 kW @ 6 200 r.p.m.,
190 Nm @ 4 000 r.p.m.
Transmissie:
sesganghandrat, deeltydse vierwielaandrywing, elektroniese stabiliteitsbeheer.
Verrigting:
184 km/h topsnelheid,
7,7 liter/100 km
Veldsyfers:
17,5 cm grondvryhoogte,
17º-naderingshoek,
30º-vertrekhoek,
205/60 R16-bande,
50-liter-brandstoftenk,
1245 kg
Waarborg: 3-jaar
Diensplan: 6-jaar/90 000 km
Diensintervalle: 15 000 km
Prys: R229 500
Alternatiewe: VW CrossPolo, Nissan Qashqai, Peugeot 308
WR#18 | April-Mei 2010SUZUKI SX4 | Getrou aan ’n belofte
Toe die SX4 die eerste keer in 2008 bekendgestel is, was die aanname – gegrond op die naam – dat dit ’n “crossover”-luikrug sou wees. Maar dis plaaslik bekendgestel sonder enigiets wat ’n mens sou kon beskryf as “4x4”-kenmerke.
Dis nie te sê daar was iets verkeerd met die ou voorwielaangedrewe SX4 nie – dis net dat die belofte in die naam nooit vervul is nie.
Tot nou. Die nuwe SX4 het nie net dié belofte vervul nie, maar sommer ook die hele pakket verbeter.
Die nuwe SX4 – beskikbaar in handrat-, outomaties- of deeltydse AWD- (handrat) modelle – gebruik steeds dieselfde viersilinder-2 liter-enjin as voorheen, net ’n verbeterde weergawe daarvan.
Dié 2 liter-enjin was nog altyd ’n stewige kragbron vir so ’n klein voertuig, maar die verbeterde enjin lewer nou 112 kW (voorheen 107) en 190 Nm (voorheen 184).
Die handratmodel het ’n sesspoedratkas in plaas van die vorige vyfspoedratkas, terwyl die outomatiese ratkas vervang is met sesspoed-palwisseltransmissie (CVT) met opvolgende wisseling (sequential shift) en ratspane op die stuurwiel.
In die AWD-model, wat ontwerp is vir wat Suzuki noem “onvoorspelbare terrein”, kan jy kies tussen ’n 2WD- of AWD-verstelling.
Maar moenie dat die “4x4” op die agterkant van die AWD jou ’n rat voor die oë draai nie – dit het nie dieselfde veldryvermoëns as sy grootboet, die Jimny, nie.
Bygesê, hy staan sy man op grondpaaie. Met die AWD-stelsel wat wringkrag verskuif tussen die aste soos benodig, kan jy vastrap en rygerief verbeter met bloot die druk van ’n knoppie.
Buiten dít alles het die SX4 nóg 20 nuwe kenmerke, onder meer 16”-allooiwiele, ’n drukvlerk in dieselfde kleur as die voertuig (die AWD-model), nege luidsprekers, spoedbeheer en lugversorging.
Hoeveel?
2.0 SX4 handrat: R209 500;
2.0 SX4 CVT: R224 500;
2.0 SX4 i-AWD: R229 500.
Dit sluit in ’n standaard 6 jaar-/90 000 km-diensplan, 3 jaar-/100 000 km-waarborg en 3 jaar-padbystand in.












